Die gewese Voortrekkerpers- en Dagbreekpersjoernalis, GERT LE ROUX, wat onlangs op 78 in Pretoria aan hart- en longmoeilikheid oorlede is, het as administrateur, statistikus en joernalis diep spore in Suid-Afrikaanse atletiek getrap.
Ná sy universiteitsopleiding aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat het hy in 1956 by die destydse SA Uitsaaikorporasie in diens getree.
Hy was van 1959 tot 1962 lid van die sportredaksie van Die Transvaler in Braamfontein. Hy is daarna na Dagbreek en Sondagnuus in Doornfontein en later in Aucklandpark. Dié koerant het later met Landstem saamgesmelt om Dagbreek en Landstem te word.
Toe Roelf Theunissen in 1965 sportredakteur van Die Beeld geword het, het Gert hom as sportredakteur van Dagbreek opgevolg. Toe dié twee koerante in 1970 saamsmelt om Rapport te vorm, het Gert vanweë beleidsverskille oor die aanbieding van sportnuus bedank.
Hy is kort daarna as die SA Amateuratletiekunie (SAAAU) se eerste heeltydse sekretaris aangestel – ’n pos wat hy 22 jaar lank beklee het.
Later jare was hy as medewerker aan ‘n ander Perskorpublikasie, die Pretoriase weekblad, Metro, verbonde.
Sy naam is in 1998 in die SA Brouerye se roemsaal van Suid-Afrikaanse sportjoernalistiek opgeneem.
Hy was ‘n medewerker vir Sapa asook verskeie internasionale atletiekpublikasies en het tot onlangs gereeld praatjies oor dié sport oor RSG gelewer.
Le Roux, onteenseglik die doyen van SA atletiekstatistici, was meer as 50 jaar lank betrokke by die uitgee van die Suid-Afrikaanse atletiekjaarboek en het as atletiekstatistikus wêreldwyd groot aansien gehad. Hy is in 1995 deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) met sy gesogte “Veteraan van die IAAF”-toekenning vereer.
Gert, wat losskakel en senter van die Universiteit van die Vrystaat en die Johannesburgse klub Diggers gespeel het, het ook oor rugby geskryf en onder meer in 1967 as rugbyskrywer saam met die Springbokke in Frankryk getoer. Hy het oor 30 toetse verslag gedoen.
Le Roux word oorleef deur twee seuns, Gerrie en Otto, en drie kleinkinders.
GERHARD BURGER, gewese sportredakteur van Die Vaderland en later hoofredakteur van Transvaler, skryf: Gert le Roux sou dit dalk in die stilligheid geniet het as hy kon lees wat in die volgende sinnetjie staan.
Die klomp drolrollers wat die afgelope jare by Atletiek SA aan die bewind was, het geen benul van wat Gert le Roux vir atletiek gedoen en beteken het nie.
As hulle wel besef het wat hy tot die sport bygedra het, nasionaal en internasionaal, sou hulle ʼn borsbeeld van hom laat maak het. Maar pleks van iets te bou, soos Gert en sy groot vriend Arrie Joubert, het hulle miskruier-miskruier gespeel.
Gelukkig is die atletiekjaarboeke waaraan Gert soveel tyd en energie bestee het, ʼn spesiale herinnering aan ʼn besonderse mens en sy nalatenskap aan SA sport.
Gert – iets laat my dink hy was Gert Johannes Jacobus Van der Merwe le Roux – was een van die ordentlikste, voorbeeldigste mense saam met wie ons bevoorregtes in die jare 60 en 70 by Perskor gewerk het.
Sy liefde vir atletiek en sy werk as statistikus het hom ʼn voortreflike sportjoernalis gemaak. Al kritiek wat hom ooit te beurt geval het, is dat hy so gesnork het dat niemand op sporttoere ʼn kamer met hom wou deel nie.
As sportredakteur van Dagbreek was hy vir ons ʼn leermeester, ʼn gids en ʼn vriend. Maar gedurende die dae van storm en drang by Perskor is hy ook, soos etlike ander, uiters stief behandel. Gelukkig het die atletiekmense hom met ope arms verwelkom.
Diegene wat hom en sy dierbare vrou taamlik goed geken het, vermoed hulle is albei, so kort ná mekaar, met stukkende harte dood. Gert en Theo het nooit herstel van die slag wat hulle getref het toe hul pragtige, skrander dogter en haar man in die fleur van hul lewe in ʼn padongeluk dood is nie.
NEIL STEYN, gewese sportredakteur van Hoofstad en later assistent-hoofredakteur van Transvaler, skryf: ‘n ikoon is dood! Die legendariese atletiekskrywer en -administrateur, Gert le Roux, is Vrydag in Pretoria begrawe slegs drie maande na die afsterwe van sy eggenote, Theo.
Ek het op 1 Desember 1960 onder Gert le Roux by Die Transvaler begin werk. Hy was waarnemende sportredakteur nadat Willie Muller in ‘n motorongeluk was.
Dié beskeie Vrystater wat vir die Kovsies se eerste span losskakel gespeel het, het my van die eerste dag af as ‘n “seun” aangeneem, iets wat ek as nuweling in Johannesburg, hoog op prys gestel het. Hy het ook besluit dat ek oor krieket berig sou gee en met die rugbyskrywery moes help.
Gert was van die begin af ‘n atletiekman en sou bekend word as ‘n atletiekskrywer van formaat, ‘n kenner van die internasionale atletiek en ‘n uitnemende statistikus wat atletiek nader aan die gewone mens gebring het.
Hy was later sportredakteur van Dagbreek en Sondagnuus en het ook daar groot naam gemaak. Nóg later in sy lewe het hy die administrasie van atletiek betree en uitvoerende hoof van die SAAAU geword waar hy wondere verrig het.
As persoon was Gert ‘n uitsonderlike mens wat met almal in vrede geleef het en oral bemind was.
Later jare was ons lank in dieselfde gemeente en het ons dikwels kontak gehad. Sy laaste jare het hy in die Bosveld geslyt.
Vir my was Gert le Roux ‘n tweede pa. Hy het my van my eerste dag as joernalis af op ‘n mooi manier geleer waaroor alles gaan.
Ek sal hom altyd beskou as die vader van my joernalistieke loopbaan.
HANNES BOTHA, gewese Springbokatleet en president van die SAAAU van 1971 tot 1977, skryf: Toe ek in 1971 as president van die SAAAU verkies is, was die voorkeuropdrag van die atletiekraad om die dringende behoefte aan ‘n heeltydse direkteur te ondersoek. Ek is baie goed ondersteun deur Gert Potgieter, destydse direkteur van die Sportstigting van Suid-Afrika. Sy vertoë aan die Rembrantorganisasie het die raad se motivering sterk onderskryf.
Goedkeuring is gekry om met geld van die Sportstigting die salaris van SA atletiek se eerste heeltydse direkteur te borg. Gert le Roux was die geskikste persoon om die pos te beklee. Hierdie aanstelling sou SA atletiek 17 jaar lank op ‘n wenpad plaas.
Met ‘n baie knap atletiekraad se ondersteuning het hy vele geleenthede gehad om die administrasie op ‘n professionele grondslag te vestig.
Gert was ‘n toegewyde en ywerige administrateur wat plaaslik en internasionaal hoë aansien geniet het. Verskeie borge het SA atletiek help dra en puik suksesse het ondanks sanksies van sommige lande gevolg. Sy bekwaamheid, nougesetheid en onvermoeide taakverrigting het hom tot aan die einde van sy loopbaan laat uittroon bo ander sportadministrateurs in dieselfde amp. Hy moes sy loopbaan ná 1994 voortydig onder politieke druk beëindig.
Sy bedanking het ‘n leemte gelaat wat nooit gevul kon word nie.
Hy het in ‘n onlangse telefoongesprek sy misnoeë saam met ander sportlui te kenne gegee oor die bedenklike toestand wat tans in SA atletiek heers.
GERT POTGIETER, sportadministrateur, gewese wêreldrekordhouer in die 440-hekkies en SA se “Atleet van die Twintigste Eeu”, skryf: Dit was my voorreg om Gert le Roux in die laat sestigerjare as die eerste heeltydse nasionale atletieksekretaris te help aanstel. Hy was ‘n reusesukses. Hy het hom totaal vir atletiek uitgeleef en grootliks bygedra tot ‘n blomtydperk van atletiek -- vol pawiljoene, uitstekende publisiteit en internasionale kommunikasie.
Ek en Gert het ook in die jare sewentig suksesvol internasionaal gereis en atlete vir ons spele gewerf, hoofsaaklik te danke aan sy goeie internasionale betrekkinge. Hy was ‘n lewende atletiekensiklopedie. Sy kennis van atletiekgeskiedenis, statistiek, reëls en organisasie was bewonderingswaardig. Atletiek het ‘n reus verloor wie se gelyke vandag nie bestaan nie!
HENRY WINDELL, ‘n gewese bestuurslid van die SAAAU en Atletiek Suid-Afrika en voorsitter van Noord-Transvaal Atletiek, skryf: Gert le Roux het met selfvertroue in die rigting van sy drome beweeg. Sy drome was altyd om SA atletiek sy regmatige plek in wêreldatletiek te laat inneem. Daarom het hy ’n lewe gelei wat hy graag wou lei en dié positiewe uitkyk het hom ongekende sukses laat behaal in die atletiekdampkring waarvoor hy so lief was. Hy was regtig uniek. Daar was net een soos hy. Gertjie se spore sal nie toewaai nie
Na aanleiding van ‘n versoek van K’rant aan die IAAF om ‘n huldeblyk het ANNE-MARIE GARRIGAN van dié organisasie vir K’rant gewys op die volgende wat op die IAAF-webwerf verskyn, en ingestem dat K’rant dit kan plaas:
The IAAF is very saddened to learn of the death of Gert le Roux from South Africa, who died at the age of 78 on Saturday (17 August).
Le Roux was a hugely respected and much loved administrator, writer and statistician and a contributor for a number of years to the IAAF website. A recipient of the IAAF Veteran Pin in 1995, Le Roux's passion and enthusiasm for our sport will be sadly missed.
On behalf of the global athletics family the IAAF offers its deepest sympathy and condolences to his family and friends.
Dié huldeblyk en ‘n geredigeerde weergawe van Riël Hauman s’n in Distance Running Results is HIER.
DANIE CORNELIUS, Atletiek Suid-Afrika-statistikus, skryf: Gedurende Julie 2013 was dit my voorreg om as spanbestuurder op te tree van die SA Jeugatletiekspan by die IAAF Jeugkampioenskap in Donetsk, Oekraïne. Daar is altyd ʼn redelike rondslomp met die registrasie van atlete wat gedoen moet word alvorens die atlete toegelaat word om deel te neem. Tydens die registrasieproses, is verskeie punte waar elke spanbestuurder moet rapporteer om die registrasie vlot te kan afhandel. Die laaste punt is by die IAAF se Hoofstatistikus waar al die atlete se besonderhede en inligting geverifieer moet word. Toe ek daar aankom, word ek met ‘n bulderende Italiaanse stem begroet met die woorde: “How is my good friend, Gert le Roux, doing?” Die stem behoort aan Otavio Castelini, Hoofstatistikus van die IAAF. Ek en Otavio ken mekaar al etlike jare en sien mekaar gereeld, maar elke keer word dieselfde roetine herhaal deur eers te hoor hoe dit met Gert gaan voordat daar na my welstand verneem word.
Dit is die bekendheid wat Gert le Roux gehad het in die internasionale atletiek-statistiekwêreld. Hy het ongelooflike ontsag en respek afgedwing by al sy medestatistici wêreldwyd deur sy eerlike en opregte verslaggewing van Suid-Afrikaanse atletiekprestasies. Geen van sy uitslae en ranglyste is ooit bevraagteken nie en die ranglyste was elke jaar een van sy “kinders” wat hy grootgemaak het en met rede trots op was.
Sy belangstelling met die hou van atletiekstatistiek is in 1958 geprikkel. Gert, wat toe reeds as ‘n sportverslaggewer bekend was, het vir Allistair Mathews en Arrie Joubert by ʼn atletiekbyeenkoms ontmoet. Die twee here was stigterslede, tesame met Harry Beinart, van die SAAS (Suid Afrikaanse Atletiek Statistici) en hulle het hom oortuig om aan te sluit by die vereniging. Die SAAS, wat in 1954 sy ontstaan gehad het, het ook aan die einde van elke jaar ‘n statistiekboek uitgegee en hy het onmiddellik die kans aangegryp om daarby betrokke te raak. Die 1959-uitgawe was die eerste jaarboek waar sy invloed en betrokkenheid bespeur kon word. Hy later die redakteur daarvan geword. Hy was vir 50 agtereenvolgende uitgawes betrokke, hetsy as redakteur of medewerker van die internasionaal erkende jaarboek. Hy het ook tot onlangs nog gedien in die Uitvoerende Komitee van die International Association of Track and Field Statisticians, die internasionale liggaam waaraan almal wat betrokke is by die byhou van statistiek wêreldwyd, behoort.
In 1971 is Gert aangestel as die Sekretaris van die Suid-Afrikaanse Amateuratletiekunie (SAAAU), ‘n pos wat hy beklee het tot in 1994. In sy diens by die SAAAU, het hy ook ‘n tydskrif die lig laat sien, SA Atleet/SA Athlete waarvan hy die redakteur was. Dié tydskrif was vir menige atletiekliefhebber maandeliks die grootste bron van uitslae, artikels oor die nuutste afrigtingsmetodes en ranglyste in Suid-Afrika en was uiters gewild.
Gert le Roux word beskou as die vader van Suid-Afrikaanse atletiekstatistiek maar was ook ‘n wandelende ensiklopedie oor Suid-Afrikaanse atletiek. Hy was betrokke by menige atlete se suksesvolle loopbane, soos dié van Zola Budd, Johan Fourie en Myrtle Bothma. Elke atleet, afrigter, administrateur en atletiekliefhebber was altyd welkom om met hom te praat oor atletiek, hetsy per telefoon, e-pos of persoonlik en is almal altyd met groot respek en deernis behandel.
Gert le Roux gaan gemis word – nie slegs sy kennis en ervaring wat verlore is nie maar ook die mens, iemand wat vir almal en alles omgegee het en ook as die wonderlike eggenoot van Theo met wie hy 54 jaar getroud was voor haar afsterwe vroeër vanjaar. Vir my persoonlik was hy ‘n ongelooflike mentor, wat hy in 2007 betrek het by die hou van atletiekstatistiek aangesien hy geweet het sy tyd raak min. Hy het egter die visie gehad het om seker te maak dat atletiekstatistiek in Suid Afrika nie mag vergaan indien hy die dag nie meer daar is nie.
Gert le Roux – ek eer jou nagedagtenis en was baie bevoorreg om jou te kon ken as vriend, mentor en vaderfiguur.
Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed. -- Jan F E Cilliers
LAPPE LAUBSCHER, gewese sportskrywer van Rapport, skryf: Ek het Gert le Roux in die laat sestigerjare van die vorige eeu leer ken. Gert was saam met wyle Arrie Joubert en wyle Quintus van Rooyen, die drie mees gesiene atletiekskrywers in Suid-Afrika en ek `n jong snuiter wat my loopbaan as joernalis by `n plattelandse koerant geslyp het.
Gert het my onder sy vlerk geneem en op sy eiesoortige manier geleer dat jy nie oor atletiek kan skryf as jy nie die sport se statistiek ken nie. Dit was hy wat my saamgeneem het na my eerste vergadering van die Suid-Afrikaanse Atletiekstatistici. Sy entoesiasme vir die sport was aansteeklik.
`n Klompie jare later het ons paaie weer gekruis. Gert le Roux was nou die eerste heeltydse sekretaris van die destydse Suid-Afrikaanse atletiekunie. Hy was een van daardie gelukkige persone wat werklik lief was vir sy werk. Maklik was sy werk nie. Hy moes help om Suid-Afrikaanse atletiek vanuit sy kantoor in Pretoriusstraat 999 deur vele stroomversnellings te stuur.
Baie van dié versnellings was polities van aard. In 1971 was atletiek een van die eerste sportsoorte in Suid-Afrika wat `n veelvolkige byeenkoms aangebied het. Nie almal in Suid-Afrika was gelukkig hiermee nie.
In 1975 is Suid-Afrikaanse atletiek uit alle internasionale deelname geskors. Daarna het politiek Suid-Afrika se atletiekbaas, Hannes Botha, in die sportwoestyn gedryf. Gert het nooit sy emosie oor die gebeure getoon nie en voortgegaan om die sport wat hy lief gehad het, te dien.
Toe Gert en sy vrou `n klomp jare gelede besluit het om uit Pretoria te trek, het ek die voorreg gehad om `n groot deel van sy sportbiblioteek by hom te kon koop.
Ek groet `n vriend, `n leermeester en `n jintelman. Rus in vrede.
CHRIS BOTES, gewese atletiekskrywer van Oggendblad en later assistent-sekretaris van die SAAAU, skryf: Gert le Roux se afsterwe laat 'n leemte in die Suid-Afrikaanse sportwereld en spesifiek atletiek, wat nie maklik gevul sal word nie.
Gert was Meneer Atletiek. Hy het die gewese SA Amateur Atletiekunie as eerste heeltydse sekretaris help uitbou tot 'n uitmuntende sportliggaam wat met die bestes kon saamgesels. Dit was nie altyd maklik nie, maar hy het 'n passie vir atletiek gehad wat ongeëwenaard was en is deur atlete en sportadministrateurs wêreldwyd gerespekteer.
My eerste kennismaking met wyle Gert was in Oktober 1972 toe ek as jong joernalis van Kaapstad af na Pretoria verhuis het om by die destydse Oggendblad aan te sluit en toe die opdrag gekry het: gaan kuier by Gert le Roux by die SAAAU. Hy is die man wat jou alles oor atletiek sal vertel. Gert se ondersteuning, kennis en bereidheid om alles te deel om sy sport te bevorder, was tipies van wat ons almal van hom sal onthou.
Só het ek in Januarie 1980 Perskor verlaat en by die SAAAU aangesluit as Gert se assistent-sekretaris te Pretoriusstraat 999 en 'n beter leerskool kon niemand voor gevra het nie. Sy internasionale kontakte, kennis van die sport en passie vir statistiek het hy onbaatsugtig gedeel en my 'n staanplek in die internasionale wêreld gegee.
Gert, nou is dit totsiens vir eers. Baie dankie vir jare se vriendskap, die geleenthede wat jy vir my geskep het en dat ek uit jou kennis kon put. Dit is iets wat ek altyd sal koester.
Rus sag , ou vriend, tot ons weer ontmoet.
PIET EBERSöHN skryf: Gert le Roux se naam is dermate sinoniem met atletiek dat daar seker min mense is wat besef dat hy as yshokkiemedewerker van die destydse Pretoriase weekblad, Metro, waarskynlik meer as enige Afrikaanse (dalk selfs Suid-Afrikaanse) koerantman voor of ná hom gedoen het om dié sportsoort aan die plaaslike leserspubliek bekend te stel.
Sy belangsteling het gespruit uit sy seun Otto, wat vir ook Suid-Afrika gespeel het, se deelname aan yshokkie.