Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.6.18

Twee skoonpa’s en 'n boerbokrib

PAUL KRUGER skryf: Hierdie verhaal uit Zoeloeland stam uit dieselfde tyd dat fotograaf Willie Havenga en ek die storie oor die argeologiese opgrawings in die Border Cave bo in die Lebomboberge gedoen het (lees HIER).

Terug uit die berg ontmoet ons weer vir drywer Lynton met die Peugeot in die dorpie Ingwavuma en vertrek ons na die Ndumu-wildtuin van die destydse Natalse Parkeraad. Dit is op die grens tussen Zoeloeland en Mosambiek geleë.

Daar aangekom, is die hek reeds gesluit en niemand in sig nie. Ons span toe
maar net daar voor die hek uit en oorkant die pad die reuse-replika van ‘n visfuik soos op Willie se foto hieronder.

'n Reusereplika van ‘n Kosibaai-visfuik.  Nou die ander dag vertel iemand wat daar in die noorde van Zoeloeland gaan kuier het, dat hierdie struktuur nie meer bestaan nie.  Nogal 'n jammerte, want dit het mooi in die omgewing gepas. Hierdie foto is dus eintlik   baie spesiaal.  Foto: Willie Havenga.

Omdat die omgewing pure wildernis is, loop ons saam-saam en maak ‘n yslike berg vuurmaakhout bymekaar om ons veiligheid te waarborg. Koud was dit nie, want Desember in hierdie kontrei is lekker warm, om nie van die humiditeit te praat nie.

Willie Havenga
Nou wil ek eers van Willie se skoonpa vertel. Hy het as oom Venter by die personeel bekend gestaan. Hy het by die APB onder op die onderste verdieping gewerk, daar by die reuserolle koerantpapier, maar ek is glad nie seker presies wat sy nering was nie. Wat ek wel kan onthou, is dat hy en sy gesin deel was van die toentertydse groep Afrikaners wat na Argentinië toe verhuis het.

Later het die Venters weer na Suid-Afrika teruggekeer en saam met hulle het die, ek wil amper sê, wêreldberoemde, marinadesous van die Argentyne hier by ons aangeland. Die sous kon ons by plaaslike huisbraaie proe, maar jy het verniet vir die resep gevra. Selfs Willie het nie die geheim van die bestanddele geken nie. Een ding is egter seker, daai sous had nie ‘n gelyke nie. So praat ek toe vir Willie om om ‘n bottel van die sous in te pak Zoeloeland toe.

Ndumu-wildtuin
En nou my eie skoonpa. Sy naam was Theuns van Rooijen en hy het noord van Hluhluwe met beeste, dorperskape en boerbokke geboer. Om Willie se sous te kon aanwend, het ons ‘n ribbetjie nodig gehad en so ry ons eers plaas langs om daai ribbetjie te gaan haal. Dit was toe ‘n dubbele boerbokrib en verder het skoonma Anita ‘n boks vol plaaskos ingepak wat seker gemaak het dat ons beslis nie gaan honger ly nie.

Die aand daar voor Ndumu se hek haal Willie sy braaitoerusting uit wat onder meer ingesluit het ‘n staalstaander waaraan die rib met hakies geheg word sodat dit skuins oor ‘n vlamvuurtjie hang met die groot vuur langsaan.

Willie het ook sy spesiale bakkie gebring waarin hy van die sous oorgegooi het. Kort-kort het hy met ‘n kwas die vleis gesmeer en dit braai heerlik. Ons het een ribbetjie helemal verslind en die ander een vir brekfis gebêre. Lynton het ook vir ons ‘n pot stywe pap gemaak wat vorentoe saam met die vleis afgegaan het. En vir mangels was, het ons ‘n kasteeltjie uit die kattebak opgediep.

So met die feesvierdery sien ons aan die oostekant van die see se kant af groot weerligstrale en ná beraadslaging besluit ons om die padpredeikant se raad te volg en na die Manguzi-polisiekantoor by Kosibaai te ry. Dis nie ver van die sogenaamde derde meer nie.

Daar aangekom, beduie die konstabel aan diens dat hy nie slaapplek het nie, behalwe as ons op die plankvloer van die stasiebevelvoerder se kantoor ons wil tuismaak. Daar was nie ‘n ander keuse nie en ons het kwalik die slaapgoed afgelaai toe breek die wolke bokant ons oop en dit reën katte en honde - ons hoog en droog op die vloer van Manguzi se polisiekantoor. Die donderstorm het lank op die sinkdak van die gebou neergestort, maar ons het heerlik geslaap.

Die volgende oggend het die dag helder en skoon aangebreek. Toe word ons elk met ‘n heerlike beker koffie verras. Ons staan toe ewe flink op om nie deur die sersant op sy kantoorvloer betrap te word nie, maar die manne beduie dat hy en sy vrou ‘n paar dae weg is met verlof. Gesels ons so met een van die konstabels en hy vertel die een hengelstorie op die ander, want julle moet weet, hierdie is visvangkontrei op sy allerbeste.

Ek onthou veral een storie wat die sersant, ek meen hulle van was Louw, se vrou oorgekom het. Die sersant het ‘n kleinerige bootjie gehad wat min of meer voltyds in die derde meer oos van die polisiekantoor vasgemeer was. Daar het die sersant ‘n stok en lyn permanent in die water gehad, die stok was stewig oor die boeg van die bootjie vasgemaak om te voorkom dat ‘n ou grote daarmee afreis. Dit is toe ook presies wat gebeur het.

Mev Louw was glo ‘n fyn klein mensie en met die sersant uit op ‘n saak, besluit sy om te gaan kyk of daar iets aan die hoek is. Toe sy nader gaan, sien sy die stok se punt wat op en af gepluk word en die bootjie beweeg heen en weer. Sy roep toe die kantoor met haar tweerigingradio om hulp, want die bootjie is besig om los te kom wat ook net so gebeur toe sy inklim. Die stok is egter nog stewig vas, maar daar vaar sy die diep water in met ‘n onbekende gedierte wat sy nog nie te siene gehad het nie.

'n Koningmakriel
Gelukkig sleep die waterdier haar noordwaarts in die rigting van die parkeraad se kampeerterrein. Een van die konstabels het intussen na die vasmeerkaai gehardloop en sien toe wat gebeur. Hy kontak die sersant per radio en dié laat vat na die kampeerterrein toe.

Daar aangekom vra hy een van die hengelaars om hom met sy boot uit te neem in die rigting waar sy vrou behoort te wees. Dit was ook nie lank nie of hulle gewaar haar darem nog veilig in die bootjie, maar die gedierte het haar steeds op sleeptou. Die hengelaar stuur sy boot tot langs die sersant s’n en hy klouter oor, maak die stok los en knoop die geveg met die vis aan wat toe al redelik pootuit was van die geslepery.

Dit was toe ‘n reuse-koningmakriel (giant kingfish) wat oor die 80 pond geweeg
het, kilogramme het toe nog nie daar in die verre noorde van Zoeloeland aangekom nie. Die vis het glo die kisvrieskas van die sersant ampers vol gelê. Ja, daar is foto’s geneem, maar hulle weet nie waar die sersant dit bêre nie. Maar een ding kan hulle onder eed verklaar. Die vis en die sersant se vrou was amper ewe groot.

Kwinkslag een van die manne, die koningmakriel het maar net vir hom ‘n koningin kom haal, daai’s ma’ al!

Paul Kruger en die visfuik se ware
 
grootte. Foto: Kobus Kruger.
Van Manguzi af is ons noordwaarts terug na Ndumu toe waar ons 'n afspraak met krokodilkenner Tony Pooley van die Natalse Parkeraad gehad het, maar dis nou weer 'n ander storie. So 'n paar kilometer gery het ons ontbyt geëet wat uit die res van die ribbetjie en skoonma Anita se padkos bestaan het.

Ons het eers 'n draai by die bopunt van die drie mere gemaak waar ons die
sogenaamde viskrale besoek het. Dit was 'n gesukkel deur die sand en Lynton en die Peugeot moes hulle storie ken. Gelukkig het 'n viertrekvoertuig van die Parkeraad ons vergesel en weer by die gruispad terugbesorg.

Die viskraal werk so: Met hoogwater swem die visse bo-oor die kraalmuur wat van stewige boomtakke gemaak is. Laagwater sak die water en is die visse agter die kraalmuur vasgekeer. Die vissers gaan dan in met die fuike druk dit bo-oor die vis en haal dit by die opening aan die fuik se bokant uit. So maklik.

Sommige van die visse word tussen bome opgehang om te droog en die dag se kwota word gebraai. Daai gebraaide vis was heerlik en die geploeg deur die sand het die moeite geloon.