Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.8.13

Aflegging is nie noodwendig altyd sleg nie

TOM CAIRNCROSS skryf: Toe ek en Rean Steenkamp so ‘n klompie jare gelede die onaangenaamheid beleef het om onder andere afgelê te word, het die toekoms nie te rooskleurig gelyk. Nie net die geldelike dilemma nie, maar om elke dag sinvol besig te bly. Rean in sy fleurige dertigerjare en ek in sy middel vyftigerjare.

Rean Steenkamp
Die onaangenaamheid agterweë gelaat. Ek en Rean het ons op ander terreine probeer besig hou, maar Rean het as redakteur by ‘n Wild- en Jagtydskrif redaksionele werk gedoen, toe hy my genader het om te help met die vestiging van ‘n boogjagtydskrif (ons was albei gesoute joernaliste wat die bedryf goed geken het).

Rean se passie was om as ontspanning boog te skiet, en van daar die briljante gedagte. Die geboorte van Africa’s Bowhunter, the magazine for the bowhunter, game farmer and archery enthusiast, is gebore.

Dertien jaar gelede is die tydskrif begin en tot nou toe het dit fenominaal gegroei tot ‘n reus in die boogbedryf, wat tot nou toe beteken dat dit die enigste boogtydskrif in Afrika is. Dit word hoofsaaklik in Engels uitgegee omdat die wêreld daarbuite belangstel in boogbedrywighede soos boogjag in die sogenaamde “Donker Afrika”

Aanvanklik is die tydskrif tweemaandeliks uitgegee, maar gou is besef dat die behoefte dit regverdig om maandeliks die rakke te slaan. Dit word landwyd en in die buurstate in vooraanstaande winkelgroepe versprei en intekenare van die VSA, Engeland, Wes- en Oos-Europa tot die Oosbloklande is geen verrassing nie.

Boogwinkels en wildboere wat al meer toespits op boogjag (wat beteken dat ekotoerisme op dieselfde eiendom bedryf kan word) vind groot baat en die belangstelling onder die algemene publiek maak dat die bedryf uit sy skoene gegroei het, wat weer meehelp dat die hele gesin afleiding kan ervaar waar almal (sonder om noodwendig te jag) gesamentlik aan die sport kan deelneem. Suid-Afrika spog met ‘n Proteaspan wat wêreldwyd groot sukses behaal en boogskiet as sport is ook vining besig om veld by skole plaaslik te wen, veral nadat geweerskiet afgeskaf is.

Danksy ‘n groot, versiende denker en entrepreneur – Rean Steenkamp – het die lewe weer vir my sinvolle betekenis gebring.

(K’rant het Rean gevra om vir ons meer van sy onderneming te vertel. Ons hoop hy skryf gou. – Red.)