Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.8.13

Deurwinterde nuusman vir K’rantspan

CHARL THOM is K'rant se nuwe mederedakteur.  Hy vul die vakature wat gelaat is ná Andries Botha se heengaan.

Charl het grootgeword op ’n plaas in Noord-Natal in die distrik Utrecht en in 1961 aan die Hoërskool Volksrust gematrikuleer.

Ná sy Weermagopleiding is hy na Tukkies waar hy ‘n BA-graad
met Afrikaans-Nederlands, Engels en Antropolgie (Volkekunde) verwerf het.

Skets deur Len Lindeque.  Uit: Perskorhaan, Februarie 1977.
Sy eerste pos was by die SAUK Nuusdiens in Durban waar hy drie jaar deurgebring het. Vandaar is hy na die Natalse Afrikaanse weekblad, Die Nataller, aanvanklik as sportredakteur, later nuusredakteur en uiteindelik redakteur en redakteur/bestuurder.

Met die stigting van Tempo, wat Die Nataller se plek ingeneem het, is hy aangestel as assistent-redakteur onder Arthur (Sammy) Lake. Met Sammy se bevordering na Hoofstad as hoofredakteur het Charl die leisels by Tempo oorgeneem.

Ná altesame agt jaar in Natal het hy 'n pos by Die Vaderland as assistent-tot-die redakteur onder Dirk Richard se bewind aanvaar.

Drie jaar later is hy na die Kamer van Mynwese as redakteur van Mining News/Die Mynblad waar hy later bevorder is tot redakteur/bestuurder van die Kamer van Mynwese se publikasie-afdeling. Hy was altesame 18 jaar daar betrokke voor hy in 1998 vroeg afgetree en hom aan die Weskus by St Helenabaai gevestig het.

Hy is die skrywer van sewe romans en hou hom besig met vryskutwerkies hier en daar. Daarby werk hy ook op Audrey, met wie hy al 45 jaar getroud is, se senuwees. Hulle het twee kinders, Anso wat ook ‘n joernalis is by ‘n internet nuusdiens, en Charl jnr wat ‘n vennoot is in ‘n advertensiemaatskappy.