Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.5.18

As ek tog maar ouer was!

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Liewe land! Watse soort wensdenkery is dié tog? Het ek nou kluts kwytgeraak, of wat?

Maar hokaai! Dit beteken nie dat ek die horlosie wil aanskuif en my ouderdom noordwaarts wil stuur nie. So nooit as te nimmer nie! Dit gaan eintlik daaroor dat ek in my verslaggewerdae heeltemal te jonk en onkundig vir party stories was. Jonkdom. Miskien sou dit tot my voordeel gewees het as ek op 'n gegewe tydstip ouer was as wat ek was, met meer lewenservaring.

Want Vader Tyd is 'n uitstekende leermeester. So met die jare saam verbreed hy jou horisonne, jy raak meer kundig, jou pad kruis met mense wat dinge weet, jy bou kontakte op, raak meer vindingryk om inligting op te diep, kry meer selfvertroue. Om maar net enkele voorbeelde te noem.

Nou al 'n honderd jaar later en baie water oor die akker, maar veral een van hierdie nog-te-nat-agter-die-ore-ervarings onthou ek steeds:

André Verster
Pas by Die Vaderland aangestel, moes ek vir die eerste keer op 'n
Saterdagoggend werk. Eers het alles heerlik rustig verloop daar tussen die glashokkies en tikmasjiene, meeste van hulle doodstil en onbeman so op 'n naweeksdag. Buite het 'n sonnige somersdag gelok en ek het al 'n behaaglike res-van-die-naweek begin beplan, toe die man in beheer daai dag -- André Verster, assistent-nuusredakteur en later van TV- en rolprentfaam -- so teen twaalfuur skielik my lugkastele inmekaar laat tuimel het: Hy wou hê dat ek 'n storie oor 'n reis op 'n luukse passasiersskip moes doen. Vir Maandagoggend.

Ek was stomgeslaan. Wat het ék, 22 en 'n plattelandse uilskuiken (boonop in die Vrystaat grootgeword, waar daar mielielande is, nie seewater nie), van bootreise af geweet? Die naaste wat ek ooit aan 'n skip gekom het, was wanneer ek een daar d-ó-é-r op die horison sien verbystippel het wanneer ek met vakansie by die see was.

Nog erger: Waar op aarde sou ek die nodige inligting kry? Ek het nie eens geweet wáár om te begin soek nie. Ek het ook nie 'n enkele mens geken -- of iemand geken wat iemand geken het -- wat op oseane jakker en by wie ek kon gaan kers opsteek nie. Met ander woorde, ek was kontakte-loos.

Na 'n rukkie het my kop darem weer in rat gekom -- min of meer -- en het ek skielik onthou dat daar mos 'n reisagent in die middestad was, presies net daar waar ek altyd die Roete 18-bus Hillbrow toe gekry het, na my woonstel in die "Brow." Maar ek sou moes spring om by die agentskap uit te kom. Want sien, ons praat hier van 'n tyd toe winkels en ander besighede klokslag om eenuur -- op die laatste -- Saterdagmiddae toegemaak het. Gesluit en gegrendel tot Maandagoggend.

Dus, voordat jy kon sê, "Ahooi-welkom-aan-boord!" het ek op 'n bus die pad stad *. Ek dink amper altwee roetes het by Perskor verbygeloop.
toe gevat. Dit was óf die Mellville-bus (Roete 67), óf die toenmalige Westdene/Triomf-bus (Roete 66)

(Ek kan nie meer onthou hoekom ek met die bus gery het en nie met 'n persmotor nie. Miskien omdat dit al amper huistoe-gaan-tyd was en ek in elk geval stadlangs moes gaan om 'n bus-aansluiting HiIllbrow toe te kry; miskien was daar nie 'n motorbestuurder beskikbaar nie; of miskien was dit die nadraai van die skok, die afkop-hoender-effek. Waarskynlik laasgenoemde.)

Doerietyd was elektriese trolliebusse* nog in gebruik. Bonkige, rooi-en-wit dubbelverdiepingbusse (meesal dubbelverdiepings?) wat met twee lang metaalstawe op die dak aan twee elektriese kabels hoog bokant die pad gehak het.

Maar dié busse het 'n nuk van Vaaltyn-die-donkie in hulle gehad: Male sonder tal het die stawe uitgehak en het 'n bus sommer net so woeps! in sy wiele vasgesteek. Onbeweeglik. Dan het die busbestuurder en/of -kondukteur uitgeklim en met so 'n la-a-ng haakstok (die soort ding wat onderwysers in my dae gebruik het om vensters in die skoolsaal mee toe te maak) die hake weer ingehaak. Soms kon hulle die hake gou-gou terughaak; soms nie. En partykeer het die bus weens ander tegniese probleme gevrek en moes die passasiers maar brom-brom uitklim en in 'n bedremmelde groepie langs die pad vir die volgende bus staan en wag. Of hulle moes voetslaan.

So, heelpad het ek gehoop en gebid dat die bus 'seblief tog net nie gaan staan nie, en ek voor eenuur in die stad kon wees.

Wonder bo wonder het ek kort voor toemaaktyd by die reisagentskap aangekom. So 'n lang, smal kantoor. Meeste van die ligte was reeds afgeskakel en die agent het as't ware al met sleutels en haar handsak in die hand gestaan. Nietemin het sy tot 'n vinnige geselsie ingestem.

Nie dat sy my juis veel kon help nie, hoor. Want sy, nes ek, het ook nog nooit haar voete op 'n skip gesit nie en kon my dus nie 'n uit-die-perd-se-bek-beskrywing van 'n bootreis gee nie. Haar kollegas ook nie - maar hulle was in elk geval nie daar nie.

Toe beduie sy skielik na iets wat my sommer hoop gegee het en baie bly gemaak het, selfs blyer as nuwe skoene -- brosjures op die rakke! Soos reddingsgordels vir 'n drenkeling. 'n Oplossing vir my probleem.

Met 'n handvol van hierdie kleurvolle, gratis pamflette oor eksotiese vakansies op drywende seepaleise, is ek soos 'n "wannabe"-lid van die Onassis-familie huis toe.

Eers was ek baie opgewonde oor my vonds en het die brosjures -- eintlik niks anders as advertensies nie -- sommer al op die bus Hillbrow toe oopgevou en begin lees. En net daar het my geesdrif platgeval, met één slag: dié glanspamflette, wat by die reisagent die belofte van 'n poedingtafel net na die opening van 'n kerkbasaar ingehou het, het skielik boomskraap gevoel. Sjoe, ek sou omtrent bloed uit 'n klip moes tap om 'n storie uit hierdie bietjie inligting te kry! (Altans, so het ek gedink, in my onkunde.)

Moenie 'n fout maak nie. Die brosjures het wel gehelp. Ten minste was dit 'n stap in die regte rigting. Maar, ai tog, nie net was die inhoud baie skraps nie, dit was ook só ampertjies skooldas-eenders; die foto's, die kopieskrywers se lofliedere. Wat kortgekom het, was aanvullende inligting -- miskien uit boeke, of tydskrifartikels. Eintlik enigiets wat 'n bietjie vleis aan die skraalte kon sit.

Hoe jammer tog dat Exclusive Books se bekende, destydse 24-uur-oop-
vlagskipwinkel nog nie in daardie stadium sy deure in Hillbrow oopgemaak het nie, anders was ek vinniger as 'n kat teen 'n boom op soontoe vir nog inligting. Dan sou ek na hartelus tussen die boeke en tydskrifte kon rondsnuffel, terwyl klassieke musiek sussend op die oor val.

Daar was wel 'n CNA, maar ek kan nie onthou of hy na-ure oop was nie.

Waarvan daar egter geen tekort was nie, was klein winkeltjies wat tweedehandse boeke verkoop het. Niks "fancy" nie, maar almal darem tot laataand oop. Een vir een het ek hulle doelgerig van hoek tot kant deursoek. Erger as die "FBI!" Maar praat van die mitiese soektog na 'n immer ontwykende pot goud aan die einde van die reënboog: bootreisboeke, nes die goud en die reënboog se punt, was nêrens te vind nie. Gewis nie in hierdie winkeltjies nie.

Waarheen nou? Ek sê vir julle, teen dié tyd wou ek al wildvreemdes in die straat voorkeer en hulle oor hul reisgewoontes uitvra!

Johannesburg Stadsbiblioteek
My soektog vat my toe op 'n trippie stadsbiblioteek toe. Destyds tot vyfuur Saterdae oop en taamlik muwwerig-neerdrukkend so teen laatmiddag op 'n Saterdag, veral die naslaanafdeling. Elk geval, ek kon myself maar die moeite gespaar het, want daar was al 'n te groot hap uit die middag vir 'n deeglike gerondskrop tussen daai magdom inligting. Onthou, daardie dae was biblioteekkatalogusse nog nie gerekenariseer nie en die bibliotekaresse wat my gehelp het, het ewe hulpvaardig voorgestel dat ek Maandag terugkom.

As ek maar kon!

Nee wat, die skrif was aan die muur: DOODLOOPSTRAAT! Met my wat pens en pootjies tussen twee vure beland het. Dit was óf die skamele pamflette, óf niks. So, uiteindelik terug in my woonstel, het ek die brosjures gedweë deurgelees, voor my tweedehandse Olivetti gaan sit en my weergawe van 'n gepamperlangde seevaart begin tik.

En die sterre het al hoog bokant Jozi se wolkekrabbers gevonkel, toe het ek nog al die tyd geswoeg.

Twee redes hiervoor:

a) Ek wou 'n groter storie maak as wat ek kon, of moes, uit die gegewens tot my beskikking of as wat my joernalistieke ervaring my wou toelaat. Want my leertyd in die joernalistiek het pas begin, en plek-plek in die seereis-nagmerrie het die idees wat ek in my kop gehad het en die woorde wat ek op papier neergepen gekry het, van mekaar verskil soos 'n kloof en 'n sloot. Dan moes ek van vooraf begin. Keer op keer.

('n Gesoute joernalis sou waarskynlik lag-lag 'n wenner van 'n storie uit die inligting op die brosjures kon skryf. Ai!)

b) My gene sluit nie 'n gawe vir tik in nie en ek moes bladsye en bladsye oordoen net om van tikfoute ontslae te raak. Sowaar, die lengte van 'n A5-velletjie papier kan mettertyd so lank soos Roete 62 tussen Kaapstad en Port Elizabeth voel, maar sonder die landskappe, as jy dit aanhoudend moet oortik.

Al in die rondte, nes 'n hond wat sy eie stert jaag: hoe meer foute ek gemaak het, hoe meer paniekerig het ek geraak, en hoe meer paniekerig, hoe meer foute. Naderhand was ek te vodde om verder te werk, maar die volgende oggend was ek en my tikmasjien alweer in 'n kletterende en verbete stryd gewikkel. Verstommend, dat die bure nie verwoed teen my mure en deur gehamer het oor die lawaai nie.

"Die berge het 'n muis gebaar,"* lui die spreekwoord, wanneer 'n yslike bohaai oor iets gemaak word, maar niks beduidend kom daarvan nie; of as iemand niks vir sy harde werk kan wys nie.

Dit het nooit in die koerant verskyn nie en 
niemand het 'n woord daaroor gerep nie. 
Nie 'n dooie woord nie.

Nou ja, nadat ek die Maandagoggend my oplaas voltooide pennevrug ingegee het, het dit in die niet verdwyn. Skoonveld. Dit het nooit in die koerant verskyn nie en niemand het 'n woord daaroor gerep nie. Nie 'n dooie woord nie.

Voorwaar, uit die berge het 'n muis gespruit!

En ek het nie geweet of ek moes lag of huil nie.

Ewenwel, toe ek al ouer was - sê maar so vyftien, twintig jaar later - sou die storie my nie so op my kop gedraai het nie. Want:

Vader Tyd het al genoeg tyd gehad om sy jop te doen en my kennis van skepe en reise was nie meer so nikswerd as op 22 nie.

Al hoe meer mense het die wêreld platgereis, en met die al groterwordende reisbedryf, was daar meer publisiteit en derhalwe baie meer inligting.

In my telefoonnommer-boekie was daar - glo dit of nie - sommer twee kontakte op wie se nommers ek kon druk as ek iets oor bootreise wou weet.

My skryfvernuf was darem al so 'n katspoegie beter.

Die uwe was (hopelik) oor die algemeen meer kundig en lewenswys.

(Helaas, my tikwerk was steeds 'n bedroewende woesterny van tikfoute. Soos hulle sê: jy hét dit of jy hét dit nie.)

Nietemin, as ek nou mooi daaroor dink, sou ek liewer nooit weer 'n storie oor 'n reis op 'n luukse passasiersskip wou doen nie, hetsy denkbeeldig of die ware Jakob. Nie eens ná die tegnologiese rewolusie en die koms van woord-verwerkingsprogramme en Google nie. Een keer was genoeg!

* Die Triomf-roete staan nou as die Sophiatown-Mode-distrik-roete bekend en die ou Aucklandpark-roete (Roete 65) is hierby ingesluit.

* In Johannesburg was elektriese trolliebusse tot vroeg-1980 in gebruik. Roetes 66 en 67 was van die laaste trolliebusroetes wat nog aktief was.

* Die "muis"-spreekwoord het sy oorsprong in een van Esopus se fabels en hoewel daar deesdae verskillende betekenisse vir hierdie gesegde is, selfs verskillende bewoordings, was dit in die Klassieke tye meerendeels van toepassing wanneer daar 'n groot gepratery oor iets was en plegtige beloftes gemaak is, maar bitter min daarvan gekom het. Dit was dikwels in politiek gebruik.