Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.6.18

Die wraak sou soet wees


MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Met verwysing na Gert van Rooyen se amusante brokkie oor subs (klik HIER) , van my kant af ook 'n bydraetjie: Soos honderde joernaliste vóór my en honderde ná my, moes ek ook in my kuikendae deur die smeltkroes van vertaalwerk gaan. Daai Sapa-berigte wat so onophoudelik en genadeloos uit die teleksmasjien gestroom het.

Een oggend kry ek met 'n beriggie te doen wat wemel van die Engelse woord, "maritime." Dit was"maritime" voor en "maritime" agter. Al te verskriklik.

Hoewel ek geweet het dat dit iets met seevaart te doen het, moes ek darem net eers seker maak. So, ná die gewone woeste gesoekery in 'n woordeboek, het ek hom gekry, die Afrikaanse vertaling: "Maritiem." Of dalk was dit "maritieme," want teen dié tyd is ek nie meer so seker nie en die woordeboek wat ek gebruik het, is bepaald lankal dood en begrawe. Hoe dit ook al sy, tussen 'n string Afrikaanse woorde, soos "see, seevaart," ensovoorts, gaan staan en kies die uwe toe mos "maritiem(e)."

Boeta! Waar was my kop?! Want in die subkantoor was direkte vertalings omtrent so welkom soos 'n muishond in 'n parfuumwinkel.

Ek wis egter van g'n sout of water nie. Handig ewe trots my stukkie werk in en gaan doodluiters met die res van die vertalings voort. Dit was eers toe 'n sub -- ek kan nie meer onthou wie hy was nie, en ek was in elk geval vir hulle almal ewe lugtig -- met die geluidloosheid van 'n wolk wat voor die son inskuif, skielik langs my lessenaar kom staan en my die Leviete voorlees, dat ek my fout agtergekom het. En net daar het die wolkie voor die son in 'n donker stormwolk verander wat die res van my dag kom verfoes het.

Laat ek darem net byvoeg: die sub was nie rêrig so vreeslik goor met my nie; dit het meer daaroor gegaan dat ek tot in murg en siel gegrief gevoel het oor die onregverdigheid daarvan dat ek gekapittel was oor 'n woord, wat op swart en wit in die woordeboek gestaan het. Eisj!

Gert skryf van wraakgedagtes teenoor die subs. Nou ja, ek kan nie onthou of ek enige wraakgierige neigings gehad het nie, maar indien wel, sou die wraak soet gewees het. Soeter as die stroopsoetste turksvye in die Oos-Kaap.

Dus, wat was my verbasing, en vreugde, groot toe ek onlangs een aand na die TV-nuus in Afrikaans kyk en luister, en die aanbieder die woord, "maritieme" gebruik.Met 'n vaart het ek van my stoel af opgespring (so vinnig as wat my bejaarde gebeendere my wou toelaat), my vuis in die lug gepomp en uitgeroep!: "Ja, sien julle nou! 'Maritieme' wórd gebruik!" (Dit was vir die skimme uit die verlede bedoel, nie die SAUK nie.)

Gerieflikheidshalwe het ek egter my oë gesluit vir die feit dat tye verander het en dat die verlede en hede van mekaar verskil soos 'n donkiekar en 'n hommeltuig. Wat jare gelede mense sou laat frons of na vlugsout sou laat gryp, is nou aan die orde van die dag. Dieselfde geld seker maar vir taalreëls. Nietemin was my "oorwinning" van soete aard.