Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.8.18

Verkragting vir die pret

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Maureen Swart se bydrae oor die “maritieme”-episode sal my nooit laat vergeet van die vertaling wat eendag op my lessenaar in Die Vaderland se subkantoor beland het nie. Nog in Aucklandpark se dae.

So ‘n jong penkop-verslaggewer, ‘n dame wat soms met ‘n pas-uit-die-stortpapnatkop op kantoor opgedaag het, was die skepper van dié vertaling.

Dit het gehandel oor manne wat in Griekeland, meen ek, ‘n skrikbewind gevoer het deur meisies met rewolwers te dreig voordat hulle hulle verkrag het. Die Sapa-Reuters teks was iets soos: “The group of young men raped unsuspecting ladies at gun-point ...” Die oorspronklike teleksteks had toe ‘n tikfout: “fun-point”.

Só ‘n woord was nie in die woordeboek te vinde nie. Ou Natkoppie moes dalk ‘n skeut of wat se logika gebruik het, want haar vertaling was nog minder korrek: “Die jongmanne het die dames verras en vir PLESIER doeleindes verkrag! “

Vir seker nie ‘n plesierige besigheid nie. Maar tog nogal snaaks genoeg om oor te lag.