Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.6.17

Dankie, jy het ons nooit gedrop nie

JEAN OOSTHUIZEN se huldeblyk aan PG du Plessis wat op 11 Junie 2017 in Rapport Weekliks verskyn het met onder meer die brief wat hy vir sy redaksie geskryf het toe hy weg is as redakteur van Hoofstad.

Jean skryf: Die meeste mense sal PG du Plessis waarskynlik onthou as dramaturg, skrywer, storieverteller en televisiepersoonlikheid van formaat.

Oor sy bydrae tot die letterkunde, die toneelwêreld en as akademikus is daar meer as genoeg bekwame mense wat daaroor kan skryf.

Ek onthou hom as my heel eerste koerantredakteur by die destydse middagblad Hoofstad in waar hy my as jong, nat-agter-die-ore joernalis aangestel het.

PG du Plessis
Iemand met wysheid en humor wie se fyn satire die vrye spel van my eie verbeelding ontsluit en so my hele lewensuitkyk beïnvloed het.

Hy was een van min redakteurs wat van buite die mediawêreld aangestel is en joernaliste nie net liefgehad het nie, maar lewenslank lojaal gebly het teenoor almal wat saam met hom gewerk het.

Ons eerste ontmoeting was ná ʼn brief wat ek in 1979 aan hom persoonlik geskryf het om aansoek te doen vir ʼn pos by die koerant toe niemand anders op my aansoeke reageer het nie.

Sy sekretaresse het my geskakel en gesê PG wil my sien. Met die intrapslag in sy kantoor sien ek die brief waarin ek redelik voorbarig kla omdat my aansoeke nie beantwoord word nie, lê op sy lessenaar.

Jean se aansoek vir 'n pos by Hoofstad.
“Is jý die een wat so vrypostig was en dié brief vir my geskryf het,” het hy met ʼn vonkel in sy oog met die deur in die huis geval.

'n Uur later na my heel eerste werksonderhoud het ek by sy kantoor uitgestap met ʼn aanstelling as joernalis.

Op my brief se koevert wat ek vandag nog het, het hy geskryf “Aangestel. R300 per maand."

Dit was die begin van ʼn lang en intieme werksverhouding waar ek die voorreg gehad het om PG du Plessis nie net as redakteur nie, maar ook as mens beter te leer ken.

As redakteur was hy stiptelik. Spelfoute kon hy nie verdra nie. Een oggend was daar ʼn handgeskrewe nota van hom in my tikmasjien met die volgende woorde: “Jean, twee woorde spel mens nóóit verkeerd nie, galery en interessant. PG.”

Ek dink nie ek het galery daarna ooit weer met twee l’e gespel nie.

Die redaksie het hy dikwels na sy huis genooi vir ʼn braai. Behalwe sy oog vir ʼn mooi vrou kon hy met gesag oor byna elke onderwerp onder die son gesels.

Jean se "aanstelling".
Op die ingewing van die oomblik sou hy voor die klavier inskuif en musiek daar en dan uit sy kop
komponeer om net die volgende oomblik ʼn ingewikkelde wiskundesom te verduidelik asof dit so maklik is soos een plus een of oor sterre en planete begin gesels.

Op sy plaas Sémoér by Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal het ons tot laatnag saam om ʼn vuur onder die sterrehemel gekuier terwyl hy so maklik soos asemhaal vir ons die wonderlikste stories vertel.


As politieke korrespondent het hy my gereeld na sy kantoor geroep waar ons ure lank gesels het oor die storm en drang van die Afrikanerpolitiek in die tagtigerjare.

Gewoonlik het die gesprekke ʼn veel wyer draai as die politiek geloop. Hy het intens belanggestel in elke mens wat vir hom gewerk het.

Toe hy my by geleentheid aanmoedig om ʼn boek te skryf wou hy dit nie aanvaar toe ek sê ek dink nie ek is opgewasse daarvoor nie.

PG op sy plaas, Sémoér.
Enige mens met skryftalent kan ʼn boek skryf, het hy gesê. Maar dit verg oefening en harde werk. Op my vraag hoe skryf mens fiksie daag hy my uit om enige voorwerp in sy kantoor te noem waaroor ek wil hê hy moet skryf.

Die eerste item waarop my oog kon val was ʼn marmerasbakkie op sy lessenaar. Asof hy die storie al lank in sy kop het, maak hy daar en dan ʼn wonderlike verhaal op met die asbakkie as tema.

Oor die mense wat die blokke marmer met pikke en beitels uit granietrots moes los kap, hulle lief en leed tot waar die asbakkie uiteindelik sy staanplek op sy lessenaar kry. Toe ek hom verder uitdaag en sê ja, dis een ding om ʼn storie so vertel maar om dit te skryf is iets anders sleep hy tikmasjien nader. Hy tik so vier of vyf paragrawe, haal dit uit sy tikmasjien en sê: só doen mens dit.

In sy afskeidsbrief aan die redaksie het hy beloof dat hy dat hy ons nie sal drop nie.

"As jy jou agterstewe uit die redakteurstoel lig, verlaat jy nie net ʼn stoel, ʼn onmoontlike verantwoordelikheid, en jou maandelikse grasie nie. Jy verlaat ʼn spesie, het hy aan ons geskryf.

Daardie brief van hom wat ek tot vandag bewaar, was een van sy vele woordskeppings wat niemand hom kan nadoen nie.

"Joernaliste en koerantbesture, verspreidingsmense en advertensie-ouens is, net soos die bevolking van die fabriek, subspesies van ʼn spesie wat seker so half beskryfbaar is as die koerantsubspesie van Homo Sapiens – êrens uit die stam van die primate," het hy oor ons geskryf.

Wat hier in aanhalingstekens volg is die res van daardie afskeidsbriefbrief en vertel iets van PG die mensch en waarom ons so lief was vir hom ...

“Maar lig jy daardie agterstewe, dan is dit minstens ʼn ryker agterstewe as die een wat jy aanvanklik met meer idealisme as voorkennis in daardie einste stoel kom neersit het.

“Niemand kan die versamelbak van probleme wees, soveel by besture neul, soveel hande in die lug opgooi, en soveel met ministers en die balju te doen kry, en nie ʼn beter mens wees as hy daar uitkom nie.

“Jy weet meer van dinge ná die tyd, want jy het daagliks gesien hoe die aktuele dinge in die oog van die gemeenskap leef, net om ewe vinnig te verdwyn – dis jou job om van die dinge te weet. Jy weet ook meer van ménse: die wat van hulle goeie naam en hulle publisiteitjie leef; die wat die openbare lig vrees en die wat daagliks, sommer êrens voor die noodlot, die geweld, die geheime begeertes van die binnekant, seerkry en seermaak, ondergaan en opstaan, strewe en ontken, sleg is en erken, en so voort. Mettertyd behoort jy tot die subspesie wat dalk té veel kennis het van die donker/ligte aard van die spesie.

“Jy sien hoe joernaliste dit verwerk: sinisme, te veel drank in Vegkop en Die Hoekie, te veel redelose planne vir die wegbreek, te veel maklike oplossings na vier doppe – so hier en daar gryp een ʼn mistiek, ʼn bygeloof en ʼn geloof aan. (Vir die oningeligtes:  Vegkop en Die Hoekie was die joernaliste se kuierplek in onderskeidelik Johannesburg en Pretoria. -- Red.)

“Die probleem is: jy kry hulle lief, dié goed wat joernaliste heet. Want in hulle kennis, hulle storie-gejaag, hulle verwerking van die dinge wat hulle beleef, sit daar baie moois van wat menswees is: die sin van die ratrace tot die dood toe.

“En, jy kry ʼn vertroue in hulle. Nie in wat hulle weer gaan aanvang nie, maar iets baie dieper: dis mense dié wat jou, as die werklike ellende kom – soos kanker, skandale, bankrotskap en die ouderdom – nie gaan drop nie.

“Dit is die grootste vertroue wat jy kan hê – om iemand met jou persoonlike magteloosheid, wanneer dit kom, te kan vertrou.

“Dit glo ek van joernaliste. Dié dat ek lief is vir die spul. Want net hulle oppervlakte is luid, skurf en sinies. Hulle professionele gevoelloosheid is masker.”

“Ek sal ʼn joernalis met my lewe vertrou, maar verdomp nie met more se soberheid nie. Werk dit uit. Dit werk. Want dis ʼn lewenswyse gepuur tot die dinge wat regtig saakmaak.

“Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid as daar dalk sukses is.

“Maar oor mý moet julle nie twyfel nie. Ook nie oor my liefde nie - soos julle my, so sal ek julle nie drop nie.

“En as ek nie meer verder kan nie, gaan ek julle kom roep om te kom help. Nie die skynheiliges buite in die establishment nie. Julle.

“En julle kan mý ook maar roep. Want iets van julle dieper lewenswysheid het ek wel opgetel.”

“Vir my opvolger het ek raad. Vertrou joernaliste met jou lewe. Maar nie met jou vrou/meisie/dogter of jou geld nie.

“Maar met jou lewe wel!

Baie jare later het ek PG by ʼn kunstefees in Bloemfontein raakgeloop waar hy my speels voor ʼn vol gehoor verwyt het omdat hy my uit die technikon gaan haal en van my ʼn koerantman gemaak het maar toe “donner hy mos die kerk in".

Vandag sou ek graag tagtig-punt-luid wou sê: Dankie PG, jy het jou belofte nagekom en ons nooit gedrop nie. Ons kon jou altyd met ons magteloosheid vertrou, ook in ons eie soeke na die sin van die rat race dood toe.