Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.8.13

Emmie laat die mense na hul asem snak in hitstjor-ren!

"JY gaan vanmiddag 'stokkar' ry!" het Tom Buys, nuusredakteur van Die Vaderland, onomwonde gesê terwyl sy "slagoffer", verslaggewer Emmie (Bornman) Gous, so blekerig om die kiewe word.

Maar Tom is nie 'n man wat van teëpraat hou nie en Emmie en fotograaf Frank Rossouw is weg na die Randse Paasskou se arena waar die hitsmotors elke aand gejaag het.

Emmie in die hitstjor.
Vol bravade het Emmie een van die jaers se oorpakke geleen en die motor bestyg.

In dié stadium was sy nog bleker as toe sy haar opdrag ontvang, het maar dit was te laat omkop uit te trek. Met groot, vreesbevange oë het sy aandagtig na elke instruksie van die jaers geluister.

Die verskil tussen Emmie se houding agter die stuur in vergelyking met die ander jaers, is net oortref deur die lae spoed waarmee sy haar rondte voltooi het.

Die jaers, wat pas hul wedrenne voltooi het, het die toeskouers na hul asem laat snak met die spoed waarteen hulle om die draaie geseil het. Emmie het hulle ook na hul asems laat snak: so tussen die lagbuie deur.

(Emmie is 'n klompie jare terug oorlede. - Red.)


Uit: Perskorhaan, Mei 1974.