Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.2.18

Paul en Willie krap steentydperk oop

PAUL KRUGER skryf: Hierdie storie word aan Willie Havenga opgedra -- uitstekende fotograaf, goeie maat en kollega. 

Die oeroue vraag: Waarom klouter klimmers berge?

Antwoord: Hulle doen dit omdat die baas so sê.

In hierdie geval was die baas mnr Otto Schwellnuss, lid van Die Vaderland se hoofredaksie, as ek nou mooi reg onthou. Die ou groot gryse se kantoor was op die vierde verdieping skuins oorkant die algemene redaksie se hokkiekantore, maar ons plebs het baie min met hom te doene gehad.

Otto 
Schwellnuss
Tydens die jare wat ek by die APB se uitgewery gewerk het, het ek wel van hom bewus geraak as romanskrywer, meesal speurverhale wat hy onder die skuilnaam Paul E Otto geskryf het. Hierdie boeke was baie gewild.

Ieder geval, op ‘n dag in 1970 se Desembermaand raak ek bewus van ‘n skaduwee oor my Olivetti en daar staan nuusredakteur, Frans du Toit, met sy groot kykers en beduie hy vir my dat ek by mnr Otto moet gaan aanmeld. Skrik ek my in ‘n vaalte in, want dis ongehoord dat hy met my wil praat, tensy ek iewers groot drooggemaak het!

Dit is natuurlik so dat Desember wat nuus betref, komkommertyd is. Mnr Schwellnuss het ook dadelik dit onomwonde gestel dat hierdie storie waarop hy vir my en fotograaf Willie Havenga wil stuur, beslis nie ‘n komkommerstorie is nie. In die argeologie, waarin hy klaarblyklik ‘n groot belangstelling gehad het, het hierdie storie al die bestanddele van ‘n baie groot scoop gehad. Dis nou volgens hom.

Willie Havenga
Só gebeur dit toe dat ek en Willie en drywer Lynton die pad vat Ingwavuma toe. Hierdie dorpie is so halfpad bo-op die Lebombo’s aan Zoeloeland se kant geleë. Hier het ons vir Lynton en die Peugeot gelos en Willie en ek is toe te voet verder die steiltes uit tot bo waar ons ‘n manjifieke uitsig oor die Big Bend-kontrei van die suide van Swaziland gehad het. Hier het ons weer afgesak tot by ‘n smallerige lys wat ons na die ingang van Border Cave gevat het. Ons was redelik benoud oor die yslike krans hier onder ons voete en ons het met die rug teen die krans voetjie vir voetjie aangeskuifel.

● Byskrif:  Willie (bo) en Paul (onder) het ook geleer om oor die berg se kranse te klouter. "Dit was nogal ‘n ding, want ek en Willie het nie juis van bergklim iets geweet nie.  Ook was die kwessie van berg-afval nie juis op ons agenda nie."

Mnr Pete Beaumont van Johannesburg, is die leier van die huidige opgrawingspan wat uit ses lede bestaan Hy het sy graad in argeologie in Kaapstad verwerf en het toe al vir hom ‘n plekkie tussen Suid-Afrika se voorste argeoloë oopgegrawe, by wyse van spreke.

Dit was ‘n moeilke storie, want my kennis van argeologie het berus by wat mnr Schwellnuss daar in sy kantoor aan my oorgedra het, en moes Pete met groot geduld die lesing verder vat, maar gelukkig het ek darem gesnap en het my weergawe van die aktiwiteite in die afgeleë grot en Wille se puik foto’s darem goeie kommentaar ontlok en ‘n klop op my en Willie se skouers van mnr Schwellnuss en Frans.

Die storie het voorblad en middelblad gehaal en dit was duidelik nie ‘n komkommerstorie nie. Border Cave se uitgrawings het toe later inderdaad bewys dat die kulture van die steentydvak in Suider-Afrika ontstaan en ontwikkel het, en ouer is as dié van Europa. Kortliks kom dit daarop neer dat onse oeroue voorvaders van Suider-Afrika af noordwaarts beweeg het en later weer suid. Border Cave het dit alles bevestig en dit was toe inderdaad 'n wêreldwye argeologiese scoop, Otto Schwellnuss s'n.

Terug by Lynton op Ingwavuma wil ons by hom weet of hy sy kuier geniet het. Lynton was ‘n volbloed Soweto-Zoeloe, maw pa en ma albei Zoeloes. Vertel hy dat dit lekker was, maar dat hy plek-plek nie die plattelanse Zoeloes se taal kon verstaan nie, want hulle, verklaar hy, praat “hoog-Zoeloe”. Hy wou melk by die kafee koop en vra toe vir “umeleko”, maar die kafeemense weet nie waarvan hy praat nie. Hy wys toe na ‘n literboksie melk en die mense lag vir hom. Beduie hulle dat dit “ubisi” is wat hy wil koop. Lynton sê daar in Soweto het hy nog nooit van hierdie woord gehoor nie, soos wat Ingwavuma se Zoeloes nog nooit van “umeleko” gehoor het nie.

Met ons staptog oor die bokant van die berg, het ons op ‘n ou oskar afgekom. Net daar kruip ‘n stuitigheid oor ons, klouter ons op die verwese oskar en kreet ons dit daar teen die kranse uit: VOORWAARTS! Soos die Voortrekkers dit sou wou gedoen hê. Willie stel sy kamera op ‘n klip, spring saam met my op die oskar en hier is die foto met erkenning aan Hanekraai, die personeeltydskrif.

Willie Havenga en Paul Kruger se stuitigheid.

 Die Vaderland se voorblad op 21 Desember 1970.  Die intro was:  'n Argeologiese 
ekspedisie in die Lebombo-bergreeks in Noord-Zoeloeland verwag om binnekort 
‘n belangrike ontdekking te doen wat daarop sal dui dat daar moontlik kulture 
van die steentydvak in Suider-Afrika ontstaan en ontwikkel het wat ouer is as dié 
van Europa.

Die Vaderland se middelblad op 21 Desember 1970.
 (● Paul was in die vroeë sewentiger jare redakteur van Hanekraai, die voorloper van Perskorhaan. Hy was ook Die Vaderland se munisipale verslaggewer. -- Red.)