Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

Johann Botha
Sy loopbaan het wye draaie geloop as dosent in Afrikaans-Nederlands by twee universiteite, maar hy sê in sy hart is hy ‘n joernalis, onder meer by Die Burger, Die Volksblad en Die Transvaler.

En dis hier waar ek Johann in 1970 raakgeloop het, toe ek die moeder van alle groentjies by die koerant was. Ek was pas na die vroueblad oorgeskuif, na my "opleiding" in die biblioteek van die koerant wat tóe mnr Carel Nöffke as redakteur gehad het.

Natuurlik was een van die dienspligte by die koerant, vertaalwerk saans van die telekse in die nagkantoor .

Johann het daar by ‘n groot tafel gesit en al die telekse ontvang wat ‘n kollega by die masjiene netjies per storie sou afskeur. Hy was ‘n streng, ernstige man wat geen nonsies geduld het nie. Ons groepie verslaggewers het rondom hom groepeer, elkeen druk besig om te vertaal met woordeboeke, opsoek na die regte woord.

Johann sou ‘n telekspapier in sy hand vashou, jou naam uitroep en dan met sy vinger die teleks in jou rigting skiet. As jy vining genoeg reageer, het jy die dwarellende papiertjie gevang voordat hy die grond tref. Andersins moes jy maar gedwee buk, optel en aangaan.

Johann het nie eers opgekyk nie, net aangegaan met sy proeflees.

Ek was vir Johann so bang dat ek die ritteltit kon kry as ek nagdiens moes doen. Maar teen die einde van die "nag", was dit ‘n goeie leerskool. Dis was asof jy koeranttaal begin bemeester het, die binnewerking van die koerant begin snap het, met die roetine en dissipline van ‘n goeie leermeester as nagsub: Johann Botha.

Eintlik was ons almal saam gesnoer as een groot familie met almal dieselfde belang: om die beste vir jou koerant te lewer en môre kon jy jou "skeppingswerk" in die koerant opspoor.‘n Groot Plesier.

Ek het in 1971 Die Transvaler gegroet met trouplanne in my kop en daarmee saam die redaksie wat die nagsub ingesluit het.

My loopbaan het ook wye draaie geloop, maar toe ek in 1982 terugkeer vanuit Zimbabwe as Perskor se korrespondent , het ek tydelik by ‘n vriendin se eiendomsagentskap in Pretoria aangesluit om tyd te vul in afwagting van werk waarvoor ek aansoek gedoen het.

‘n Baie vriendelik en aangename kollega was Anri Botha wat ons altyd vertel het van haar en haar man se vol en besige lewe met die grootmaak van hulle vier seuns.

Met ons eerste sosiale aand by die agentskap ontmoet ek Anri se man en dit is toe niemand anders nie as: Johann Botha – 13 jaar ná Die Transvaler! Baie ouer en wyser kon ek lekker lag oor al die kapperjolle in die nagkantoor.

En nou kruis ons paadjies weer, kry ek sy epos by Die Burger en gesels ek sommer lekker met hom en Anri.

Ek vertel hom van K’rant wat hy toe naspeur en hy skryf soos volg:

"Ek het gekyk na al die name aan die regterkant en dit vat my jare, nee dekades, terug en laat jou weer mense onthou wat jy gedag jy al vergeet het.

"Ek sien hulle weer in die nagkantoor sit en vertaal en sub en ek sien kopie met koppe, byskrifte en foto’s wat in die geut na die drukkery afgegooi word.

"Dit was nogal opwindende, selfs roekelose tye, was dit nie?" sê-vra Johann Botha.