Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.9.17

Des Erasmus (deel 1 van 2): Die joernalistiek was ‘n nering, nie 'n betrekking

HENRIETTE LAMPRECHT, hoofverslaggewer by Republikein in Windhoek wie se storie hier onder oor veteraankoerantman Des Erasmus in Republikein in Windhoek verskyn het, skryf: Des Erasmus is letterlik die ‘last man standing’ van sy generasie gatskopjoernaliste en vir my ’n mentor en die versinnebeelding van die Afrika-gesegde: “wanneer ’n man sterf, brand ’n biblioteek af”.

As ‘n boorling van die Kaapse Middellande was Des Erasmus se eerste kennismaking met stories van tannie Miemsie van Deventer van ‘n buurplaas.

Word daar gekuier soos wat bure maar maak, kon niemand slaaptyd vir peuters naderwink as juis sy nie, al het dit soms saam met ‘n traan op die sagte babawang gepaard gegaan.

Van sub A tot standerd 6 is Des ‘n leerling by ‘n plaasskool op ‘n gehuggie op ‘n spooraansluiting bekend as Baroda. ‘n Donkiekar met Dapper en Donker aan die stuur word as koets vir die afstand van sowat 3 km skool toe ingespan. Weelde was later op sy dikwielfiets skool toe.

Skool was toe in ‘n een vertrekkie en op mooiweersdae soms ook in die skaduwee van ‘n boom. Miesies Jones was die onderwyseres.  As jy stout was soos om in sommetyd opstelletjies te sit en skryf, het sy jou met ‘n houtliniaal oor die kneukels geslaan, vertel Des.

Hoërskooljare was op Cradock, sowat 20 km van die plaas. In sy studentejare op Stellenbosch dien hy op die redaksie van die studentekoerant, Die Matie en die jaarblad, die Stellenbosse Student. Aan die einde van sy “admissiejare” wens hy vir eers ‘n oorbruggingsjaar voor hy die volgende vier jaar se studies aanpak.

Op 1 Augustus 1959 val Des as nuuskadet by die destydse SAUK se kantoor in Windhoek in, met soms ‘n bietjie afloswerk by streekkantore in Suid-Afrika. “In daai eerste maande in ‘n nuuskantoor was daar wonderlike kennismakings met ‘n Royal-tikmasjien en die kantoor se eie druktelegraafmasjien waar nuuslyne weerskante toe gevloei het. Lui die teleks eers drie klokkies, kon jy maar weet storiegewys is daar ‘n grote aan die hoek.”

Des Erasmus
Sy oorbruggingsjaar sou ‘n leeftyd word. Op 23 word hy die SAUK se jongste streekredakteur vir daardie jare, ‘n rekord volgens die sekretaresse.

Die nakoming van spertye was ‘n lewensles wat die SAUK se nuuskantoor ingeprent het. Nog ‘n les was die kortkuns van die joernalistiek, met tweehonderd woorde wat die absolute maksimum vir ‘n groot storie was.

“Net die room moet afgeskep word, dit het my laat voel of ek kon ontplof, vir atmosfeer was daar nie plek in ‘n radiostorie nie,” vertel Des.

Des skryf ook vir ander publikasies en koerante en wel onder ‘n skuilnaam. Hy maak sy buiging in Die Vaderland, Hoofstad en later ook Die Transvaler. Vir langer artikels - veral oor wild - was daar publikasies soos Die Landbouweekblad en ook ’n bietjie vir Huisgenoot.

In 1966 het ‘n verplasing na die Wes-Kaapse streekkantoor in Seepunt (Kaapstad) gekom. “Ek wou nie daarvan hoor nie en in die wroeging is selfs ‘n bedanking oorweeg.”

Die hoof van al die streekkantore in Suider-Afrika, ene Callie van der Merwe, roep hom tydens een van sy besoeke aan Windhoek, kantoor toe. Hy trek weg met ‘n gesprek van verraad teenoor homself en teenoor die korporasie en Des meen “hier kom fire nou.”

Volgens hom is die mens se loopbaan groter as sy eie saak en is dit tyd om na die geskrewe woord,synde koerante of tydskrifte, oor te gaan.

Vir Des ‘n verlossing en op 1 Augustus 1966 begin hy as voltydse redaksielid by Die Suidwester in Windhoek, die band van die kortkuns van die radio gebreek. In die plek van bandopnamemasjiene met hul verstrengelende rolle het notaboeke en kameras gekom.

Die tot tien spertye per dag van die radio was nou net twee per week op verskyningsdae. Later drie keer per week en toe ‘n dagblad.

“Jou kopie gaan sub toe, dan setters en handsetters en van hulle na die drukmasjien. Later het bladuitleg bygekom. Die geld was bietjie, maar die lewe ryk.”

Sy eerste groot storie was nog in die eerste radiodae. As nuusman het Des elke dag sy rondtes gery, met die Eroslughawe een van die aandoenpunte. Hy vertel Suid-Afrika was in 1959 al die verwerpeling van die vasteland en landingsregte vir vlugte na oorsese lande wat geweier is. Om die boeg van Afrika moes na Europa en ander lande gevlieg word. Ghana onderskep een so ‘n vliegtuig van SAL en hou die bemanning en passasiers dae lank aan. Op diplomatieke vlakke is onderhandel, maar uiteindelik word goedkeuring gegee dat die vliegtiuig met sy passasiers na Suid-Afrika kan terugkeer met Windhoek as eerste landingsplek. ‘n Internasionale storie soos min.

Angel Engelbrecht (links),
Des Erasmus (staande) en
Hannes Smith (regs).
“Op my rondtes kom die vliegtuig net aan toe ek ook op die lughawe is. ‘n Bietjie met die passasiers gesels en toe as groentjie met die ‘storietjie’ terug kantoor toe.

Daar gekom, ontplof die nuuslyne. Almal soek opvolgstories en baas Charlie Hoeflich juig oor sy kantoor se ‘scoop’. Ek staan daar soos ‘n dom kalf en deurleef die petalje waarvan ek deel was, maar dit nie besef het nie.”

Op nuusgebied was daar nie ruimte vir voorkeure nie, sê Des. Menslike nuus en sport was baie lekker. Hof nie juis nie omdat hy immer die beskuldigde jammer gekry het “waar hy daar weerloos voor die gereg staan!”

Sport het ruimte vir kommentaar en atmosfeer geskep en met rubrieke moes Des selfs instaan vir ‘n siek skryfster van die vrouerubriek Oor die Heining deur Bettie Buurvrou! By Die Suidwester volg Des tot redakteursvlak.

Hy verwys na sy “Big Brothers”. Skryfmanne soos Angel Engelbrecht en Hannes Smith. (Vandag is albei hierdie koerantveterane al wyle – Red)

Keetmanshoop-treinramp, 1977
“Eintlik net dié twee met Bill Franklin en Kurt Dahlman (Zeitung) wat ‘n bietjie buite gestaan het. Omdie een of ander onbekende rede was ons onderlinge gesprekname Neef Kaas vir Engelbrecht, Jakkie (soos in jakkals) vir Smith en Tollie vir my. Ons het in harde kompetisie gestaan met ‘n hegte vriendskap wat alles saamgebind het.”

Smalend was die segswyse dat jy nooit feite met ‘n goeie storie moet laat inmeng nie. Die regte benadering was om by die feite te hou, maar om dit met jou eie sousie aan te bied, sê Des.

Kom jy met jou rolfilm op’n ongelukstoneel, is blitsig ‘n paar foto’s geneem, die spoeletjie uitgehaal en so diep in die motor versteek dat jy dit self later moeilik sou kry. Dan neem jy hoflik en openlik nog foto’s op ‘n volgende spoel. Sou ‘n polisieman op die toneel jou kamera afvat en die spoel uithaal en die film uittrek, dan mag hy maar.

Boeing 707-lugramp naby Windhoek in 1968.
Des vertel met die eerste ooptrek van die Hardapdam by Mariental se sluise is ‘n vliegtuig teen ‘n prys vir Frans van der Merwe as fotograaf vir lugfoto’s van die skouspel gehuur. Maak hy sy kamera terug op kantoor oop, is daar geen as daar egter geen filmspoel in nie. Frans moes toe maar op eie koste weer ‘n vliegtuig huur om te gaan foto’s neem, vertel Des.

Hy herroep die dag toe wyle Anna Frank as politikus ‘n baie belangrike toespraak op Gobabis gaan hou. Van Gobabis is Frank reguit lughawe toe vir ‘n oorsese reis. Des doen die storie en terug by die kantoor begin hy sy notaboek soek wat vandag steeds weg is. Hy moes maar uit die vuis skryf en met Frank se terugkeer laat weet sy dit was die beste verslag wat ooit oor ‘n toespraak van haar geskryf is!

Stories van ‘n leeftyd wat hom sal oorleef was die Boeingramp buite Windhoek van 1968. Die treinramp by Keetmanshoop waarin troepies van die operasionele gebied op pad huis toe was, kom in die Suide in ‘n botsing met ‘n trein gelaai met ‘n vrag rotse vir die treinspoor, te sterf.

“Juis daai Boeingramp was van die moeilikste werk wat gedoen moes word. Mense met families baie na aan jou het gesterf. Jy moes die oproepe beantwoord of iemand nie dalk nog leef nie.”

Max Schmeling
Verwoerd
Natuurlik moet jy jou voorberei op ‘n storie, sê Des. Al die “tools” moet in jou boks wees as jy daar aankom. Is dit politiek, is dit goed om voor die tyd die spreker te vra wat hy meen in sy toespraak beklemtoon moet word.

“Vandag se joernaliste word mos met die lepel gevoer. Dit gee vir hulle tyd om by “unions” en sulke goed aan te sluit sodat hulle hul eise aan hul werkgewers kan stel. Op nuuskonferensies het ek feitlik nooit vrae gevra nie, almal kry mos dan die antwoord. Keer eerder die man aan die woord ná die tyd in ‘n gangetjie voor en vra jou vraag, dan is die antwoord net joune.”

De Villiers Graaff
Douglas-Home
Hy sonder onderhoude met die “geniale” Hendrik Verwoerd, die “gentleman” Sir de Villiers Graaf, Sir Alec Douglas-Home van Brittanje en Max Schmeling, voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld uit.

Ook Gé Korsten vir wie Des gevra of hy dink hy is die tweede Gigli (beroemde Italiaanse tenor). Nee, sê Gé, hy is die eerste Korsten). Vir hartspesialis prof. Chris Barnard vra hy in ‘n onderhoud wat is sy gewildste tydsverdryf. “Om met koerantmanne te praat” sê hy.

Gé Korsten
Chris Barnard
Hy vra homself dikwels hoekom skryf hy nog op 80 jaar. “Die joernalistiek is ‘n nering, nie ‘n betrekking nie. Ek antwoord altyd ek het maar nou die dag my vakleerlingskap voltooi, mag ek dan nie ‘n bietjie werk ook nie?”

Goeie joernaliste is self nooit groter as die storie nie, sê Des. Vereistes is “jy respekteer altyd jou bron. Boemelaars het ook regte. Sal jy saam met die gepubliseerde werk kan leef? En is die eindproduk die beste wat jy kan doen?”

Kry hy weer die geleentheid, is dit beslis weer joernalistiek. “Dit vorm my en maak my.”