Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.8.13

Verslaggewer 40 jaar gelede

PHILIP DEETLEFS skryf: Vanjaar is dit 40 jaar gelede toe ek in Aucklandpark by Die Transvaler se redaksie ingeval het. Pas klaar met twaalf jaar op skool, ’n jaar se diensplig en ’n jaar op universiteit.

Vandag kan ek lekker terugdink aan die stuk of 17 jaar wat ek in die joernalistiek betrokke was.

Een van my heel eerste gewaarwordinge van die nuwe wêreld waarin ek my begewe het, was dat dit hoegenaamd nie ‘n beroep met aansien is nie, soos Frans du Toit duidelik uitgestippel het met sy vertellinge van hoe moeilik dit was om mense te kry om die werk te doen.

Ons salarisse het ons status as bodemvreters weerspieël wat natuurlik die stories wat ons graag wou dek, grootliks beïnvloed het.

Vir ‘n verslaggewer was daar min om na uit te sien. Daar was dinge soos die einde van die Paasskou, die einde van ‘n verkiesing of ‘n hofsaak.

Maar ná ‘n lang dag van ambulanse jaag, by die polisie gatkruip vir stories en met huilende oorlewendes en familie van slagoffers gesels, het ons altyd iets gehad om na uit te sien – om oor ‘n koue bier saam met ons kollegas/vriende te kon ontspan.

Van natuurrampe, gesinsmoorde, bloederige motorongelukke, honderde lyke in lykshuise en wie weet wat nog, het joernaliste byna op ‘n daaglikse grondslag grusaamhede ervaar waarvan die meeste mense in ‘n leeftyd net hoor.

Omdat ons salarisse min of meer op dieselfde skaal as ‘n opgeleide sirkusaap s’n was, kon ons nie terapie bekostig nie. Ons kon egter R6 betaal vir ‘n bottel goedkoop brandewyn of vodka. Niks kon die dag se dinge so goed uit jou stelsel spoel soos ‘n yskoue bier by die Sans Souci of Vegkop nie.

Een van die stories wat ons jongelinge destyds graag gedoen het (gewoonlik vir die kunsblad) was om ‘n skemerkelkparty by die een of ander ghrênd hotel by te woon. Dis min werk, maar daar was gratis drank en spoggerige eetgoedjies soos garnale wat tuis net op die droomspyskaart was.

Die ander rede hoekom 'n mens graag dié geleenthede bygewoon het, was omdat jy as verslaggewer daar deur mense van aansien met respek behandel is – minstens tot die storie in die koerant verskyn het.

Die Doornfontein-hotel of te wel Vegkop
Daagliks wanneer ons op ons eie iets gaan drink het, was dit in die soort kroeë wat ons kon bekostig - soos Vegkop. Die soort plek waar jou drinkebroers dieselfde mense was as die ouens waaroor jy gewoonlik geskryf het.

En hoewel die verslaggewer nooit werklik sy joernalishoed kan afhaal nie, was daar in die kroeg ‘n ongesproke skietstilstand tussen verslaggewers.

Wat julle vir mekaar vertel het, was “off the record” en daar is heerlik geskinder oor redakteurs, polisiemanne en burgemeesters.

En as die loopsoop gesluk is en die rondte is betaal, is almal weer terug na hul poste waar die enigste doel was om die “opposisie” te scoop.

Gesondheid!