Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.3.18

Subwerk en subkontrakteurs vir die dak oor jou kop

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: In die Oos-Kaap is geleenthede aansienlik minder as in ‘n plek soos Johannesburg. Dit het ek gou ontdek toe ek vroeg in Januarie 1974 na Johannesburg verhuis het met my jong vroutjie om by Die Vaderland as assistent-hoofsub in te klok.

Ek was op die punt om planne te finaliseer vir huis bou in Port Elizabeth toe ons besluit om ons grootwordwêreld vir die Rand te verruil.

Ek was van plan om dié ideaal in Johannesburg verder te voer en dan daar huis te bou. Nie lank in dié geweste nie en ek teken vir ‘n standplaas in Edelbertlaan, vlak by Gilbertlaan se afrit in Florida Glen aan die Wes-Rand. Daar naby waar kollegas Piet Ayers, Peet van Staden, John Moody en Wessel Oosthuizen ook gewoon het.

Ek ontdek dat dit werklik lonend en baie besparend is om eienaarbouer te wees, maar dat leninginstansies skepties is om aan sulke manne ‘n huisverband toe te staan.

Dan moet ek maar ekstra geld begin verdien en sover ek kan kontant beginne bou is my eie besluit wat ek self sekondeer. Van die werk sal ek sommer ook self doen. Ek het wraggies nie vyf duime of pienk vingertjies aan my hande nie.

My ideaal wou ek bereik. Ander manne se huise of woonstelle vir hulle betaal met huurgeld uit my sak – nee.

Nie baie lank nie en ek willig in vir ekstra werk wat so mettertyd ‘n paar kleintjies kry. Toe ek nou onlangs weer in K’rant lees van die ou Perskorhaan-personeelblaaie wat (nou wyle) Piet Roos vir Japie Bosch bewaar en gegee het, onthou ek dit was die eerste “ekstra joppie” waarvoor ek kans gesien het. Ek moes die blad versorg en die uitleg doen en sorg dat dit verskyn. Ons sal jou goed vergoed, is ek verseker.

Ander ekstras het bygekom. Ek verklaar myself gewillig om nog meer te doen sodat ek aan die boukan kom. Die omvang van my werkslewe, benewens my voltydse werk by DV (06:30 tot 14:30), ontwikkel later tot ‘n vol-vol lewe en was soos volg: Vanaf 15:00 tot 17:00 advertensies vertaal by Die Transvaler . Dan gou huis toe en 18:00 terug om subwerk vir DT te doen (tot 22:00). ‘n Tyd lank het DV my gebruik om al hul spesiale Kleurbylaes te sub en die uitleg daarvan te versorg. Dit het soms spesiale sport-bylaes behels as daar ‘n groot rugbywedstryd was waarby Transvaal of die Springbokke betrokke was.

Sommige Vrydagmiddae en elke Saterdag het ek by Rapport se Sportafdeling gaan subwerk doen en blaaie uitlê, op versoek van Phil Zaayman, saam met wie ek jare tevore in Port Elizabeth gewerk het.

In die bofbalseisoen was ek ook nog bofbalskrywer vir DV. Ek het die spel goed geken omdat ek self ‘n tyd lank ligabofbal gespeel het. Was tussen alles deur selfs ‘n keer Lesotho toe vir ‘n toernooi.

Soms het ek met werk aan bylaes gedurend die week net so drie uur per nag kon slaap inkry. Dis ook toe ek op ‘n Sondagoggend kantoor toe is vir so ‘n bylae (ná ek halfeen die Sondagoggend eers van Rapport af by die huis aangekom het) dat ek my swanger Christel moes saamvat kantoor toe omdat sy pyne beginne kry het vroeër die oggend en ek eers ekstra sportblaaie MOES gaan doen. Ons had geen telefoon nie en selfone was nog nie eens in Kammaland en Utopia uitgedink nie en om plaasvervanger te bel was buite die kwessie

Terwyl ek daarmee besig was, het sy grootoog gesê nou raak dinge benoud en ons moet nou maar by die Queen Vic-Hospitaal uitkom. Daar is ons rooikop Jasper enkele ure later gebore laat daardie Sondagmiddag!

Maar nie voordat ek later die oggend ‘n keer gou weggeglip het om te kyk of alles wel is met die sportbylae nie! Ook maar goed die kraamstorie was op ‘n Sondag, want as dit in die week was, het die geboorte van ons eersteling dalk lelik ingemeng met al my werkery!

Wat betref die bouery: Tussen al die gehardloop moes ek sub-kontrakteurs reël vir die bouwerk en myself soms byna in twee deel om te gaan kyk of die bouery reg loop.

Almal was in daardie tyd redelik TV-versot, maar ek kon met die bouery g’n TV bekostig nie en ek was immers ver te besig daarvoor! Eers baie later het ek ‘n stel kon koop toe die bank my uiteindelik ‘n lening gegee het nadat die huis se dak al op was.

Hoe’t ek dit alles vermag en kon byhou? Vir seker met tonne genade van Bo, danksy goeie gesondheid, ‘n geduldige vrou en ‘n Pa wat my en my broers geleer het: “Manne die Hollanders sê: ’Op bed ga’ het meeste mense dood’. Klim uit die donse uit en kom aan die gang – daar’s werk om te doen!”

Ek kan my so bietjie assosieer met ‘n sekere tannie wat kopskuddend oor haar pyporrel-kroos van ses gekyk het: “Weet wraggies ook nie hoe ek julle deur die lewe gekry het nie. Kan nie eens onthou hoe ek swanger geraak het nie. Genadetjie ons”.