Só onthou sy kollegas hom:
Pieter Kruger |
As daar nou een sakie is wat André baie na aan die hart gelê het, dan was dit sy geliefde Westelike Provinsie/Stormers.
Ek het jare lank saam met hom gewerk, eers by Die Vaderland, toe by die SAUK se TV-nuus/radiodiens voordat ons paaie die laaste agt jaar weer by Beeld gekruis het. Wanneer die Wiepie op Ellispark gespeel het, was hy daar … in sy WP-trui. Sondae op kantoor was hy vol bravade, of maar bra stillerig.
Hy en Beeld se sportredakteur, Gert van der Westhuizen, het ‘n eed gesweer dat hulle ‘n disa op hul bo- of voorarm sou laat inets het as die Stormers die Superreeks sou wen of die WP baas in die Curriebeker was. Dit het nooit gebeur nie, want ons paaie het ongelukkig verlede jaar aan die einde van Augustus geskei toe Beeld nie André se kontrak wou hernieu nie … en daar wen die WP die Curriebeker in Oktober.
Ek en Estelle het Dinsdagaand ‘n bier of twee in O’Hagans op André gaan drink, kort nadat sy dood bevestig is. Dit was nie maklik nie, maar ek is seker André sou ook ‘n bier op my gedrink het.
Dié gebore plaasseun van die Oos-Kaap was ‘n “jack of all trades”: bakker, brouer, bouer, woordsmid, bladingenieur (soos hy homself later jare voorgstel het). Hy sou altyd ‘n klip vir ‘n kollega uit die pad rol, vra maar vir Gert, die Lem, die Spanjaard, Annibrand en die Horse.
Ons is saam deur dik en dun, maar nou het sy “dice” verkeerd geval.
Harry6 Lombaard |
Dinsdag, 6 Augustus, ‘n dag ná sy verjaarsdag, het nog ‘n boom geval -- André van der Merwe. Hy was nie een van daardie hoë bome wat baie wind gevang het nie, maar wel een wie se wortels stewig geanker was.
In sy skadu het hy lafenis aan sy honde gebied. André was baie erg oor baas se honne. Hy het derduisende rande aan hulle bestee om toe te sien dat ‘n veearts hulle nie hoef uit te sit nie.
André was ook ‘n natuurmens. Komende van die Baai se wêreld, het hy selde teruggekeer see toe vir ‘n wegbreek. Pleks daarvan was dit die Drakensberge wat hom en sy vrou, Denise, jare lank elke jaar teruggelok het. Geen wonder dus nie dat dit sy wens was dat sy as in die Drakensberge gestrooi moet word as hy Moeder Aarde die dag groet.
Maar André was ook die ideale genoot vir sy vriende. Niks was ooit te veel of te groot as hy sy vriende moes help nie. En sy hand en hart was ook altyd oop. Hy het voortdurend plantjies uit sy tuin aan sy kollegas uitgedeel. Vandag is dit ‘n mooi gedagtenis aan hom.
André was ook ‘n intense sportliefhebber. Hy het deur dik en dun by sy rugbyspanne, die Stormers en Streeptruie, gestaan. Hy het ook sy liefde vir sport oor die afgelope twaalf jaar in sy werk uitgeleef deur by SportBeeld die sportblaaie te sub en op te maak.
Cheers André, jou kollegas en vriende sal jou nog lank onthou.
Hannes Schoeman |
Hy was nooit, maar nooit buierig nie en het altyd geglimlag. Ek hoor nou nog sy stem voor my.
André was ‘n top-koerantman met ‘n passie vir sy werk.
En hy was ook altyd uitsonderlik netjies geklee.
‘n Ware gentleman en ‘n yslike verlies vir die koerantwese.
Sipke de Vries |
Ek en André was baie jare kollegas by die SAUK se radiodiens in Auckland Park. Hy by Afrikaans en ek by Engels.
Ek het hom altyd 'n besondere rustige en aangename mens gevind en hy was gewild en gerespekteer onder al sy kollegas.
Dit is 'n groot verlies vir sy vrou en ander naasbestaandes.
Charl Thom |
CHARL THOM skryf: Ek onthou André goed uit my Vaderland-dae. 'n Skerp ou met 'n fyn humorsin. Hy is nogal deur heelparty ouens beny toe hy daarin geslaag het om die mooie Ilze Welgemoed (sy eerste vrou) kansel toe te sleep.
Hy was ongetwyfeld die soort ou wat enige redakteur in sy span sou verwelkom. Jammer ek het na DV-dae kontak verloor met André, want ons het lekker gesprekke gehad. Ek groet 'n diep seun met hartseer.
Willie Buys |
Dit is veral vir ons ouerwordende eks-joernaliste van Perskor egter beklemmende nuus elke keer dat ons 'n doodsberig kry (soos die afgelope klompie maande met gereelde reëlmaat gebeur het) -- veral omdat dit mens skerp herinner aan jou verganklike stoflikheid. Met elke oudkollega wat die Groot Rivier oorsteek, word 'n episodiese era vol ontsaglike kennis en gebeure afgesluit. Dus sê ek van my kant af innigste simpatie aan sy vrou en familie en mag julle spoedige berusting vind.
Piet Ebersöhn |
Ek het hom eers ‘n raps meer as ‘n dekade gelede persoonlik leer ken met die jaarlikse reünie van Perskor-oudgediendes. Sy geesdrif vir dié geleentheid was aansteeklik en ek twyfel of hy deur die jare meer as twee misgeloop het. Hoewel nie ‘n komiteelid nie, was hy een van die manne wat die aktiefste bygedra het om sy oudkollegas by dié geleentheid saam te trek. ‘n Vriendeliker, innemender mens kom jy jou nouliks indink. Ek kan my hom nie sonder ‘n glimlag voorstel nie. ‘n Lekker geselser. Sy en Andries Botha se afsterwe laat ‘n reuseleemte in ons reüniegeledere.
Japie Bosch |
André het Port Elizabeth vir Johannesburg in 1976 verruil en vanweë sy hartlike aard en humorsin gou by sy nuwe kollegas ingepas en vriende gemaak.
Hy wou nooit iets anders as joernalis wees nie. In sy dae by Die Vaderland het hy in hofverslaggewing uitgeblink. Hy het onder meer oor die Breyten Breytenbach-saak verslag gedoen.
Nadat ek Die Vaderland verlaat het, het ons ‘n klompie jare daarna nog kontak gehad. In ‘n stadium was ek ‘n rukkie sonder vervoer terwyl ek vir ‘n nuwe motor gewag het. André se raad aan my was: “Ry solank motorfiets.” Die volgende dag het hy my een gaan help uitsoek – ‘n gebruikte 550cc Suzuki. Met hom op die motorfiets en ek in sy motor is ons na my huis. In ‘n stil straat het hy my begin leer. “Oefen nou. More kom kyk ek.” Hy het ook en nog wenke gegee.
Jare daarna het ek nog die plesier van motorfietsry ervaar, danksy André. Tot vandag – wanneer ek ‘n mooi motorfiets bekyk of die lus het om een te ry – dink ek aan André.
Frik van der Walt |
Fout. Dit het. Ek bel Piet E om seker te maak dis nie ons André nie. Dit was. Die nuus is soos ‘n hou in die maag. Soos een van ons kollegas ná Andries se oorlye opgemerk het. Daar word nie meer in die bos gekap nie. Daar word nou in ons ry gekap.
André was dekades gelede een van Die Vaderland se huursoldate wat Die Transvaler se subspannetjie bygestaan het om spertye te haal. ‘n Soektog na ‘n sinvolle geskenk vir gesinslede se verjaardae en herdenkings is verrassend vinnig om die subtafel bekroon.
My vrou verjaar vier dae ná my. As ek ‘n geskenk gekry het, het ek drie dae tyd gehad om ‘n plan te maak en gewoonlik op die nippertjie daarin geslaag, maar soms vergeet. Een aand wens ‘n kollega my dae ná my verjaardag geluk en ek onthou ek het my vrou se verjaardag vergeet. Ure voor dié dag kom ‘n predikantsdogter tot my redding. Sy het ‘n vriendin wat juwele maak.
‘n Uur of wat later plak Krummel van Vuuren (later Malan) twee silwer armbande voor my neer. “Kies.” Ek vat sommer albei en die huweliksbootjie vaar foutloos voort. Volgens gerugte slaan weerlig nooit twee keer na mekaar op dieselfde plek nie. Snert. Dit het ‘n jaar later weer gebeur. Krummel was intussen nie beskikbaar om te help nie en waar sal my hulp vandaan kom?
Toe haal André ‘n brosjure met geelhoutmeubels uit en stel voor ek knyp oë toe en koop. Ek het ‘n dag tyd en is die volgende oggend by ‘n gewese Transvaalse rubyspeler se fabriek in Jeppe. André het reeds die ontvangsdame gebel om ‘n huwelik te red. Al hul meubels word op bestelling gemaak en daar is niks beskikbare voorraad nie. Sy draai die fabriekbaas, Salty du Rand, as ek reg onthou, se arm om ‘n vertoonstuk aan my te verkoop. Die geelhouttafeltjie se blad het ‘n stamp weg en hy weier om dit so uit die fabriek te laat gaan.
“Maak dit reg,” is haar oplossing. “Wil jy koffie of tee hê terwyl jy wag?” vra sy, en Salty laat die tafelblad regmaak. Opgelaai. Huis toe en werk toe. Ná werk wil my vrou weet wie se mooi tafel staan in die motorhuis. Kla ek oor vriende wat ‘n mens misbruik net omdat jy ‘n bakkie het.
Die volgende oggend is daar trane van blydskap toe sy in die tafel vasloop met ‘n netjiese gelukwensingskaart (wat die vriendelike ontvangsdame goedgunstelik ingesluit het). Weer eens onverdiend die held. In die tafel se laai is ‘n brosjure met al die meubels wat hulle maak.
André waai my dankbetuiging weg. “As jy haar regtig wil beïndruk, koop sommer nou al die volgende geskenk en steek dit by familie weg,” stel hy voor. Volgens hom sukkel Salty en sy vennoot om geelhout te kry en gaan die fabriek binnekort sluit. My vrou stel in ‘n geelhoutspieël belang en ons gaan kuier in die fabriek.
Soos ‘n kind in ‘n speelgoedfabriek. Dis mooi, maar te duur. Dankie vir my volgende geskenk, André, wat ek stilletjies gaan koop en by familie gaan wegsteek. “En?” wil hy die volgende aand weet. “Te duur,” sê ek “maar sy is dol oor die spieël.
“Access Bond. Jy sal nooit weer só ’n kans kry nie. Leen die geld op jou huislening.” Dankie, maar nee. Die volgende dag deel my vrou my mee die ontvangsdame het gebel. Hulle verkoop alles teen halfprys uit omdat die fabriek gaan sluit. André en ontvangsdame het saamgesweer. Teen daardie prys wil bruid sommer ‘n driehoekkas ook hê.
Bank toe. Huisverband dek die begeerte en meer. Tipies vrou maak my vrou seker alles is halfprys. Salty en die ontvangsdame beaam dit. My bruid lig my in dis byna so goedkoop soos gewone houtmeubels en koop nog ‘n dingetjie of twee. Terwyl my vrou en die ontvangsdame geesdriftig inkopies doen, beding Salty ‘n billike afslag op alles waarvan my kinders se ma hou. Ek stem in en dit sal oor ‘n paar weke afgelewer word.
Die groot dag breek aan en my vrou bel my by die werk. “Moenie skrik nie. Jy kan nie met jou bakkie in die garage in kom nie. Dis vol meubels. Die man wat die meubels aflewer het met ‘n oop voertuig hier aangekom en gevra of hy die res van die bestelling voorlopig hier kan aflaai sodat dit nie natreën nie. My goedjies is alles in die huis.”
Ons het die res van die meubels die volgende dag te midde van groot vreugde ingedra. Om te dink een van my vrou se grootste vreugdes is deur ‘n versiende vriend beding. Dankie, André.
Dr Wimpie en Andries sal binnekort deur ‘n vriend tussen hulle tente in die Melkweg verras word. Soos ek André ken, sal hy hul tentpenne uittrek en agterna vriendelik aanbied om die omgewaaide tente weer te help opslaan.
Rus in vrede, my vriend.