Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.10.17

Joe Venter was joernalis van staal

PIETER KRUGER skryf: Dit was 36 jaar gelede toe ek Joe Venter die eerste keer ontmoet het, in die mediatent op die laaste dag van Sun City Classic-gholftoernooi - die voorloper van die Nedbank-uitdaagtoernooi.

Leendert Pieterse, Die Vaderland se destydse sportredakteur, het twee nat-agter-die-ore-joernaliste, ek en Tobie Mostert, een Vrydagoggend net ná saktyd versoek om die Saterdag na Sun City deur te ry om te gaan kyk “hoe daar in die veld” verslag oor sport gedoen word.

Joe Venter
“Trek ‘n kar, eis R11,50 se dagtoelaag by Rina en kry vir Gaby (een van Perskor se voorslag-drywers)
om te bestuur. Maak daar kontak met Joe Venter, Die Transvaler se gholfskrywer. Hy sal julle alles leer,” het Leendert gesê.

“Kry eers vir ons ‘n dop,” was Joe se eerste woorde toe ons blad geskud het.

Fout nommer een: waar alles gratis was.

“Ons gaan nou-nou met Gary, Sevvy en Lee gesels,” het Joe gesê.

“Waaat?” het dit deur my kop geflits: “Bedoel hy Gary Player, Seve Ballesteros en Lee Trevino?”

Ja, dit was ook so en deur die dag het verskeie van die wêreld se ander voorste spelers “Oom Joe” kom groet en geselsies aangeknoop.

Toe die son lankal water getrek het, het Joe droogweg opgemerk: “Ek wil graag die ou sien wat ná my hier gaan uitstap.”

Nodeloos om te sê, kon ek die Sondag net ‘n afgewaterde beriggie pleeg. Tobie het niks gehad nie, maar die "old pro" het die room afgeskep.

‘n Paar maande daarna was ek saam met Joe by ‘n Transvaalse rugbyoefening op Ellispark, want die media se A-rugbyspan (Gerhard Burger, John du Toit, Phil Zaayman. Herman le Roux en Wessel Oosthuizen) was saam met die Bokke op toer in Nieu-Seeland.

“Sien jy daardie hoekie, Dit word Joe’s Corner genoem,” het Joe smaaklik vertel terwyl  oud-Springbokflank Piet Malan dit beaam het.

Jare hierna het ek ná ‘n wedstryd in een van my berigte na Joe’s Corner verwys toe Ray Mordt in die suidelike hoekie oor is.

“Dié Joe’s Corner, verwys dit na Joe Coetzer,” het Francois Pienaar my een dag uitgevra. “Nee,” het ek gesê, ”na Joe Venter”.

Toe ek Joe oor die waarheid opkommandeer, het hy droogweg erken dat hy nooit vir Transvaal gespeel het nie. “Maar wat van Diggers?” Dit is nooit in die annale opgeteken nie.

Ons paaie het jare lank gekruis, as kollegas en oud-kollegas, as vriende, by die Randse Sportskywersvereniging en later jare in Bloemfontein (waarheen hy en die nimlike Jules verhuis het).

Wanneer ‘n toets in Bloemfontein beslis is, wanneer Transvaal ‘n rugby- of krieketwedstryd daar
gespeel het, was Joe altyd op die lughawe om jou te verwelkom, opposisie of te not. “Het jy blyplek,” was altyd sy eerste vraag.

Jy moes op pad hotel toe eers by die Bloemfonteinse of Schoemanparkse gholfbaan aandoen vir “steak en tjips” en wie weet wat nog.

Joe het ‘n hart van goud gehad en het hom oor ander mense se lot ontferm.Soos die dag toe hy vir Hennie Brandt ‘n vliegkaartjie Londen toe vir ‘n Wimbledonse tennistoernooi gereël het, toe hy gesorg het dat Gert Kotzé met ‘n BMW-leenmotor vakansie kon gaan hou het nadat sy Volkswagen Kewer opgepak het.

Joe was die sout van die aarde, by wie ons jonges baie van joernalistiek kon leer.

Ai, dat daar darem só diep in ons bos gekap word.