Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.11.16

Amper klap Notorius Pretorius se doppie

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!

My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!

Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!

Kollega Dick Robberts van The Herald in Rhodesië se 
Uzi-submasjiengeweer het per ongeluk afgegaan met 
die koeël rakelings by my kop verby.
Daar was dikwels bespreking onder ons joernaliste wat voor onafhanlikheid in 1980 die operasonelegebied van Rhodesië se bosoorlog op die platteland vir stories moes besoek, oor ons bewapening vir ons eie veiligheid.

Ons was bewus van die Geneefse Konvensie Drie en artikel 79 van Addisionele Protokol wat beskerming bied aan joernaliste as burgerlikes teenoor oorlog-korrespondente wat dalk aktief deelneem aan vyandighede, of so- iets. ‘n Ingewikkelde storie.

Ek moet bieg dat ons ons egter nie gesteur het aan reëls en regulasies nie en baie diskreet ons wapens nie ooglopend vertoon het nie. Al wat saak gemaak het, is dat ons net ‘n kans wou staan om in ‘n lokval onsself te verdedig en om nie heeltemal hulpeloos te wees nie.

Ek onthou toe ek in 1978 – tydens bykans die hoogtepunt van die terroriste-oorlog - as joernalis na Rhodesië vertrek het, by dr Lukas Potgieter se winkel Die Kruitvat in Melville aangedoen om ‘n wapen ter beskerming in die bosoorlog te koop. Die pragtige Italiaanse Beretta 9mm-pistool het my aandag getrek, lekker lig om te hanteer, gemaklik vir ‘n vrou, pragtige leerholster. Dr Potgieter het my so aangekyk en gesê: wil jy die terroris skrikmaak of hom doodskiet?

Toe moes ek oorskakel na die semi-outomatiese handgeweer, die Tjeggoslowaakse CZ Parabellum met sy twee magasyne van 17 rondes elk en dié koop. Ek het onmiddellik die nodige opleiding ondergaan om die gevaarte te bemeester en hoe om hom skoon te maak, ‘n oefening wat gereeld in Salisbury opgevolg is.

'n RPG-vuurpyllanseerder soortgelyk aan 
die Strela 2-missiel wat met die neerskiet 
van die Viscount gebruik is – ‘n draagbare 
skouer-tot-lug-missiel.
Op 13 Februarie 1979 het ek en kollega Dick Robberts van die Rhodesiese dagblad The Herald , vroegoggend in sy persmotor na Karoi, 184 km noord van Salisbury naby Kariba vertrek. Die militêre opperbevel het ‘n begeleide en gewapende konvooi vir joernaliste vir ‘n perskonferensie na die gebied gereël. Karoi was ‘n hotspot gedurende die oorlog en die militêre magte wou geen kanse waag met die pers se veiligheid nie.

Die vorige aand, op Maandag 12 Februarie, het terroriste van Joshua Nkomo se Zipra-magte vir ‘n
tweede keer ‘n Viscount van Air Rhodesia op sy vlug vanaf Kariba afgeskiet.

Die eerste Viscount, die Hunyani is in September 1978 op bykans dieselfde plek aangeval met agtien oorlewendes, waarvan die terroriste tien verder op die grond afgemaai en agt oorleef het om hul storie aan die wêreld te vertel.

Nou, vyf maande later is die Umniati, vlug 827 van Air Rhodesia ook deur Zipramagte neergevel en is Rhodesië weer eens in rou gedompel.

Die rit na Karoi neem sowat drie uur, aangesien die begeleide konvooi met gepantserde voertuie met hul AMG-masjiengewere voor en agter die konvooi om die string persmotors te beskerm, nie te vining kan ry nie.

‘n Perssentrum is in die gemeenskapsaal op Karoi opgerig om ons oor die afgryslikheid van die nuutste ramp in te lig.

ZUPA-leier, Joshua 
Nkomo wie se 
Zipramagte vir 
die afskiet van die 
Viscount 
verantwoordelik was.
Ons hoor dat die Umniati, net soos die Hunyani ook deur ‘n hittesoekende Soviet Strela Sam 7-missiel in sy uitlaatpyp getref is en dat al 59 passasiers en bemanning aan boord tot as verbrand het. Daar was geen oorlewendes nie en die president van die Zipramagte, mnr Joshua Nkomo het reeds aanspreeklikheid vir die gruweldaad aanvaar.

Ek en my kollega kry die nodige inligting vir ‘n nuusstorie – hy vir sy koerant en ek vir Perskor -- en ons besluit om haastig terug te keer na Salisbury. Die gewapende konvooi gaan te lank neem en ons gaan daardeur ons spertye mis. Die fotograwe van AFP en AP is per helikopter na die ongelukstoneel gevlieg en hulle sou dus vir die nuusfoto’s sorg.

Die algemene gebruik in die oorloggeteisterde land was om nie na 15:00 op die pad te wees nie, aangesien dit die tyd was dat terroriste lokvalle beplan wat hulle genoeg tyd daarna sou gee om na die naaste grens te vlug, of dit nou Mosambiek of Zambië was.

Die waarskuwing aan motoriste om nie na 3nm 
te reis nie, is landwyd in Rhodesie aangebring om 
teen terroriste-aanvalle te waarsku.
As 'n mens dan noodgedwonge soos in ons geval op die pad moes wees, het jy dit net op een manier
gedoen: sit voet in die wind, trap die petrolpedaal en jaag so vinnig as wat jou motor jou toelaat om te ry. Dit was bykans die enigste manier om ‘n potensiële terorriste-lokval van AK-47’s met hul ligspoorkoeëls te oorleef.

Ons was nie bang vir snelstrikke nie, want weens die omstandighede het dit gewoon nie in Rhodesië bestaan nie. Ek kon my nie indink in ‘n situasie waar die padpolisie agter bome skuil – soos hier by ons – om spoedoortreders vas te pen nie. Terroriste was ‘n groter gevaar.

Weens die sanksies was die teerpaaie ook maar nie in ‘n te wafferse toestand nie, maar om so vining moontlik weg te kom, was ons grootste prioriteit. Ek met my CZ Parabellum aan ‘n gordel op my heup en hy met sy Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die voorste sitplek – reg vir enige ongevalle.

Dis toe dat ons die slaggat in die pad tref met ons koppe wat bykans tot teen die dak van die motor wip.

En toe die knal van die geweer.

Eers was ons heeltemal verward en het ons gedink: lokval! Maar toe ons die enkele koeëlgat in die venster sien, en die kruit van die Uzi ruik, het ons besef dit was nou ‘n accidental discharge van sy geweer.

Ons kon vanweë die omstandighede nie stop om die voorval te inspekteer nie, want die son het al lang skaduwees oor die pad gegooi. Ons het deurgejaag Salisbury toe, waar ons kans gekry het om ondersoek in te stel.

Ons was baie dankbaar dat ons veilig was. As ek vorentoe geval het, het die koeël my sweerlik getref.

Ná al die spanning kon ons toe net lag en het ons onsself onmiddellik die byname gegee van: Tricky Dicky en Notorious Pretorius!