Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.4.18

Apartheidsredakteur se ervaringe geboekstaaf

HARALD PAKENDORF skryf (op versoek): Om ‘n boek te skryf was nou nie waaraan ek gedink het nie. Ek werk nog voltyds, die tyd is maar min. Het tog gewonder of ek dalk nie vir die dogters en kleinseuns ’n soort familiegeskiedenis moet skryf nie, so ‘n Stories vir die Kinders.

Toe praat Penguin my om om ‘n ander boek te skryf en so eindig die pogings in Stroomop, eintlik maar herinneringe van die joernalistiek in die dae van apartheid. Ek het probeer om op die agtergrond te bly maar dit is onmoontlik as jy moet skryf oor twee koerante waarvan jy redakteur was -- 1972 tot 1986, Oggendblad en Die Vaderland.

Dis dan waaroor die boek gaan -- waar ek vandaan kom, hoe ek aangestel is, hoe ons by albei koerante nie met die hoofstroom saamgeswem het nie, die gevolge wat dit gehad het, hoogtepunte in die verslaggewing, en so meer.

Terugskouend kan mens nie anders as om te wonder nie: is dit waarlik hoe ons as Afrikaners toe gedink het, en was my ”sondes” dan so groot?

En jy vra: moes ons nie dalk meer gewaag het nie, harder om verandering gedruk het nie? Die boek is persoonlik - uiteraard – maar gaan ook oor van die verslaggewers en hulle stories, botsings met veral John Vorster en PW Botha en andere.

In boekwinkels 13 April 2018
Prys R230
Bladsye 280

Vir K’rant-lesers sal die onbekende verhaal oor hoekom ek afgedank is, moontlik interessant wees. Kortliks het dit gegaan oor my halsstarrigheid om nie my politiek by dié van die NP aan te pas nie, en oor ‘n spesifieke rubriek wat as gans te “erg” beskou is - deur die direksie en veral sy kabinetslede. En dit ná vorige waarskuwings.

Dalk is die blik op Marius Jooste ‘n andersheid. Vele verguis hom. Maar hy het sy beskermende hand dikwels oor my gehou – tog word sy foute ook aangespreek.

Oggendblad  se eerste dag, 1 November 1972. Van links af is Marius Jooste, mev.  Schoeman, Minister Ben Schoeman, mev Jooste en Harald Pakendorf.
Dis nie eintlik hoe ek gedink die boek sal lyk nie maar hy het sy eie loop geneem. Gewis sal oudkollegas die boek interessant vind. Die wye mark? Sal maar sien.

In reklamemateriaal word die volgende oor die boek geskryf:

Hoekom bel 'n boosaardige eerste minister 'n koerantredakteur skuins na sonop by sy huis? Waarom wil 'n kabinetsminister 'n verslaggewer met die vuiste bydam?

En hoe kry'n Afrikaanse koerant dit reg om tydens die apartheidsjare volledig oor ANC-beleidstandpunte te rapporteer?

Twee van Harald (middel) se staatmakers by Oggendblad in 1973.  Links is Koos Liebenberg, assistent-redakteur en regs is Herman Snyman, nuusredakteur.
Harald Pakendorf beantwoord dié vrae, en nog vele meer, in sy herinneringstog deur 'n onstuimige tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis. Die grootkoppe van apartheid kon hierdie “liberale" redakteur van Oggendblad (1972-1979) en Die Vaderland (1980-1986) met moeite voor hulle oë verdra. Pakendorf moes John Vorster en PW Botha se woedebuie telkemale trotseer.

Vandag sal lesers hul koppe in ongeloof skud oor die scenario's wat tydens apartheid se hoogbloei in die voorkamers van politieke mag afgespeel het. Maar vir die politieke base van destyds was Haraid Pakendorf sy tyd ver vooruit. Só ver dat hulle hom sonder meer uit sy redakteurstoel verwyder het. ' n Fassinerende, persoonlike terugblik wat lesers sal boei.