Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.10.17

Never a dull moment

TOBIE MOSTERT, voormalige sportskrywer van Die Vaderland en Rapport, skryf: Die Springbokke het Saterdag 30 September in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein Suid-Afrika trots gemaak deur darem gelykop teen die Wallabies te speel - maar daar was 'n vreemde atmosfeer in die Vrystaatse hoofstad.

SA joernalistiek en -sport het een van sy grootste seuns daardie dag verloor: Joe Venter (83).

Joe Venter
Dit, nadat die legende Gary Player twee weke voor sy dood langs Joe se siekbed gestaan het, Joe se hand styf vasgehou het, en met trane in sy oe" gesê het: "Joe jy was my grootste ondersteuner. Ek sal jou mis as jy nie hier uitkom nie."

Soos almal, het ons gehoop dat Joe daar sou uitkom nadat hy 'n ruk tevore probleme met sy longe en hart ontwikkel het.

In my laaste gesprek met hom oor die foon het ek vir hom gesê hy moet herstel sodat ons weer gholf kan speel.


Ek en fotograaf Wessel Oosthuizen het beplan om vir Joe in die hospitaal te gaan kuier, maar het nooit sover gekom nie.

Dit was Wessel wat gebel het met die woorde: "Joe is oorlede".

In sy laaste dae het Joe se lewe net gedraai om sy ewe bekende vrou, Jules.

Jules was ook nie gesond nie en terwyl sy in die hospitaal was, het Joe nie lekker gevoel nie en vir 'n roetine-ondersoek gegaan -- waar bevind is wat hy makeer.

Joe was nog altyd 'n held vir my. Hy het vir my alles beteken in my loopbaan.

Elke keer wanneer jy Joe gegroet het (of dit goed of sleg sou gaan) en hom vra hoe dit gaan, het hy altyd gesê: "Never a dull moment, partner."

Joe het my jare gelede aan Gary Player voorgestel asof ons al lank vriende was. So ook aan die res van die gholfspelers en administrateurs.

Daar was seker niemand in die sportwêreld wat nie vir Joe geken het of van hom geweet het nie.

Joe se vriende, Gary Player en Jack Nicklaus.
Daar was vele staaltjies oor Joe. Vandag word dit nog vertel en miskien het hulle so deur die jare 'n paar stertjies bygekry.

Tog kan ek 'n paar vertel.

Voordat ek daarby kom, so ietsie meer ernstigs oor sy karakter en menswees.

Joe sou in die middel van die nag opstaan om iemand te help. Hy wou en het alles gedoen vir sy medemens. Hy het dit gedoen en nooit iets terugverwag nie.

Jy kon byna enige plek ter wêreld by groot sportgeleenthede in 'n BBP-tent instap en waarskynlik daar vir Joe gekry het as die middelpunt van die gesprek.

As lid van die Randse Sportskrywers en komitees het hy diep spore getrap. Hy was nie net 'n joernalis nie, maar ook 'n sieraad vir joernalistiek. Sy rubriek in Die Volksblad het vele aanhangers gehad. Hy het dit geskryf tot kort voor hy siek geword het.

Selfs buitelandse grotes soos Jack Nicklaus, het deur die jare vriende met Joe geword. Ware vriende.

Dit was in 1996 op die beroemde Lytham and St Ann's-gholfbaan tydens die Britse Ope waar Jack vir Joe op 'n afstand sien aankom het en hom luidkeels gegroet het. Hy het ook 'n slag waar Nicklaus in 'n groep staan en oor gholf gesels het, vir die groot speler gesê, "Nee Jack, jy is verkeerd. Dit moet so wees". Toe Joe klaar gepraat het, sê Jack: Joe, jy is heeltemal reg!"

Op 'n dag by Sun City het Gary Player my gevra hoeveel keer hy SA Sportman van die Jaar was.

Ek het gesê ek dink drie keer, maar Gary het gesê kom ons bel vir Joe en hoor. Joe se antwoord was ses keer. Dit was ook so.

Soos gesê, Joe het almal geken. Almal het van hom gehou omdat hy so 'n joviale geaardheid gehad het.

Hy het funksies vir die tennisspelers op Wimbledon gereël, en legendariese Britse Leeu-rugbyspelers soos Gordon Waddell en Billy Beaumont het onder sy vriende getel.

Ons het eendag twee uur lank van die Sun City Cabanas na die Superbowl  -- 'n kort entjie -- geloop omdat elke tweede persoon wat ons teëgekom het, met Joe wou gesels.

So het Joe ook destyds dikwels jong professionele gholfspelers blyplek verniet in sy huis in Randburg gegee wanneer hulle dit nie kon bekostig om in hotelle te bly nie.

Gholf, rugby en gimnastiek was Joe se groot liefde.

Ek onthou op een Saterdag voor ‘n rugbytoets op Ellispark het boere van Bethlehem in die Vrystaat per bus by Perskor se gebou in Doornfontein, Johannesburg, aangekom op soek na Joe. Joe het hulle toetskaartjies belowe, maar niks gehad nie.

Tien minute voor die toets begin, stap Joe voor met 25 boere agter hom aan Ellispark binne. Joe het vinnig 'n plan gemaak!

Joe het ook die gunsteling-storie gehad dat hy my uit die see in Durban gered het toe 'n brander my omgeslaan het. Joe het altyd geglo ek sou verdrink het. Ek het nooit dat die feite inmeng met 'n goeie storie nie!

Daar was ook 'n storie dat Jules vir Joe kafee toe gestuur het om 'n brood te koop, maar dat hy eers 'n paar dae later met 'n brood onder die arm huis toe gekom het. Hy het glo langs die pad pêlle ontmoet wat op pad Durban toe was en Joe het glo saam gegaan.

Hoe waar die storie is, weet ek nie.

Een ding wat ek weet, is dat Joe 'n legende was wat ons nie sommer sal vergeet nie.

Rus lekker ou grote. Jy het ‘n vol en vrugbare lewe gelei. By alles was jy 'n gelowige mens.

Met jou was die lewe vir ons almal "never a dull moment".

Ons eer jou, Joe.