Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.3.17

Fooitjie word toe 'n fortuin

PEET SIMONIS skryf: Ek betaal my vrou Esther elke maand n bedraggie sodat sy die 'faailieng' kan doen en papiere weggooi wat nutteloos lyk. Maar sy is baie besig met ander goed en so het dit gebeur dat sy nooit die aandelesertifikaat wat APB vir my uitgereik het, snippermandjie toe gestuur het nie.

Dit was vir een honderd aandele van vyftig sent elk. Totaal R50.

Ek dink alle personeel van die destydse APB het so ‘n afskeidsgeskenkie by oom Marius gekry wanneer hulle weg is by die pers – ek ná iets soos twaalf jaar.

Laat mens nogal dink aan die krismishoendertjie van destyds.

Marius Jooste
Terug na my APB-aandelesertifikaat wat sedert 1977 hier rondgelê het. Dit was die jaar toe ek weg is by die pers om bybelsmokkelaar saam met Broer Andrew van Geopende Deure te word.

Ek weet nie hoe dit alles gebeur het nie maar met dié dat Dagbreek en Sondagnuus en Sondag Beeld toe saamsmelt en Rapport geboorte kry, het iets met die APB-aandele gebeur – sonder my medewete.


Die eerste wat ek weer hoor is dat ek nou Naspers-aandele en MTN-aandele gekry het vir die 100 APB-aandele. Daaraan het ek my ook nie baie gesteur nie want wat kry mens nou vir R50 se APB-aandele?

Petrus Paulus Simonis se sertifkaat van 100 APB-aandele.
My adres het ook ‘n paar keer verander en dit was eers verlede jaar dat daar weer 'n boodskap op my foontjie deurkom van Compushare dat hulle my wil help om my aandele te verkoop of te omskep in elektroniese aandele.

My seun Paul - ingenieur wat in Australië woon – kuier daardie tyd by ons en ek wys hom die boodskap.

Hy weet baie van aandele af en sy gesig verhelder: “Pa,hierdie kan baie geld wees; Naspers se aandele het oor 'n paar jaar groot hoogtes bereik!” Ek wag ek kyk en hy tikketak op die selfoon.

Skaars vyf minute, toe kondig hy ewe droogweg aan: “Pa,ma, glo dit as julle wil, maar dit lyk my daardie paar aandele van die APB is nou minstens ‘n kwart miljoen rand werd!”

En hy was reg.

Musiek in die ore van oues wat nou op 80 stadigaan moet begin dink aan aftree.

So liewe kollegas – gaan krap 'n bietjie rond tussen daai ou papiere. Dalk het oom Marius vir jou ook vyftig rand gegee uit dankbare erkenning
vir jou jare lange diens.