Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.9.17

Des Erasmus (deel 2 van 2): Die kuber-kommunikasie dien slegs as “teasers”


HENRIETTE LAMPRECHT skryf: Des Erasmus erken hy was baie dae weg van die huis in sy loopbaan as joernalis en soms lang dae en lang nagte waarin die kleinspan soms net gesien is wanneer hulle reeds slaap of nog slaap. Van goeie aftye saam is supertye gemaak.

Soms is hy weggeroep wanneer hulle saam op pad na ‘n lekker plek was. Daar was tog verstaan, sê hy “hoewel klein seuntjies en ‘n meisietjie se vingertjies soms deur die ogiesdraad van die voorhekkie gedruk was waar hulle staan en wag het”.

Des Erasmus
Emosies, verliese en die dood? Dit is goed wat nie vir die mens is om te verstaan nie, maar net om te aanvaar, sê Des.

Daar is daagliks stories wat hy wens hy geskryf het, veral wanneer hy sien hoe ‘n jonger geslag joernaliste “met die goue stof mors”.

Self is die beroep ‘n mentor. Nuusmanne is nie net boodskappers nie, hulle besin ook oor hoe ‘n boodskap gedra gaan word.

“Juis Afrikaans word in die joernalistiek deur die internasionale Engels bedreig. Daarom moet taalsuiwerheid elke keer ‘n bydrae tot die behoud van die lingua franca, die gebruikstaal wees.” Kommunikasie tussen hom en die lesers het Des geleer “om hulle lief te kry”.

“Dis ‘n gesindheid wat vir altyd bly en verby uitspantyd sal voortleef.”

Die geskrewe media het nie verander of verdwyn nie. Daar was wel ‘n klemverskuiwing, sê Des.

“Die kuberkommunikasie dien net as "teasers". Van die kanale van die sosiale media is so onbetroubaar, dat ‘n koerant eintlik gekoop moet word om agter die kap van die byl te kom. Maar dan moet jou inligting korrek wees en die storie moet vloeiend lees. Amper soos prosa. Die Engelse joernalistiek praat van "headings and stories must ring”.

Sy pad met Republikein het diep wortels, nadat hy ná 16 jaar by Die Suidwester en ses jaar by die radio op 27 Januarie 1981 hier begin. Hier was hy buiten as verslaggewer ook in verskillende redakteurshoedanighede betrokke, ook hoof van publiksies van die koerantgroep van DMH en toe die Sondagkoerant Tempo se hoof. As sub eers tweede sub, toe hoofsub en ook vele kere nuusredakteur.

Die eerste verering vir sy werk is in 1978 vir die koerantreeks (Die Burger, Volksblad en Oosterlig benewens Die Suidwester self) en vir die ses aflewerings van die Nangolo-dossier met plaasaanvalle en -moorde in die bevrydingstryd as hooftema. Hy word met die KWV-prys beloon, nadat kollegas hom inskryf.

Die afgelope byna 18 jaar was Des aan Erongo op Swakopmund verbonde, ‘n streekspublikasie as invoegsel tot Republikein.

Dié publikasie van die destydse Democratic Media Holdings word in 2004 in die Sanlamkompetisie as die beste publikasie in die gemeenskapspers van Suidelike Afrika aangewys. In 2000 wys Sanlam Des as die gemeenskapspers se Joernalis van die Jaar in Suider-Afrika aan.

Des ontvang een van sy vele toekennings.
Die ATKV vereer ook vir sowel Des as sy vrou Anneli en mede-joernalis met die status van Afrikoon. Verlede jaar beloon die ATKV hom met die hoogste toekenning van ‘n oorkonde. Saam met Anneli staan die toekennings op altesame 92.

Hy en Anneli as tweemanspannetjie wat laat in die nag by die laaste deurnagwinkeltjie op pad na Windhoek ‘n geleentheid soek vir ‘n pakkie foto’s en kopie vir ’n volgende publikasie. Die pleit by ‘n vlieënier om die einste pakkie tog saam te neem.

Daar word weer op ‘n seiltjie onder die sterrehemel van die Aminuis geslaap, twee nuusmanne hardloop weer in die middel van die nag by Asab in mekaar vas wanneer ‘n trein oor die brug stoom waaronder hulle slaap. Op Lüderitz word weer alleen agtergebly om ‘n “lift” na Windhoek te soek, nadat die fotograaf met hul pakkie terug is na die nuuskantoor. Uiteindelik was die geleentheid saam met wyle Anton Lubowski in sy huurvliegtuig van Lüderitz na Windhoek.

“Kry ek die kans, sal ek dit weer doen. ‘n Voormalige president van Amerika het gesê: ‘Jy word nie aan die jare in jou lewe gemeet nie, maar wel aan die lewe in jou jare’”.

Wat min mense van hom weet, is dat hy ‘n bobaas broodbakker is, verklap Anneli. Wanneer stres en werksdruk op sy ergste is, vrees sy daai oproep slaghuis toe waar Des vleis en vet en derms bestel.

“Dan word daar wors gemaak en ek kou my naels af oor hoe ons betyds ons spertye gaan haal. Hy het verskeie worsresepte wat hy op sy reise deur die land versamel het en ook sy eie wat hy saamgeflans het – die een so liplekker soos die ander.

Die laaste woord oor hom, behoort aan Anneli.

“Niks kry hom sommer onder nie. Hy moes meer as een steil bult in sy lewe uit, daar was baie hartseer, maar hy het nooit bevraagteken hoekom juis hy nie. Hy het ‘n diep gewortelde geloof. Woorde en werk is dikwels sy vertroosting.”