Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.11.16

Joan Kruger se "biografie" oor Tafelberg

JOAN KRUGER, alombekende oudkollega by Die Vaderand asook Die Transvaler, het onlangs haar jongste boek, On Top of Table Mountain, gepubliseer.

Die boek kan teen groot afslag aanlyn by www.loot.co.za bestel word of by Graffiti-boeke in Pretoria gekoop word.

Hierdie lekkerlees-boek vertel die “storie” van Tafelberg soos ervaar deur die buitengewone besoekers wat tot bo-op hierdie ongewone berg geklim het.
Sedert 1503 toe ‘n verdwaalde seevaarder Tafelberg uitgeklim het om van bo-op die berg af te probeer sien waar op aarde hy is, het besoekers aan die Kaap met swoeg en sweet na bo gestap, geklouter, geklim, en selfs te perd gery – en daarna oor hul ervarings geskryf.

Al hierdie stories tesame vorm ‘n aangrypende biografie van die berg.

Afsonderlik gesien is hulle opwindende vertellings deur reisigers en -- dikwels onwaarskynlike -- avontuursoekers.

Vir die eerste keer word die Engelse vertalings van hierdie verslae -- geskryf in verskillende tale, insluitend Russies en Sweeds -- nou in een boek saamgevat.

Die eerste seevaarders wat na die bopunt van Tafelberg geklim het, het van hul heldhaftige, vreeslose kordaatstukke vertel terwyl die blommejagters en ander verkenners minder oordrewe verslae van hul wedervaringe geskryf het. Die vroue wat in hul voetspore by Platteklip Kloof op is, het gedink dit is bloot ‘n lekker uitstappie.

En is Tafelberg makgemaak? Nie eens amper nie, en nie eens deur bergklimmers met die modernste tegnologie en hul angswekkende kransklimmery nie.

In On Top of Table Mountain sal die leser met onder andere die botanis Carl Peter Thunberg te doene kry nadat hy sy lewe gewaag het om die uitsonderlike blou disa wat op die randjie van ‘n afgrond gegroei het te pluk. Met James Holman, die “blinde reisiger” wat te perd tot bo en weer tot onder Tafelberg gery het. Die swanger Lady Jane Herschel wat vir die grootste gedeelte teen die berg opgery en op die kruin die perd tot 'n galop aangespoor het.

Die lewensverhale van die 27 uitsonderlike besoekers word met 'n pittige aanslag oorvertel in hierdie boek wat moeilik neergesit sal word.

Scott Ramsay, die bekende fotojoernalis en skrywer van South Africa’s Wildest Places, skryf soos volg oor Joan se boek: “A truly original book. Compelling storytelling, anecdotal yet historically accurate, easy to read, and unputdownable. My favourite book about my favourite mountain”

Joan en haar en haar boek.
‘n Kort uittreksel uit Wikipedia oor Joan: Na die verwerwing van haar eerste graad begin sy as beurshouer van Perskor as joernalis werk by Die Vaderland, terwyl sy ook ’n vryskut-rubriek vir Dagbreek behartig. Ná vier jaar sluit sy aan by die redaksie van Die Transvaler, waar professor Willem de Klerk destyds die redakteur was.

In 1978 is sy vir ’n jaar in Amsterdam as Perskor se buitelandse verteenwoordiger. Met haar terugkeer na Suid-Afrika word sy aangestel as redakteur van Ritsgids, die bylae tot Die Transvaler, en daarna as vroueredaktrise. Vanaf 1982 dien sy in die redaksie van Beeld en word kort daarna aangestel as Transvaalse redaktrise van Sarie.

Vanaf 1 Augustus 1991 is sy redakteur van die tydskrif Rooi Rose, ’n pos wat sy tot 2000 beklee. Hierna word sy aangestel as redakteur van Vrouekeur. Verder is sy in 1989 verantwoordelik vir die stigting van die tydskrif Saffier, ’n tydskrif in groot druk vir senior burgers. Vir 'n geruime tyd gee sy ook klas in Kommunikasieleer aan die Randse Afrikaanse Universiteit en sy raak ook betrokke by Handhaaf. Vanaf 2006 is sy betrokke by Tip Africa Publishing as redaksionele direkteur en vanaf 2013 as konsultant.

Joan het in 2004 die graad D.Litt. et Phil. in Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg behaal.