Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

Wát het my besiel? Veral omdat ek juis daai dag van alle dae besonder baie agter stories aan moes loop. Hofsaal in en hofsaal uit. Sommer al binne die eerste uur het ek in my mooi, hoë, nuwe skoene begin steier, asof ek "tipsy" was. Kort-kort moes ek teen 'n muur leun om my voete te laat rus.

Illustrasie
Boonop het ek my vrek gesukkel om 'n hof wat in sitting was, muisstil binne te glip, sonder dat die verdekselse, verklikkende klik-klak van hakke luidkeels my "aankoms" van hier tot in Madagaskar uitbasuin. Soos kinders wat stories aandra. Elke keer was ek doodbang dat die landdros my uit die hof gaan jaag.

Teen middagete was ek poegaai, skoenvoos en keelvol. Hinkend soos 'n bejaarde donkie is ek na die naaste skoenwinkel om die platste plat skoene te koop waarop ek my hande kon lê.

Soms was daar genoeg nuuswaardige hofsake om van te kies en te keur; ander kere moes ek maar met so 'n ou askiestog-storietjie tevrede wees. En menige dae het ek skietgebedjies opgestuur dat ek asseblief tog net in daai yslike hofgebou 'n storie kry.

Toe beland 'n bielie van 'n hofsaak sommer uit die bloute soos 'n boks tjoklits in my skoot, sonder dat dit vir my nodig was om myle ver - die metrieke stelsel was nog nie ingeburger nie - daarvoor te loop en soek. Danksy kollega Molly Geyser.

Molly Geyser
Molly was ook een van ons agt studente in die joernalisteskool. So, ons het al 'n entjie pad saam geloop.

'n Besoek aan 'n gesondheidsentrum het haar snuf in die neus laat kry - sy't vermoed dat dié plek 'n bordeel verdoesel. Wát presies hierdie sentrum was, kan ek nie meer onthou nie, maar in een of ander stadium is die woord "klub" ook genoem.

Frans du Toit
Daardie dae was onsedelikheid 'n baie ernstige misdaad en nadat sy haar vermoede met nuusredakteur Frans du Toit bespreek het, het sy die saak by die polisie aangegee. Dit het tot 'n hofsaak gelei, waarin sy staatsgetuie was. Ek sou die storie skryf.

Die verdagte meisies van die bordeel het as 'n groep in die hof verskyn, so stokstyf-deftig uitgevat dat hulle enige dag 'n Victoriaanse teepartytjie kon bywoon. Hul prokureur het ek al voorheen dikwels in die hofgebou gesien. 'n Man met houding. Dan het ek nogal gewonder of sy knaende teenwoordigheid in die hof/howe dalk 'n teken van sy sukses was. Hmm, tyd om uit te vind.

"Staan in die hof!" het die klerk van die hof dramaties beveel net voordat die landdros die hofsaal binnegekom het, en 'n oorverdowende gedruis van 'n saal vol siele, wat soos een man van die hofbanke af opstaan, het opgeklink.

Lékker nuuskierig het ek my op die persbank reggeskuif nadat ons almal weer gaan sit het.

Maar, wil jy nou meer, die landdros het nog skaars sy eie sit op die landdrosstoel met die hoë rugleuning gekry, toe die prokureur ontsteld opspring, kwaai deur sy bril na my gluur en - van alle dinge - beswaar teen my teenwoordigheid in die hof aanteken. (Tja, regsghoeroes kla nie soos ander mense nie, hulle teken beswaar aan.) Dié man se probleem met my was dat ek, as Molly se kollega, haar kwansuis in my beriggewing sou bevoordeel.

Eers het ek my boeglam geskrik vir die prokureur. Toe was dit: O hel, ek het my storie verloor! Want die landdros het die beswaar gehandhaaf, of toegestaan, of wat ook al die laaistok-ingeslukte-regsterm daarvoor is.

Die mat was behoorlik onder my uitgepluk. 'n Gekantkiesery? Het dít nie sien kom nie. En so 'n bogstorie. Ek wou huil. Of lelik praat. Of baklei - soos 'n kat wat 'n groot wolfhond wou aanvat.

Ten minste was die landdros 'n man met 'n goeie hart, want toe hy my aansê om die hof te verlaat, het hy dit op 'n vriendelike manier gedoen. Selfs verskonend geklink.

Nie dat dit my juis minder goor laat voel het nie.

Maar, nou ja, eintlik het die prokureur net sy werk gedoen, het ek besef ná ek myself 'n koppie slegte kafeteria-koffie ingejaag het. Dit wás immers sy plig om met die spoed van 'n visarend toe te slaan die oomblik dat hy enige iets gewaar wat moontlik tot sy kliënt(e) se voordeel of nadeel sou wees.

Tot vandag toe bly dit vir my 'n raaisel hoe hy so vinnig twee en twee bymekaar kon tel dat ek en Molly kollegas was. Miskien het hy ons in die gang sien gesels voor ek die hof binnegegaan het. Hoe dit ook al sy, hierdie onverbiddelike, ongenaakbare man se speurvernuf was voorwaar honderd maal beter as die van Sherlock Holmes, vermoed ek.

Maar, hei, die hoop beskaam nie! En kort voor lank toe loop ek weer dat dit bars agter stories aan.

En ek kon my ore nie glo toe ek die einste prokureur 'n paar dae later in een van die hofgange raakloop en hy my wrintiewaar om verskoning vra omdat hy my uit die hof gestuur het nie. Hy moes doen wat hy moes doen, het hy verduidelik. Nogal ewe vriendelik en menslik en vreeslik sjarmant. Ek was so erg uit die veld geslaan (en in vervoering oor sy sjarme) dat ek sommer in 'n soutpilaar verander en skoon vergeet het om hom te vra hoe hy van my en Molly se kollegaskap geweet het. Daarná het ek nooit weer 'n kans gekry om dit uit te vind nie.