PIET EBERSöHN skryf: Ek het iewers al vertel van my bra traumatiese eerste joernalistieke kennismaking met die tema grondbewaring. In ’n ander werkkring het ek ’n aansienlik opwindender ervaring met dié saak gehad.
In die eerste helfte van die 1980’s rond het ek ’n kongres van die Noord-Kaapse Landbou-unie (NKLU) op Kimberley bygewoon om
verslag vir die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU) se tydskrif Die Boer/The Farmer te doen.
Ek onthou nog dat die pers, onder wie Die Transvaler se Bloemfonteinse verteenwoordiger, wyle André Potgieter, in ’n goedkoper hotel gehuisves was, oorkant die straat van die luukse-hotel waar die kongres gehou is. Omdat die koerantmanne gewoonlik laaste uitgebly het en die personeel dan nie meer diens gedoen het nie, is ’n voordeursleutel aan André (seker oor hy die oudste was) uitgereik en was dit sy verantwoordelikheid om die hoteldeur snags te sluit!
Ter tafel was onder meer ’n vertroulike verslag van die department van landbou dat die droër dele van die Karoo en die Noord-Kaap besig was om in ‘n woestyn te verander. As oplossing is onder meer voorgestel dat groot gedeeltes van die streek geheel en al van die boerdery onttrek word. Slegs enkele eksemplare van die verslag is onder sleutelmense versprei en afdrukke is verbied.
Lammie Brand, ’n skaapboer van Loeriesfontein, het die besprekingspunt ingelui. Hy het daarop gewys dat dit die soveelste verslag oor die probleem is wat sedert die begin van daardie eeu opgestel is en dat daar desondanks nog niks aan die saak gedoen is nie.
“Meneer die voorsitter,” het hy dramaties afgesluit, “Rome is aan die brand en in Pretoria sit ’n klomp mense en viool speel!”
’n Lekker storie, maar hoe gemaak om daardie verslag onder oë te kry?
Ek het gesels met een van die manne wat ek geweet het ’n eksemplaar het. “Jy weet voor jou siel ek kan nie die verslag vir jou gee nie, maar ek bêre dit etenstyd in my aktetas en laat dié dáár staan,” het hy beduie.
Dis een etensuur wat jy nie ’n nuusman enigsins naby die eetsaal opgemerk het nie. Daar is gewerk dat jy die spreekwoordelike rubber kon ruik brand – en toe die afgevaardigdes ná ete terugkeer, was die verslag lankal veilig terug op sy plek.
Die volgende oggend is die vertroulike verslag landwyd voorbladnuus. Andries van Zyl, die SAUK se plaaslike man, het ’n onderhoud met Lammie gevoer en dié het natuurlik die vioolopmerking herhaal.
Nou, die Noord-Kaap se mense is ’n besondere soort mense en van al die kongresse wat ek oor jare heen bygewoon het, staan die NKLU-kongresse kop en skouers bo die ander uit vir hul gemoedelikheid en humor. Daar is altyd volop geskerts en gelag.
Dié bepaalde oggend kon ’n mens egter die kil atmosfeer met ’n mes sny. Die department se manne was in die gesig gevat. Die voorsitter het die afgevaardigdes gevra om versigtig te wees met wat hulle sê. Die verrigtinge het ongewoon styf en bedees verloop.
Halfpad deur die oggend kondig die voorsitter aan dat mnr so-en-so van die department vra om verskoon te word omdat hy terug Pretoria toe moet gaan.
“Moet seker sy viool gaat oefen,” kom ’n onnutsige stem uit die massa, en die kongresgangers skater van die lag. En eensklaps is die stroefheid weg.
Heelwat later die dag, van die destydse Lughawe Jan Smuts af onderweg Pretoria toe, ry die NKLU-voorsitter, Kobus Jooste, saam met my.
“Jy weet,” sê hy, “om die vrede te bewaar, moes ek ou Lammie nou wel vermaan, maar hy was darem wragtig reg!”
• Van André Potgieter en landboukongresse gepraat. Met ’n kongres van die Vrystaatse Landbou-unie (VLU) in Bloemfontein het hy kort voor die verrigtinge sou begin, besluit om sy kamera solank by die persbank te gaan neersit, en ek het gesels-gesels saamgestap.
Terug op pad uit, beland ons by die deur net toe die minister van landbou, Hendrik Schoeman, en die voorsitter van die VLU, Petrus Pretorius, daar instap. Ewe gemoedelik skud hulle met ons blad. En die adjunk-minister, Sarel Hayward, en die owerstes van die landboudepartement, wat hulle volg, doen dieselfde. Én die kongresgangers wat die saal begin binnestroom.
“Die donners dink hulle móét ons groet,” het André benoud opgemerk, voor ons ten einde raad ’n omkeer gemaak en terug persbank toe gevlug het.
Dit was met dieselfde kongres dat ons so lekker saam met die voorsitter van die melkkomitee bier gedrink het, dat ek byna my vlug huis toe verpas het. Teen die tyd dat ek op die lughawe aangekom het, was die res van die passasiers al in die vliegtuig.
Gelukkig was die SAL toe nog op dienslewering ingestel en ons was heimlik trots op die oranje
vliegtuigsterte met die vlieënde springbok op.
(Terloops, wie onthou nog dat Perskor ook destyds die SAL se aanboord-tydskrif, Die Vlieënde Springbok, deur sy filiaal Intermedia uitgegee het? Kan iemand ons dalk meer daarvan vertel? – Red.)
Ek is summier in ’n geel Cortina-bakkie van die lugdiens (g’n Acsa toe nog nie) gelaai, my tas agterop, en die bestuurder het tot aan die voet van die trap van die wagtende vliegtuig gejaag om my betyds aan boord te kry.
“Those were the days … ”