Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.8.13

As lekker langer as ’n vinger lank raak

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Die Transvaler het benewens sy joernaliste en fotograwe op ‘n string medewerkers en korrespondente staat gemaak om die nuusnet so wyd moontlik te gooi. Een van hulle, Otto Krause, was ‘n politieke skakelman wat sakemanne op die hoogte van politieke verwikkelinge gehou het en hoe dit hulle ondernemings kan raak.

Otto Krause
Ek kan nie meer onthou hoe hy in die nagkantoor beland het nie. Vermoedelik vir een van die politieke redakteurs ingestaan om voor, tydens, te midde van of ná ‘n verkiesing met die politieke blad te help. Die gemoedelike gryskop is aan ons voorgestel, ‘n sub is aan hom afgestaan en die politieke blad is fabriek toe.

Hoewel hy daarna gereeld in die nagkantoor te sien was, was daar nie tyd om bevriend te raak nie. Die nagspannetjie was te klein om in werkstyd sosiaal te verkeer. Verskillende subs het verskillede medewerkers bygestaan. ‘n Sekere sub sou Phillippa Breytenbach se kunskenners help of iemand sou Lucas de Lange se ekonoom se bydrae versorg. Elke kenner het sy of haar eie taal in hulle eie vakgebiede gehad wat soms deur ‘n sub bevraagteken is. Soos die eknomiese manne wat meen daar is ‘n subtiele verskil tussen investeer en belê. Albei is in die woordeboek en hoewel die sub gewoonlik gemeen het investeer klink anglisisties het dit in die koerant verskyn.

Só daag Otto een aand laat, baie laat, met ‘n beloofde politieke bydrae op wat dr Willem de Klerk versoek het gebruik moet word. Ek vermoed dit was ná sy skepping van verlig en verkramp en hy wou ‘n politieke debat afdwing. Otto se tydsberekening was swak. Ons was besig om ‘n bottel Jakkals en Bolf kaf te draf om die aand se spanning te ontlont. Een van die subs het die berig vinnig verwerk en dis fabriek toe. Wyl die Skotse sappie ons gemoedstoestand verlig en ons vir die tweede uitgawe wag, verneem ons waarom Otto so laat is.

Hy verduidelik hy het een of ander politikus met ‘n ete en heelwat wyn in ‘n politieke lokval gelei om sy of haar ware kleure te wys. ‘n Dop word vir hom geskink en die manne profeteer terwyl ons vir die proef wag. Die aand ontwikkel in ‘n dawerende sukses. Ons was min en benewens die botel J&B was daar nog ‘n halwe kruik in die kas. Dié bottel is ook tot op die droesem geledig. Teen daardie tyd was ons boesemvriende en Otto nooi die hele span vir ‘n ete. Nee, beduie ons, dankie, maar dis moeilik met ons skofte. Ons werk elke aand.

Gesoute skakelman vis hy uit presies hoe laat ons begin en stel ‘n aksieplan voor. Eenuur uur pas almal en hy beplan ‘n vyfgangmaal of so iets. Twee vroeë subs versorg die vroeë blaaie en ons is veronderstel om teen vieruur op ons poste te wees. Geen problem nie. Ons beplan die ete so dat al die manne wat die aand saam gekuier het dit kan bywoon. Vergeet gerieflikheidshalwe van Die Transvaler se krisisbestuur en dat ons gewoonlik vroeër inkom om soveel moontlik blaaie uit die pad te kry voor die nuusvergadering.

Otto het ‘n smaakvolle woonstel in die noorde. Ons word deur sy huishulp ontvang en ingenooi. Loer in die kombuis, maar daar gaan niks aan nie. Wonder nog waar’s die kos en Otto skink ‘n sjerrie of iets. Hy sorg dat die glase vol bly. Die tonge raak los en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos. Otto nooi ons om aan te sit wat ons terstond doen en die huishulp bring die sop. Volgens Otto het hy ‘n reëling met ‘n hotel se sjef daarnaby om die kos voor te berei en te bring. Ons eet en kuier en Otto skink wyne en die vyfgangmaaltyd vorder teen ‘n gemaklike pas. Niemand kyk op ‘n horlosie nie.

Lekker was nog nooit so lekker nie. Otto is die perfekte gasheer. Ná elke gereg ontspan ons en klap ‘n wyntjie om die spysvertering aan te help. Die plesier kan nie vir ewig aanhou nie en ná ‘n lekker poeding en ‘n loopsoop kies ons koers werk toe. Om ons in ‘n byenes van verwyte en chaos vas te loop.

Wyle Hennie Kotze, wat jare laas in ‘n subkantoor gewerk het, het probeer om die vroeë subs by te staan, maar die een spertyd ná die ander het verbygeglip en hulle het bladsy vir bladsy al hoe verder agter geraak.

Hennie Kotze
Hy wou nog baklei, toe wys ek hom daarop dat die nagspan veronderstel is om eers teen vieruur te begin werk en jammer dat ons ‘n bietjie laat is. Wyle Hennie het die wêreld vol gebel om sy verlore spannetjie op te spoor. Ek vermoed toe hy besef dis vergeefs, het hy Dave Viljoen se hulp in ‘n laat stadium ingeroep om te kom help. Die krisis is met Dave en die fabriek se bystand afgeweer. Ná al die hoofde se verwyte het ons gewag dat Dave ook ‘n onsensitiewe opmerking maak omdat ons sy vermoedelik vry dag opgeneuk het. Hy wou egter net weet of ons die ete darem geniet het.

Ons het. Terdeë.

En die adjunkredakteur, Hennie Kotzé, se bladuitlegpogings is in ‘n laai gebêre om aan voornemende subs te wys hoe bladuitleg nie gedoen behoort te word nie.