Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.8.13

Ontgroening laat Charl groen om die kieue

CHARL THOM skryf: Een van my eerste (en naarste) onthoubare ervarings as joernalis was in my heel eerste pos by die SAUK se nuuskantoor in Durban. Ek is sommer dadelik in die diep kant ingegooi op die misdaad-‘beat’. (As daar dalk ‘n goeie Afrikaanse woord is vir ‘beat’ het ek nog nie daarvan gehoor nie.)

Die vorige misdaadverslaggewer, wat toe pas aangeskuif het na ‘n beter
betalende pos het darem goedgunstig sy kontaklys aan my verskaf. Dit was my taak om dié mense daagliks te bel en ook soveel moontlik te besoek.

Wat ek nie geweet het nie, was dat daar ‘n gebruik was dat elke nuwe misdaadverslaggewer ‘ontgroen’ word. My eie ‘ontgroener’ was ene sersant Meyer wat in beheer was van die Staatslykshuis.

Sersant Meyer het my op my eerste besoek hartlik verwelkom en gesê hy’t ook sommer ’n paar van sy kollegas in die Polisie asook van my eie kollegas van die Durbanse koerante genooi vir ‘n drankie en ‘n paar peuselhappies. As ek reg onthou was dit toe ook my eerste kennismaking met wyle Johan van Heerden wat toendertyd Die Vaderland se verteenwoordiger in Natal was.

As nuweling het ek heel geëerd gevoel oor my verwelkoming. Toe ek op die afgespreekte tyd daar aankom, was al die ander ‘gaste’ reeds daar. Vir my is daarna’n stoel gewys reg langs iets wat soos ‘n groot yskasdeur gelyk het.

Ná die voorstellery, kyk sers Meyer my kant toe en sê: “Charl, jy sit die naaste daar aan die yskas, gee sommer vir ons ‘n paar koue biere aan. ”Toe ek die groot deur oopmaak, gaan daar ‘n lig binne aan en sowaar daar staan die kas bier netjies tussen twee lyke. Ek wou eers weghardloop, maar byt toe maar op my tande en probeer die bier so ongeërg moontlik uithaal en op ‘n tafel neersit.

My gasheer begin toe biere uitdeel en ek kry natuurlik ook een. Nou kyk, ek was nog altyd lief vir ‘n koue bier, veral in Durban se hitte. En hoewel yskoud, het daai een bitter swaar afgegaan. Die res van die geselskap het oor allerlei koeitjies en kalfies aangegaan met geen verwysing na die bier se vreemde herkoms nie.

‘n Paar minute later kyk sers Meyer weer in my rtigting: ”Ag Charl, gee sommer vir ons daai eetgoed aan. Dis net langs daai ou se voete wat aan die regterkant lê.”

Ek kon my ore skaars glo, maar ewe dapper druk ek maar deur. En sowaar, daar lê die skinkbord net daar waar die sersant gesê het. Ek moet nog half oor die een lyk leun om dit by te kom en skielik slaan daai ‘vreemde’reuk my.

“Kry sommer vir jou dan stuur jy aan,” kom die volgende ‘versoek’. Ek neem blindelings die eerste toebroodjie maar die ou vir wie ek aangee sit die skinkbord net daar op die tafel neer terwyl al die ander stip vir my kyk om te sien of ek eet. Toe bars die hele spul uit van die lag en heet my behoorlik welkom. Daar is later vleis gebraai maar hulle my dit nie verkwalik dat ek nie saam eet nie. Veral nie ná die stories wat ek moes aanhoor van ander ouens voor het my wat al sommner ‘n kat geskiet het ná die eerste sluk bier nie!