Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.8.13

Johnny was ’n buurman duisend

PIET EBERSöHN skryf: Toe ek nou die dag weer Philip Deetlefs se storie oor die rugbywedstryd tussen Polisie en Wits lees, met sy verwysing na die linkse en antichristelike Witsies (lees hier), dink ek aan ons buurman in Westdene, waar ek en Philip en Wilma in ‘n huis gebly het. Johnny Holloway was as faktotum aan die Universiteit van die Witwatersrand verbonde en – hou vas – die voorsitter van die HNP-tak op die kampus.

Seker dié dat hy hom so ontstig het die dag toe ons ons nuwe buitelugluidsprekerstelsel getoets het. Om beter in die gawe agterwerf te kan partytjie hou, het ons ‘n bykomende stel luidsprekers onder die oorhang van die dak gemonteer. Met die toetsslag het ‘n lied uit die swart musiekblyspel Ipi-Tombi luid deur die oggendstilte geskeur – en Johnny het vervaard uitgestorm om te kom kyk wat raas die swartes so in ons agterplaas.

Johnny was nie iemand wat hom met grassny moeg gemaak het nie. Behalwe vir ‘n versameling pragtige roosbome, was sy hele voortuin en agterplaas met beton bedek. O ja, daar was gelukkig ook sy deeglik benutte druiweprieël. Johnny het sy eie wyn gemaak. Nou nie KWV- of selfs Tassies-gehalte nie, maar ons het dit gewis nie versmaai nie.

Ek kan nie in my hele lewe ‘n buurman onthou met wie ‘n mens so lekker gekuier het as met Johnny nie.

Een middag was die kuier by ons aan huis lekkerder as ander dae. Teen seweuur die aand het Johnny se vrou die oudste van hul drie dogtertjies gestuur om hom te sê die kos is op die tafel. Maar Johnny kon nie wegkom nie. Toe daag die middelste kind op om die boodskap te herhaal. Later ook die jongste. Nog later – ek skat dit was ná agt – daag sy goeie vrou op om haar hele gesin te kom haal. En dit sonder ‘n enkele skewe woord! Altans, nie voor ons nie.

Ek het destyds in Pretoria gewerk en moes vroegoggend in die pad val om agtuur op kantoor te wees. Op ‘n goeie more lê daar werklikwaar ‘n slang op die enjinkap van die motor opgekrul toe ek wil ry.

Nou ja, ek was nooit Honoris Crux-materiaal nie, maar vir ‘n slang is ek so bang dat ek kan vrek.

Philip Deetlefs
Wilma Deetlefs
Ek gryp ‘n graaf en bekruip die satansgebroedsel so saggies moontlik sodat dit nie dalk wakker word en my aanval nie. Toe ek naby genoeg is, moker ek die kop inmekaar net daar waar dit lê – ‘n duik en ‘n skraap in die enjinkap inkluis. Gelukkig darem was dit nie vandag se blikkerige motors nie.

Toe Johnny dit hoor het hy uit sy maag uit gelag. Die slang was reeds dood toe hy dit daar gedrapeer het!

WILMA onthou dat Johnny 'n hart van goud gehad het, en PHILIP voeg by: Nou onthou ek ook van die hondeprobleem wat ons gehad het met ‘n geskytery op die grasperk.

Johnny het toe met die raad gekom dat ons leeupiepie op die sypaadjie voor die heining moet sit en dat die honde nie op die werf sal kom nie.

Ons het toe mengsel van leeumis/piepie by die sirkus gekry en gedoen soos Johnny aanbeveel.

Die honde het ewe onskuldig aangestap gekom en as hulle die reuk kry, het hulle tjankend oor die pad gehardloop om so ver moontlik by die huis verby te stap.