Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.8.13

Lani sê dankie

Lani Botha, oudste dogter van Andries Botha wat onlangs oorlede is, skryf:

Geliefde mense

Hier bevind ek myself weer in die donker ure – voorstedelike honde reeds stil en voëltjies nog nie aan’t tjirp nie, selfs Johannesburgse verkeer stillerig. Steeds op soek na brokkies van my pa. Toe kom ek af op K’rant se huldeblyke …

Kostelike en veelsydige herinneringe vol deernis en waardering. Hulle trek eindelose trane … soos uit ‘n lap wat net nie wil droog nie, soos ‘n nat Kaapse winter. En dít na amper ‘n week van sekerheid dat ek die hef van aanvaarding en humor (soos dit die oudste dogter betaam) stewig in die hand het – sonder omkyk of soutpilaar word.

Andries Botha en sy dogter, Lani.
Ai tog, die mensewil en -hart wat tog so aweregs van mekaar kan stuit en klop. Ek wonder of ‘n mens ooit begin verwag dat die een person na wie jy die meeste aard – veral as julle so skouer-aan-skouer saam voortskoffel – sal weggaan? Kan nie wees nie, is nou my bewuswording.

Maar aan Joe, Gerhard, Piet E, Peet en Esther, Koos, Suzelle, Piet C, Stella, Willie, Hans, Joan, Retha, Gert, Japie, Karen, Sieg, André, Gert, Sipke en Frikkie: elkeen van julle het ‘n pragtige bos woorde-blomme uit jul geheueveld versamel en onvergeetlik rangskik: daarvoor, duisende dankies! Ek gaan nog lank aan hulle ruik, want hulle ruik soos my pa.

Ek wens aan elkeen van julle, wie al lank kleurvolle voetpaadjies deur die lewe se vloeiende heuwels verken, vrede en amper té veel lewensgenot toe. Ek begin nou eers insien hoe daardie “spieël in ‘n raaisel”-Bybelversie daar uitsien: dat ons nie die hele persoon, of die hele prentjie, kan begryp (insien of aanvoel) tot na die dood nie.

Ek voel geëerd dat ek wel nou al, deur my Pa se dood, so ‘n inkykie kon kry op wat daardie volkomenheid vir ons elkeen mag beteken. Dit gee mens sommer meer lewenslus!

Sterkte daai kant!

Met deernis

Lani