Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.3.17

Die Franse Konneksie

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ek het al gewonder of die K´rant-redaksie nie wil toelaat dat ons dan en wan ´n storie skryf wat nie spesifiek met die ou dae by Perskor te doen het nie. Ek dink veral aan die skatkis (die room sypel deur die splete) joernaliste wat daar rondsit en oud word en miskien tog die behoefte het om weer die pen op te lig sonder om in die verlede rond te delf.

Soos vanmôre toe my Africana-boeke uit die Kaap aankom en ek lees oor die Franse wat die Kaap in die jare 1781 tot 1783 beset het om die Ou Kasteel teen die Engelse te beskerm. Ek sweer ek het hierdie deel van die geskiedenis verslaap!

Die Ou Kasteel
Ek wil nou graag die storie van die swierige Franse in die Kaap vertel, maar moet oorweeg hoe ek die kloutjie by die Perskor-oor bring? Toe onthou ek skielik - natuurlik is daar ´n Franse konneksie!

Martie Snyman was die redaktrise van Rooi Rose toe ek in die jare sewentig daar gewerk het. Sy was nie op haar mond geval nie en het graag ´n uitdrukking gebruik wat my tot vandag toe bygebly het.

Wanneer iets wanordelik en deurmekaar was, het Martie altyd gesê:" Mensig! Dit lyk hier soos ´n Franse bordeel!" Sy het egter nie die eufemistiese woord "bordeel" gebruik nie, maar ´n woord waarin die letter H twee keer voorkom!

Op ´n dag het sy die inhoud van haar lywige handsak op die lessenaar uitgestrooi en weer gesê: "My handsak is so deurmekaar soos ´n Franse bordeel!"

Ek vra toe:" Mevrou Snyman, het mevrou iets teen die Franse?"

"Nee," antwoord sy. " Inteendeel, ek wou altyd so graag ´n Franse kêrel hê sodat ek op Frans kon vry! Dis so ´n mooi taal. Selfs as hulle vloek, klink dit romanties!"

Die einste Martie het my op die teer ouderdom van drie en twintig alleen Parys toe gestuur om oor die Prêt-à-porter-modeskou te berig. Mode was nie my gebied nie, maar sy het gedink die ondervinding sou my goed doen en moontlik was sy ook van mening dat ´n sweem van Franse finesse my nie kon skaad nie!

Martie Snyman
Dit was November en ek moes rond en bont warm baadjies en stewels by kollegas leen om die Franse herfs te konfronteer en aan die vereistes van die Paryse modewêreld te voldoen. Of dit wat ek in my onkunde GEDINK het Franse mode was!

Ek het geleer hoe om oesters te slurp, brood met die hand te breek en het vir die eerste keer my naels rooi geverf. Ek het teruggekeer met wonderlike nuwe indrukke en idees en my modestorie asook ´n uitgawe van "Lady Chatterley´s Lover" in my koffer. Die boek was daardie jare in Suid-Afrika verbode! Op pad terug was ek die heeltyd bang die vliegtuig gaan val omdat ek sulke onsedelike leesstof ingesmokkel het.

Terug by die Franse in die Kaap. Met die uitbreek van die oorlog tussen die Engelse en die Hollanders in 1781, het ´n Franse regiment in die Kaap aangekom. Die troepe het drie jaar lank gebly. Lank genoeg om hulle invloed te laat geld. Dit was die begin van ´n nuwe en swierige leefwyse.

Die inwoners het weelderige huise gebou en dit ten duurste gemeubileer. Hulle het trosse slawe aangehou en die lewe was so vrolik en stylvol dat die Kaap as "Klein Parys" onder die reisigers bekend was.

´n Mens kan jou indink dat die Franse met hulle bykans 400 verskillende soorte kaas, hulle kulinêre kunste en kennis van wyn asook hulle modieuse elegansie, omtrent die toegeknoopte Calvinistiese, Hollandse vrouens se koppe laat draai het!

Martie se handsak?
Die dames het ontdooi en glo op groot skaal deftige partytjies gehou en uitgelate die kotiljons gedans.

Almal het die indruk gewek dat hulle vooruitstrewend was. Hulle het rojaal geleef en los en vas geld geleen.

Miskien was daar ook ´n huis van plesier wat so deurmekaar was soos Martie se handsak!

Alles het geëindig toe die Engelse en die Hollanders in September 1783 ´n vredesverdrag onderteken het.

Toe die vermindering van die garnisoen volg en die troepe die land verlaat, het die skuldeisers begin om hulle geld terug te vra. Dit was ´n tydelike welstand wat op die ou end tot groot bankrotskap gelei het.

Kommissaris De Mist het gekla dat die Franse die Kaapse leefwyse in die verderf gelei het en dit jare sou duur om die inwoners weer in ordentlike Hollanders te verander! Baie was verlig om die Franse skepe te sien vertrek!

Ek lees verder in my Africana-boek oor die Hugenote in Franschhoek en ´n inwoner met die familienaam Lekkerwyn. Hy was eintlik monsieur Lecrévent wie se van deur die jare vervorm en vervreemd is. Lekkerwyn klink wel jolig, maar Lecrévent het eenvoudig meer styl.

Martie was reg wat die Franse taal betref!