Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.1.17

Tegnologiese Robinson Crusoe uiteindelik gered

PIET EBERSÖHN skryf uit Korfu: Dit het as't ware gevoel of ek `n tegnologiese Robinson Crusoe is toe ek aanvanklik langer as twee weke sonder internet of selfoon op die eiland Korfu in die Ioniese See gestrand was.


Ons moes seker maar dinge sien kom het toe alles nou nie uit die staanspoor verloop het soos ons beplan het nie.

Die gedagte was dat ons Maandag 7 November net ná 13:00 op Athene se lughawe sou land.

Ons vier baster-worshondjies sou `n kwartier later land, ons sou hulle oplaai en per gehuurde motor na Amfilochia vertrek – waar ons die nag sou oorstaan voor ons die volgende dag die veerboot Korfu toe by Igoumenitsa sou haal. (Ons het met ons vorige besoeke altyd van Athene af Korfu toe gevlieg, en wou darem `n slag iets van die Griekse vasteland ook sien.)

Illustrasie
Só sou dit egter nie gebeur nie. Met die honde se dokumente wat vertraag is en heen-en-weer besoeke aan die koeriermaatskappy (drie keer), die staatsveearts en die doeane, laai ons ses uur later in die skemerte die honde in die kar.

Teen dié tyd het ek al twee belangrike wenke van die veearts ontvang: tensy jy soos die Grieke leer dink, sal jy nooit in die land gelukkig wees nie; en die Grieke werk om te leef, hulle leef nie om te werk nie. Sy (die veearts) het op 13 saam met haar ouers uit Amerika uit Griekeland toe geëmigreer.

Ons slaap toe maar die nag in `n oulike hotel op Magara net buite Athene.

Teen dié tyd het ek ook vasgestel dat my selfoon, ongeag die vriendelike vrou by Vodacom in Suid-Afrika se versekering, nie op “roam” gestel is nie.

Piet-hulle se reis van Athene na Korfu.
Die volgende dag se rit vorder toe weens padbouery en reën nooit vinniger as 50 km per uur nie, en dié keer bly ons wel in Amfilochia oor.

Die volgende dag haal ons die veerboot en kom `n dag later as bestem op Korfu aan. Nou om die e-pos en selfoon aan die gang te kry.

Watwo! Die betroubaarste verskaffer op die eiland – so raai “almal” ons aan – se stelsel is vanweë “opgradering” af. Die eerste paar dae is ek elke dag terug by hom, maar die opgradering vlot nog nie ... dit word elke tweede dag ... en elke derde dag.

Intussen leer ons nog `n paar kultuurlesse: “Siga, siga” som die eilanders se lewensuitkyk op – “stadig, stadig”; jy drink nie minder nie as twee-drie ure aan `n koppie koffie (glo onder meer dat die moer kan afsak, en die kelner gaan nie eens intussen kom vra of jy dalk nog koffie wil hê nie); as die mense hier “vanmiddag” sê bedoel hulle teen ses-/seweuur, vanaand is eers negeuur of later, en middag soos in die Engelse “noon” bestaan eintlik nie, maar as jy wil, kan jy dit so teen tweeuur maak.

Sommer so ter agtergrond is normale kantoorure van 10:00 tot 14:00, dan duur “mesimerianós ýpnos” (die Grieke praat ook maar kortweg van siësta) tot 18:00 wanneer die kantore heropen tot 22:00. Daarna is dit eers kuiertyd.

Terug by kommunikasie is die opgradering ná twee weke uiteindelik klaar en ek stap by die winkel uit as die trotse eienaar van €30 se internetdata en €10 se lugtyd op my selfoon – en die volgende les wat kort daarop volg:

Met die €10 het ek €2,40 koopbelasting betaal, 200 minute beltyd in Griekeland gekoop, en het ek EEN MINUUT oor om Suid-Afrika toe te bel. Om SMSe te stuur verg `n afsonderlike pakket, en vir internasionale beltyd is Vodaphone eintlik die enigste opsie.

Nou moet ek seker eers sê dat ons suid van Korfudorp `n woonstel in die landelike nedersetting Pikoulatika (geskatte inwonertal 75) huur solank ons huis in Kontókali, noord van die hoofdorp, opgeknap word.

Sedert die Griekse ekonomiese krisis toegeslaan het, het Vodaphone die meeste van sy winkels op die eiland gesluit. Die naaste (enigste?) een is in Korfudorp, langs die sentrale plein in `n gebied waar dit haas ontmoontlik is om parkeerplek te kry.

Maar nou is daar geen ander uitweg nie en ons vat die pad dorp toe. Ons kry `n raps meer as `n kilometer van die winkel af na die parkeerplek en Mariétte wag maar vir my in die kar terwyl ek soontoe voetslaan.

Vyf minute oor twee kom ek by die winkel aan. Dis siësta-tyd en ek is voor dooiemansdeur. Die winkel maak eers weer 16:30 oop – met die klein genadetjies saam gelukkig nie eers teen 18:00 nie. Ek stap toe die kilometer en wat nog terug en sê vir Mariétte nou ry  ons tot vóór die winkel en wag tot daar `n parkeerplek oopgaan, en dan drink ons daardie twee uur se koppie koffie by die kafee langsaan, maar koop, koop ek daardie lugtyd vandág, en ek stap nie weer al die pad nie.

Só gesê, só gedaan. Ná 40 minute se wag, kry ons parkeerplek en kort ná halfvyf het ek my internasionale beltyd – teen €2 (ten tye sowat R16) per minuut “want Griekeland het nie `n ooreenkoms met Suid-Afrika vir goedkoper tariewe nie”. Maar uiteindelik het die “skipbreukeling” weer kontak met die wye wêreld!

Hoe pas ons aan? Wonderlik!

Die uitsig van Piet se rekenaartafel af. Voor regs is die 
Chalkiopoulou-meer, waarna merendeels sommer as die 
lughawemeer verwys word. Die berge met die sneeu in die 
gtergrond is op die vasteland.
Ons sal net graag in ons eie plekkie wil nes skrop, maar intussen bly ons lekker, en sal op die duur nie sukkel met “siga, siga” nie. Tot dan het ons `n pragtige uitsig oor die omgewing, iets wat ons in Kontókali sal mis.


Die kleinwêreldcliché bly maar alte waar. Ons hospita het in die Kaap grootgeword en in die vroeë jare sestig aan Ikeys graad gevang voor sy getroud is en Nederland en later Griekeland toe versit het.

Die Grieke val op as vreeslike gemoedelike mense, en die gebrek aan aggressie is een van ons belangrikste indrukke tot dusver. Trouens, hulle is só vriendelik, hulle toet vir my sover ek ry.

Wat die bestuur aan die regterkant van die pad betref, is ek dit reeds so gewoond dat ek al `n slag of wat van eerste versnelling na tweede kon oorskakel.

`n Ander neukery is dat ons eers `n motor mag koop as ons `n verblyfpermit het – wat nog sloer – en ons ry intussen met `n gehuurde Citroëntjie van 1 100 cc wat verseg om die bult hier na die woonstel toe met ons twee dikkes aan boord uit te ry. Dit beteken ons moet elke keer as ons gery het `n skotige steiltetjie na die woonstel toe uitklim – en wat ookal moet saamgaan (bagasie, kruideniersware, ensovoorts) moet boontoe gedra word. Dalk doen dit ons ook net goed.

Die Citroëntjie moes ek ook al `n slag uit die modder grawe toe dit oornag soveel gereën het dat dit vasgeval het. Met `n eienaardige Griekse graaf waarvan die lem met `n hoek van 90˚ uit die steel loop, was dit nogal `n ervaring.

Maar eind goed, alles goed en ons was nog nie `n oomblik spyt dat ons die skuif gemaak het nie (al is dit seker nog te kort om te praat, en sal daar seker nog sulke tye kom).

En ja, julle kan my nou maar sommer Pêtrôs noem! Die klem is op die “ô”.