Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.8.13

Jasper se huis beplak

Met JASPER SCHELLINGERHOUT, hoofsub van Die Vaderland, se vertrek in Mei 1977 na Port Elizabeth waar hy as streekredakteur van Die Landbouweekblad aangestel is, het hy 'n groet van sy kollegas gekry wat hy en vroulief, Christel, nie maklik sal vergeet nie. Toe dié egpaar ná werk tuiskom, was die mure rondom hul huis met tientalle Vaderland-plakkate beplak.


Japie Bosch het dit destyds laat druk en 'n paar verslaggewers het die huis gaan versier. Dieselfde aand het Jasper en Christel by hul huis afskeid van 'n klompie kollegas geneem.  Hulle het almal een van die plakkate onderteken.  Jasper-hulle het gister by Japie en sy vrou in Jeffreybaai gekuier en dié plakkaat saamgebring. 

Diegene wat dit onderteken het, is:  Charl en Audrey Thom, Weyni en Hannetjie Deysel, Antonie en Alida Richards, Ferdi en Antoinette Hand, André en Ilze van der Merwe, Yvonne le Roux en vriend, Chris, Japie en Myra Bosch en Mari en Chris van Vuuren.

Vyf jaar later het Jasper sy werk bedank en heeltyds gestudeer om predikant te word.

Japie Bosch (links) en Jasper Schellingerhout gister met die plakkaat 
wat  na 20 Mei 1977 terugdateer. 


Só is Jasper en Christel se huis beplak.  Christel moes gou daarna plan maak om 
dit te verwyder vóór hul vertrek na Port Elizabeth 'n rukkie later.