Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.8.13

Moet tog nie vir Gerhard vra hoe was sy toer-vakansie nie

GERHARD BURGER, destyds Die Vaderland se sportredakteur, vertel dat die toer saam met Hannes Marais se Springbok-rugbyspan in 1971 na Australië geen vakansie was nie. Dié storie het in Augustus 1971 in Perskorhaan, personeelblad van Perskor, verskyn. (Die foto links is in 1973 geneem. - Red.)

My splinternuwe seegroen hemp is die laaste keer in Sydney gesien. In sy plek in die wasgoedpakkie het ek 'n verweerde witte, twee nommers te groot, gekry. In Brisbane het my nommer 34-onderbroek, twee sakdoeke en 'n paar sokkies verdwyn. Ek het darem Johan Spies se nommer 42-Jockey in my pakkie gekry.

Op Orange het ek op 'n lamlendige stoel tussen die toeskouers gesit, met my notaboek op my tikmasjien op my bene.

Daarvandaan het ek byna twee myl gehardloop, met koue vingers in die poskantoor se telekskamer 'n berig uitgetimmer en twee dae later gehoor my kopie het 'n halwe dag laat in Johannesburg aangekom.

In Adelaide het ek vyfuur een oggend met 'n betoger saam poskantoor toe gery en myself probeer wysmaak hy probeer my nie verongeluk nie. Sy taxi se remme was maar net gedaan.

Omdat Nieu-Suid-Wallis se vervoerwerkers nie die pos van die lughawe poskantoor toe wou karwei nie, het ek 'n maand nie van die huis af gehoor nie en my verjaardagkaartjies drie weke laat gekry.

In Sydney het ek deurnat gereën omdat al 3 500 taxi's in dié stad beset was toe ek terug motel toe wou ry.

Toe ek by die huis kom, stap my dogter al 'n maand lank en begin skreeu toe ek haar wil optel.

Die volgende keer dat iemand my vra hoe ek my vakansie in Australië geniet het, gaan leen ek 'n pot warm lood op die eerste verdieping.

Behalwe die gewone: hoe't jy die toer geniet? is hierdie vakansie-storie die onslukbaarste van al die verwelkomingsgroete wat 'n sportverslaggewer ná 'n toer kry.

Australië was 'n toer vir 'n middagkoerant. Van agtuur soggens tot tienuur saans het alles in ons middagkoerant se tyd geval. Lekker lang dag ...

Bikini-parade langs die Gold Coast
Van die beroemde Barossavallei se wingerde en die nog beroemder Gold Coast se bikini's het ek net mooi niks gesien nie. Terwyl die Springbokke en oggendkoerante se manne daar was, het ek en nog twee ongelukkiges gespook om berigte oor spankeuses deur te kry.

My paar pragtige Vrededorpskoene het teen Brisbane se bulte, tussen die poskantoor en die motel, die gees gegee. My duur leerkoffer het ná drie toere van die rondgooiery op lughawens gehensop. Die droogskoonmakery het my beste sportbroek se ritssluiter verwoes.

Voeg daarby die gedurige kommer of die kopie wel in Johannesburg uitkom. Orange se ryp wat tot twaalfuur op die strate lê, Melbourne se longontstekende koue vroeg een oggend toe die Springbokke voor 250 polisiemanne geoefen het, die 2,5 myl-stap van Toowoomba se poskantoor tot by die motel bo-op die vulkaanberg toe die paar taxi's beset was ...

En dan sê my buurman se dogter: ,,Ooo, ek wens ek kon ses weke so met vakansie gaan!"