PIET EBERSöHN skryf: Dit was halfdrie, drieuur in die oggend. Die laaste uitgawe van Die Transvaler was pas in die bed en die laat skof se manne het ontspannend agteroor gesit met ’n dop, wat by Vegkop laat haal is, om die dag se woelinge in rustige oënskou te neem.
Toe lui die telefoon …
Laat ek my self eers in die rede val.
Hierdie storie is vir my tekenend van die kameraderie wat ons destyds by die koerant (nou praat ek van Die Transvaler in die laat jare sewentig van die vorige eeu) beleef het, en wat daartoe gelei het dat ons amper ’n halfeeu later steeds in mekaar se doen en late belang stel, en deernis vir mekaar het – selfs meer as wat ons waarskynlik destyds ervaar het. Die suurgatte het ooglopend nooit joernalis-wees uit dieselfde hoek ervaar nie, anders sal hulle ook meer tyd vir hul oudkollegas gehad het.
Dan is dit sommer ook ’n soort van huldeblyk aan wyle Gert Swiegers en daardie dae se
misdaadverslaggewers oor die algemeen. As ek na “daardie dae” verwys, bedoel ek die dae voor misdaadkonferensies en polisieskakelbeamptes (toe Leon Mellet nog die fotoverhaal-held Skrikruiter was), toe misdaadskrywers nog op hul eie netwerke aangewese was, ’n “scoop” nog ’n “scoop” was, en daar in DT se geval ’n intense mededinging met die Rand Daily Mail en Beeld in die Transvaalse oggendmark was.
Gert se netwerk het van die destydse minister van polisie, justisie en gevangenisse (sommer “oom Jimmy” vir hom) tot by die nederigste konstabel gestrek. “Vandag se konstabel is more se generaal,” het hy altyd gesê.
Maar ek dwaal te ver af. Soos gesê, het ons in die nagkantoor in Nieu-Doornfontein gesit, besig om die dag se dinge te herkou, toe die telefoon lui.
Dit was iemand van die afgeleë Kuruman in die Kalahari met ’n nuuswenk. Twee mense (blykbaar ’n pa en ma) is dood toe hul motor ontplof het terwyl hulle gewag het om hul kinders ná ’n skoolkonsert op dié dorp op te laai.
Ter agtergrond: Dit was in die dae toe die brandstofkrisis op sy ergste was en mense gastoestelle in hul motors aangebring het om die brandstof verder te rek. Dié motor was met so ’n toestel toegerus. Daar was ook landwyd ’n snelperk van 100 km/h, en dit was soort van ’n halsmisdaad om dit te oortree. Op die koop toe was vulstasies van sesuur saans tot sesuur soggens gesluit, en ’n mens mag nie meer as vyf liter (dink ek) brandstof opgegaar het nie.
Ná ’n kort bespreking is besluit dat Gert vir die storie Kuruman toe moet ry. Nee, te wyte aan die groot geesdrif sou DT sommer ’n span Kuruman toe stuur. Ek (’n sub) en wyle André Pienaar (die sportsub) sou Gert vergesel. Dave Viljoen, die nagredakteur, het hoëre gesag wakker gebel en die goedkeuring is gegee.
Daar was ’n haakplek. Die administrasie het hul nagrus geniet en van ’n voorskot trek, was daar geen sprake nie. En koerantmanne is arm. ’n Kollekte onder die aanwesiges het net so ’n rapsie oor die R20 opgelewer. Bygesê, ’n mens het toentertyd nog drie Amerikaanse dollars met ’n rand gekoop!
En daar trek ons met een van die Pers se getroue Peugeot 404’s. Eers by ’n sjebeen langs, vir so ’n nipperkin brandewyn om die ergste koue te verdrywe, toe vat ons die lang pad.
Halsmisdaad of nie, met Gert aan die stuur (hy is darem van tyd tot tyd afgelos) is die pad teen so 140/160
km/h afgeblits. Kuruman is oor die 500 km van Johannesburg af en die laaste saktyd vir die volgende uitgawe ’n skrale 15 uur ná ons vertrek.
Toe ons Lichtenburg haal, was die tenk leeg, en die petrolpompe nog toe. Ons moes dus maar wag vir sesuur. Wat ’n skok toe ons agterkom die motor is boonop sonder ’n druppel olie. Toe alles vol is, is ons geld op, maar ons had nog ’n blanko tjek waarmee ons hoop om op Vryburg te kan tenk vol maak.
Die vulstasie-eienaar by wie ons aangedoen het, was so in sy skik met ’n eksemplaar van daardie dag se Transvaler wat ons aan hom kon gee (die res van die dorp sou dit eers die volgende dag kon koop), dat hy maar die tjek vertrou het.
Onderweg het Gert sy planne met militêre presiesheid uiteengesit. Hyself sou met die polisie gaan praat, ek met die familie by die oorledenes se huis en ABJ met die bure.
“Sorg dat jy elke enkele foto van die oorledenes in die hande kry,” het hy my die dood voor oë gesweer, “sodat niks vir die opposisie oorbly nie. Sê ons moet alles saamvat sodat ons op die masjiene kan gaan kyk watter foto’s die beste sal druk. Hulle wil tog nie hê die oorledenes moet sleg lyk in die koerant nie.”
Gert het selfs die stasiebevelvoerder omgepraat om niemand anders by die wrak in die polisieskrootwerf toe te laat nie. Dit het só deeglik geslaag, dat toe hy later besluit om vir die wis en die onwis die wrak ook in swart/wit af te neem (hy het mos sommer self fotograaf gespeel ook), die wag verseg het om hom toe te laat!
Toe duur dit amper langer om ’n toonbanktjek deur Volkskas uitgereik te kry om die terugtog te finansier, as om die storie te kry! Daar was mos toeka nie rekenaars nie en hulle het verheks gesukkel om die tak in Johannesburg te bel om die transaksie uit te klaar. Praat van senutergend.
Ons was maar bra vaal om die kieue toe ons kort voor saktyd terug in Heightstraat was, met ruimte vir die hoofberig op die voorblad en die helfte van bladsy twee wat op ons lê en wag.
Die druk was enorm, maar ons kopie was betyds in die drukkery.
Dit het die kroon gespan toe Die Volksblad, Kuruman se “plaaslike” dagblad, sy lesers die volgende dag net ’n paar paragrawe van Sapa af kon bied.
En toe Gert nie die vervaardiger van die gastoestel vir ’n opvolgberig in die hande kon kry nie, was dit nie “Jammer, Baas (hy’t mos Willie Buys altyd so genoem), geen storie nie”.
DT het berig: “Vervaardiger van gastoestel verwyn spoorloos.”