Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.5.17

Van plaaswerf tot paleis

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n Mens is nooit te oud om te leer nie, het ek opnuut besef nadat ek Japie Bosch se artikel, Perskor was g'n in Aucklandpark (klik HIER), gelees het.

Hy skryf dat die ou Perskor-gebou in Braamfontein-werf geleë was, en nie in Aucklandpark nie. Dit het ek nooit besef nie, ten spyte daarvan dat ek 23 jaar lank in Aucklandpark gewoon het! Ek het sommer dadelik met nuwe oë na die padkaart gekyk.

Braamfontein-werf. Dis vir my darem so 'n lekker nostalgiese, ouwêreldse naam, wat by 'n tyd hoort toe Johannesburg nog plaaswêreld was, met yslike plaashuise en -werwe.

Braamfontein, Braamfontein-werf, Aucklandpark en omgewing was donkiejare gelede deel van 'n plaas genaamd Braamfontein, wat van 1853-1858 aan Gert Bezuidenhout behoort het. Dit was 'n gróót plaas en het vermoedelik sy naam gekry omdat 'n fontein, moontlik die Braamfonteinspruit, daar uit 'n braambos gevloei het.Lang storie verkort:

Soos dit dikwels daardie jare met plase op die Witwatersrand gebeur het, is Braamfontein-plaas onderverdeel en verkoop en heel gou het verskeie mense dele daarvan besit. Mettertyd het hierdie plase in die hande van ontwikkelaars beland, wat natuurlik tot die ontstaan van Johannesburg se voorstede gelei het.

Een daarvan is Braamfontein-werf.

Ou Johannesburg se plase
Tot my spyt was inligting oor hierdie buurt se geskiedenis amper net so skaars soos hare op 'n skilpad se dop. Maar in haar boek, Johannesburg Street Names, noem Anna H Smith dat dit op 22 September 1914 tot 'n woongebied verklaar is en dat die naam waarskynlik dateer uit 'n tyd toe daar 'n plaaswerf in die omgewing was, waarop daar in 1887 'n serwituut toegestaan is vir 'n pad na "Barber's Mill"* op die huidige Sans Souci.*

Toe ek die naam, "Sans Souci" sien, het ek sommer dadelik penorent gesit. Want het ek dan nie nog maar altyd 'n sagte plekkie vir die Sans gehad nie?

Sans Souci-hotel
Anna Smith skryf dat dit losweg vir 'n deel van Parktown-Wes gebruik word en eens op 'n tyd 'n plesieroord was, wat aan Max Scheuermann behoort het. Daar was onder andere ook 'n hotel op die oord, die Sans Souci-hotel. Die buurt en die straat, Sans Souci-weg, is moontlik na die hotel vernoem, wat op sy beurt vermoedelik deur Scheuermann na 'n paleis in Potsdam naby Berlyn vernoem is - die Sans Souci-paleis. Dit was Frederick die Grote, eertydse koning van Pruise, se somerpaleis.

Wil jy nou meer!

Nou ja, hoewel die Sans al hoeka nie meer 'n kuierplek is waar sorge "reggedop" kan word nie, leef hy darem nog as deel van die Johannesburgse geskiedenis voort.

* Ek kon geen inligting oor "Barber's Mill" opspoor nie.
* "Sans Souci" is Frans vir "sorgvry" of "sonder sorge" en die hotel is nou deel van die Milpark-hospitaal se administratiewe kantore.