Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.8.13

Blou Bul ‘Otter’ sag soos lam, onthou soos olifant en werk soos esel

HERMAN LE ROUX, gewese sportredakteur van Die Volksblad en van Beeld, skryf: Otter was sy bynaam op skool, maar dit is nie ‘n vleiende beskrywing van die Neil Steyn wat ek ken nie. Eintlik is hy so sag soos ‘n lammetjie; het hy die geheue van ‘n olifant en hy kan werk soos ‘n esel. En nog nader aan die diereryk is hy ‘n ondersteuner van die Blou Bul in murg en been.

Neil Steyn
Maar hierdie oudleerling van die Hoërskool Sentraal wat op Nigel gebore is, maar op
Soutpan naby Bloemfontein grootgeword het, se “tweede” provinsiale span is ook die Vrystaatse Cheetahs - soos met baie rugbygeesdriftiges in Suid-Afrika die geval is.

Neil het al ‘n hele paar jaar gelede afgetree as sportskrywer. Ek kan dit waag om te sê dat die persbank op Loftus Versfeld “leeg’ is ná die dood van Quintus van Rooyen en die uittrede van manne soos Neil Steyn en Johan Volschenk.

Nadat Neil in 1955 in Bloemfontein gematrikuleer het, het hy by Tukkies sy BSc-graad in Landbou verwerf. Sy liefde vir rugby en krieket het hom egter laat besluit om ‘n sportjoernalis te word. Hy het sy loopbaan in 1961 by Die Transvaler begin en twee jaar later was hy lid van die sportredaksie.


Neil Steyn (voor, heel regs) as lid van die persgroep wat die All Blacks van 1970 op hul SA toer vergesel het. 
Voor: Herman le Roux, Gabriel David, Geoff Clarke, Phil Zaayman, Gerhard Burger, Neil Steyn; 
Middel: Bob Irvine, Winston McCarthy, Terry McLean, David Williams, Alex Veysey; 
Agter: Charles Fortune, Wessel Oosthuizen, Rodney Hartmann, Gielie de Kock, Earle Read, Peter Devlin, Fred Labuschagne, Neville Leck, Ray Pigley (agter), Ross Wiggins en Bob Howitt.   
Neil was ’n objektiewe sportskrywer en kenner van die spel. Van voorspelers, veral in die skrum, kon jy hom niks vertel nie. Hy was self ’n sterk voorryman wat vir sy skool se eerstespan gespeel het en daarna vir Tukkies en Oostelikes in die strawwe Carlton-liga sy man gestaan het. ‘n Skouerbesering het ’n vroeë einde aan sy rugbyloopbaan gemaak.

Die vier boeke wat hy geskryf het, getuig van sy veelsydigheid as sportskrywer: Sesse tot Oorwinning (krieket), Weer Wêreldkampioene, Thys Lourens (rugby) en Kallie Knoetze (boks en rugby).

Neil was in 1964 een van die eerste drie Afrikaanse koerantmanne wat ‘n hele kriekettoer meegemaak het, toe hy verslag gedoen het oor Mike Smith se Engelse toerspan in Suid-Afrika.

Sesse tot Oorwinning is sy boek oor Bobby Simpson se Australiese toerspan wat in 1966-67 slae in Suid-Afrika gekry het. Dit was die eerste boek deur ‘n Afrikaanse joernalis oor ‘n kriekettoer in Suid-Afrika. (Werner Barnard, die Afrikaanse krieketkommentator, het reeds in 1955 ‘n boek oor die Springbokke se toer in Engeland geskryf, Amper Krieketkampioene.)

In Weer Wêreldkampioene skryf Neil met gesag oor die 1970-toer van Brian Lochore se All Blacks in Suid-Afrika. Voor die toer het ek saam met Neil en Gerhard Burger (Die Vaderland) Nieu-Seeland besoek vir die All Black-proewe en die voorbereiding vir die toer.

Nog ’n eerste vir Neil (en my) was ‘n “skrikwekkende” ervaring om in Wellington voor die televisiekameras te verskyn om met vrae oor die komende toer gepeper te word. Ek weet nou nog nie hoe Gerhard Burger dit vrygespring het nie, maar ek weet wel dat hy in sy hotelkamer na my en Neil op TV gekyk en heerlik gelag het. Neil skryf in sy boek: “Die Boerseuns was maar vaal voor die skerp ligte.”

Op ons terugreis van Nieu-Seeland het iets met Neil gebeur waaroor ons bitter jammer gevoel het, maar ‘n mens kon nie help om ook daaroor te lag nie.

Toe die vliegtuig op die lughawe van Perth neerstryk, het Neil sy kamera uitgehaal daarmee gevroetel. Toe glip daar lig in en die film met al sy kosbare foto’s van ‘n maand se rondrits in die skilderagtige Nieu-Seeland is daarmee heen.

Die prentjie wat ek nooit sal vergeet nie, was van ’n gefrustreerde Neil Steyn wat buite die vliegtuig op die aanloopbaan die film uit die kamera pluk en die sterk wind wat dit behoorlik om Neil se lyf drapeer.


Neil Steyn (tweede van links) was een van die sportskrywers wat 'n paar jaar gelede van Gerhard Burger afskeid geneem het, toe Gerhard en Sandra van Johannesdburg na Port Elizabeth verhuis het. 
Van links af is: Gert le Roux, Neil Steyn, Johan Volschenk, Herman le Roux, Harry Lombaard, Wim van der Berg en Gerhard Burger.  
• Neil was dertien jaar aan Die Transvaler verbonde. Daarna is hy na Hoofstad, waar hy eers sportredakteur was en later assistent-redakteur belas met sport. Hy was in 1979 SA Brouery se Sportskrywer van die jaar.

• Neil is getroud met Jeanne (Roux) en hulle het drie dogters: Marna Greyling, Karien van Veyeren en Christa Lord.