Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.8.13

Uitgeplukte film red my van 90 dae se opsluit

PEET SIMONIS skryf: Herman le Roux se mooi storie oor ons ou mater Neil Steyn (mater is Neil se woord), het ek baie geniet. Ek en Neil was dieselfde jaar in matriek in dieselde skool in Bloemfontein en ek en Herman het saam by Volksblad gewerk vir ses jaar ... lekker jare.

Herman en sy vrou (naam is Rina as ek na ‘n halfeeu nog reg onthou) het in 'n baie oulike huis gewoon en het nie omgegee dat ek en Esther
ons eerste huis basies op hulle plan geskoei het nie. Dis waar my selfbouery begin het wat later bykomend tot die koerantgeldjies darem 'n leefbare inkomste help verseker het.

Die bouery het my jare lank besig gehou en ek het verskeie huise gebou – twee in Northcliff, Johannesburg ná ek by Afrikaanse Pers (later Perskor) begin werk het. So, ek het min tyd gehad vir enigiets anders – synde ook 'n gesinsman met 'n mooi vrou en ‘n hele klomp liewe kjennerkies. Ek het dus byna nooit saam met die liewe drinke-broers in Vegkop en die Sans deurgebring nie.


Ek verbaas my oor die hegte band tussen julle Vegkop-manne en –vroue. Byna elkeen praat in K’rant met genot en nostalgie oor daardie saamkuiers.

Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Die feit ook dat baie koerantmanne NIE ‘n goeie hap kon vat nie, en hoekom nie. Seker maar sissies, maar ek was en is bang vir die bottel. Te veel gesien wat dit kan doen aan beter en sterker ouens as ek.

Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Die feit ook dat baie koerantmanne NIE ‘n goeie hap kon vat nie, en hoekom nie. Seker maar sissies, maar ek was en is bang vir die bottel. Te veel gesien wat dit kan doen aan beter en sterker ouens as ek.

Maar dis nou nie waaroor ek wil skryf nie.

Neil Steyn
Ek wil terugkom by die “tragedie” met Neil se film wat lig gekry het. Hy het mos per abuis die kamera oopgemaak met die foto’s van sy hele toer daarop – volgens Herman se K’rant-storie.

Toe vertel hy sy toermaters daarvan en hulle ryg die hele film uit die kasset vir 'n foto waarin elkeen van die ou’s ‘n stukkie film vashou.

Neil, dis nou 'n bietjie laat, maar weet jy wat is die eintlike tragedie van daardie skok-voorval? Dit was hoe jy al jou foto's moontlik onnodig vernietig het. As jy die kamera net oopgemaak en gou weer toegemaak het, sou jy hoogstens ses tot sewe foto's verloor het. Vra maar die fotograwe wat weet.

Omdat die film so styf opgerol was in die destydse 35mm filmkasette – was die ander foto's dieper in die
rolletjie vir 'n paar sekondes en selfs minute (in 'n vertrek of vliegtuig soos waar jy was) teen lig beskerm. Hang af van die film se “spoed” (ligsensitiwiteit bv Kodak plus X of Tri X vanmelewe). Jy moet net die kamera gou weer toemaak ná die glips.

Maar dit nou tersyde ... gedane sake het nie keer nie en die saak is al bykans ‘n halwe eeu gelede “gedaan”.

Potlako Leballo
Op 'n keer het die oopmaak van ’n kamera my groot moeilikheid gespaar en dis waaroor die storie nou eintlik gaan. Dit was aan die beginjare van die ANC en PAC se gewapende stryd. Van die voorbokke van die terreur het in Lesotho gaan skuil. Ek dink veral aan lede van die PAC en by name hulle leier Potlako Leballo.

As destydse misdaadverslaggewer was terroriste deel van my beat en my opdrag was om Leballo te gaan soek en ‘n onderhoud met hom te kry. Ons inligting was dat hy in Maseru, hoofstad van Lesotho, was.

Ek het hom toe ongelukkig nie gekry nie, maar wel ander PAC-leiers en het saam met die Sunday Times se
'stringer' in Lesotho die onderhoud gevoer in die plaaslike hotel van Mike Poultney.

Toe alles verby was, het ek koers gevat terug huis toe via die Maseru-grenspos. Die pad gaan verby die Lesotho-grenspos, dan ry jy oor 'n brug en dan kom jy by die grenspos aan SA kant. Jy ry as’t ware deur ‘n stuk niemandsland tussen die grensposte.

Dit was toe ek die SA grenspos nader dat ek aan die onder-end van die brug ‘n gewerskaf sien - manne in burgerlike drag wat effens hardhandig met swartes werk. Later sou ek uitvind hulle was veiligheidspolisie wat besig was om ‘n paar verdagtes te “skud” op soek na wapens of wat ookal.

Maar dit het ek nie geweet toe ek my kamera uithaal en sommer so in die ry deur die voorruit ‘n paar foto's neem nie.

Dit was 'n groot fout. Dit was daardie jare ten strengste verbode om polisie, polisie-geboue of -voertuie af te neem. Oortreding is beloon met tronkstraf en/of groot boetes.

Ek is natuurlik voorgekeer en my deur is oopgepluk . “Wie de hel dink jy is jy om ons af te neem!” en met dié gryp die polisieman die kamera, ruk die film uit en ryg dit behoorlik uit soos met Neil se film gedoen is.

Verligting het oor my gespoel ... daar verwoes hy die getuienis dat ek wel foto’s geneem het!

My mooipraat en soebat dat ek ‘n koerantman is en nie geweet het hulle is polisiemanne nie, het niks gehelp nie. Hulle het my Ladybrand toe laat ry onder begeleiding en daar het die Veiligheidspolisie my behoorlik “ge-grind” soos die Engelse sê. Eers het ’n sagte, vriendelike ou met my gepraat en vrae gevra en dan weer ‘n woeste ou wat gedreig het met opsluiting en 90-dae-aanhouding sonder verhoor en ek weet nie wat alles nie.

Ek dink nie dit was alles oor die fotonemery nie – hulle het snuf in die neus gehad oor my onderhoud met die PAC-man en wou meer daaroor weet. Wel, dit kon hulle ’n ruk later in die koerant lees – geen geheim nie.
Die ondervragery was glad nie lekker nie en toe sluit hulle my toe in die polisiesel by die polisiestasie op Ladybrand terwyl die saak “verder ondersoek” word. Die volgende oggend laat het die koerant tussenbeide getree en is bevestig dat ek is wie ek gesê het ek was – net ‘n bang koerantman wat nie van beter geweet het nie en nog baie moes leer.

Die nag in die tronksel was nie lekker nie - die onoorgetrekte matras op 'n ysterkatel, die goedkoop, grys
tronkkombers, die toilet-emmer in die hoek was 'n nagmerrie.

Ek is eers teen elfuur vrygelaat hangende verdere ondersoek en die beslissing van die Vrystaatse prokureur-generaal (Percy Yutar destyds) of ek vervolg moes word.

My kontakte in die veiligheidspolisie in Bloemfontein – ja misdaadverslaggewers het nie net kontakte in die polisie gehad nie maar by veiligheidspolisiemanne ook – het my die wete gegee dat dit my geluk was dat daardie outjie my film uitgepluk het, want toe dit deur ondersoekers van die saak ontwikkel is, was daar natuurlik niks op nie.

Herman le Roux
Laastens ‘n woordjie tot Herman le Roux se adres. Herrie, jy skryf kort-kort so ’n mooi storie oor jou kollegas van ouds – tyd dat iemand ook sê dat jy hoog geag is deur jou kollegas en sportmense en hogere mense en tot die pers se teemakers. Jy is nie net ’n uitstekende joernalis nie, maar ook 'n ware jintelman. Hoede af vir jou kollega en vriend! Voeg ook by jy is ‘n biblioteek op twee bene – waar’s die boeke wat jy geskryf het met al jou kennis en ervaring – of dan ‘n deel daarvan?

Ons moet praat, want ek is deesdae ook 'n uitgewertjie (maar op klein skaal) en druk boeke en Bybels in die ou Sowjetunie waarheen ons hulle oudag gesmokkel het. ‘n Kennis van my het daar ‘n billike drukpers bekom toe die Berlynse muur geval het en als goedkoop was in die ou Sowjetunie. Daar was dus ‘n tyd toe ons ’n Bybel vir ’n dollar kon druk – ongelukkig nie meer nie met die styging in prys van papier.

Ek wonder wat die destydse veiligheidspolisie sou dink van ons drukkery in daardie geweste!