Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.12.12

Rooi Rus trap Rooi Gevaar vas

PHILIP DEETLEFS skryf: Ek sien die legendariese polisieman, alombekend as die Rooi Rus, het die afgelope tyd in K’rant ter sprake gekom.

In my dae was die Rooi Rus die bevelvoerder van die Blitspatrollie. As ‘n mens hulle gebel het, het hulle altyd die telefoon as “Radio” geantwoord.

Die Rooi Rus, brigadier Theuns Swanepoel, se seun of dalk skoonseun, was
ook in diepolisiemag. Ek kan nie onthou of hy ook by die Blitspatrollie gewerk het nie.

Een dag het die polisie se rugbyspan teen ‘n span van die Universiteit van die Witwatersrand in ‘n vriendskaplike wedstryd gespeel.

Die Rooi Rus
Vir hierdie wedstryd was “vriendskaplik” bloot ‘n teoretiese sport-term. In daardie dae het die studente van Wits die sogenaamde “Rooi Gevaar” versinnebeeld. Jou deursnit polisieman was vas onder die indruk dat die Wits-studente eintlik niks anders as die Antichris was, wat dwelms gebruik het en die Nasionale Party met die Kommunistiese Party probeer vervang het nie.

Om dus teen die “vyand” te gaan rugby speel, was een van die heerlikse uitdagings wat enige polisieman hom kon indink. Al wat in sy gedagtes lekkerder kon wees, was om ‘n klompie Witsies as teikens op die skietbaan te kon gehad het.

Vir die betrokke rugbywedstryd was al wat polisieman was en wat die twee uur kon afstaan, by Wits se rugbyveld om hul span te ondersteun.

Dit was ook in hierdie dae dat die kaalnael-gewoonte by groot sportbyeenkomste redelik mode geword het.

Nou, of hierdie student nie besef het wie die ander helfte van die spelers en die toeskouers was nie, sal ek nie weet nie, maar ek vermoed hy het eerder ‘n streepsak vol Tarzan-twak deur sy longe getrek voor hy al sy skoene en al sy klere uitgetrek het en tussen die spelers deur met sy kaalbas oor die veld genael het. Reguit in die uitgestrekte en verwelkomende arms van die Rooi Rus en sy seun!

Brigadier Swanepoel en sy seun is toe met die kaal student terug oor die veld en het (per ongeluk) met elke tree met hul swaar en harde diensstewels op Kaalman se voete getrap. Aan die oorkant het hulle hom nog vir oulaas ‘n harde trap op die voete gegee, gewaarsku en met bloedvoete losgelaat. Nooit ‘n hand gelig nie.