Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.8.13

Andries stil-stil ’n baanbreker

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Nog 'n seder tuimel. Dit voel soos nou die dag dat dr Willem de Klerk in die Melkweg tent gaan opslaan het voordat Andries ook daar gaan uitspan het. 'n Mens was gewoond om hom tydens die jaarlikse Perskor-ete te sien. Hy borrel en bruis van groep tot groep. Lag hier en grap daar en nou is hy weg.

Ek het Andries ontmoet nadat ek Die Vaderland vir meer geld by 'n
mynblad verruil het. Ek en Harry Lombaard het saam daar gewerk, maar gou agter gekom daar is 'n reuseverskil tussen dagbladjoernalistiek en 'n weeklikse personeelblad.

Andries Botha
Harry het 'n ekstra werkie by Die Transvaler beding en my later saam genooi. Ons twee het briewe oorgetik of met berigte gehelp. Andries het kom kennis maak en oor ons dagwerk uitgevis. Ek was nie baie gelukkig by die weekblad nie en kort voor lank het Andries my afgerokkel. "Om wat te doen?" wou ek weet.

"Moenie worry. Ons sal vir jou 'n lekker joppie kry," verseker hy my. En hy het.

Mettertyd beland ek in die subkantoor en ons paaie kruis elke nou en dan. Die winde van verandering waai en terreur sypel van die buurlande af na Suid-Afrika deur. Die veiligheidspolisie keer 'n revolusie, maar die onrus word oproer en vererger daagliks. 'n Opstand bars in Soweto los en word in die kiem gesmoor, maar oproer smeul landwyd.

Willem de Klerk
Lank voordat verligte Afrikaners gesprekke in die buiteland met die ANC aangeknoop het, het dr. Willem de Klerk en Andries Botha met aktiviste gesels. Andries was dr De Klerk se voetsoldaat wat raakpunte met aktiviste in Soweto gekry het waarmee Wimpie hardkoppige politici kon bearbei.

Die twee was 'n gedugte span. Dr De Klerk wou elke nou en dan 'n klip in die politieke bos gooi, maar Andries het die berigte op so 'n manier saamgestel dat niemand aanstoot kon neem nie. Dan het hy ewe gemoedelik in die nagkantoor ingesuiker en die beriggie met 'n grappie of twee verkoop.

Van dié menings het deur die nuusagentskap, Sapa, by die Sowetan beland. Andries se op die oog af onskuldige berigte het deure by swart leiers oopgemaak en dis nie lank nie of hy en dr De Klerk oortuig die regering om sekere aktiviste uit die tronk vry te laat om gesprekke te laat vlot.

Andries wou dié vrylating vier, maar Wimpie het 'n ander afspraak gehad. Ek was op 'n vroeë skof in die nagkantoor en het ook 'n afspraak gehad. 'n Fliekafspraak met my kinders se ma. Kom Andries geesdriftig by die kantoor ingewaai en nooi my vir 'n dop.

'n Vinnige enetjie, want my bruid wag verduidelik ek. G'n probleem, seg hy.

Ek maak die fout om oor sy geesdrif uit te vra en hy lig my vertroulik in watter aktiviste die volgende dag vrygelaat gaan word. Die berig is klaar geskryf en hy wag net vir die amptelike vrylating. Ons klap 'n biertjie en Andries begin verduidelik hoe die proses verloop het. En die biere vloei vrylik. Nadat ons een loopsoop na die ander kaf gedraf het, kom ek middernag by die huis aan waar ek insluip om my gesin nie wakker te maak nie.

In die skemer van my slaapkamer sit 'n netjies aangetrekte vrou op die bed.

"En as jy nou so aangetrek hier sit?" wil ek ewe verbaas van wederhelf weet.

"Ek sou gaan fliek het," lig sy my in.

Chaos in die fabriek is natuurlik vir die vergete afspraak verkwalik.

'n Kuier met Andries was gewoonlik 'n luierkuier van formaat.

Mis jou klaar.

Kuier lekker tussen die sterre.

My innigste simpatie met Elna, kinders en kleinkinders