Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.7.13

Uitgevee

GERT BASSON skryf: Die prikkelende stories oor Marius Jooste in K’rant, het my laat dink aan ‘n voorval pas nadat Voortrekkerpers en die Afrikaanse Pers Bpk. saamgesmelt het om Perskor te word. Marius Jooste se stewige hand aan die stuur.

Ons Voortrekkers moes sak en pak van Braamfontein na Doornfontein verhuis – nuwe gebou, nuwe kollegas.

Annette Stork was hoof van Voortrekker se kunsateljee en voortaan sou sy en Marc Achleitner in beheer van Perskor se kunsafdeling wees. Toe sy met haar spannetjie die nuwe ateljee betree, het sy hulle dadelik opdrag gegee om skoon te maak, meubels te rangskik, ens. Sy self het ‘n besem gegryp en begin om die ateljeevloer te vee. Nou moet jy haar in dié rol voorstel. Kyk Annette is haar eie mens – baie mooi, donker en onkonvensioneel. Haar wilde maan swart hare is met ‘n stukkie tou agter die kop gebind, sy het ‘n oorjas aan wat eens seker wit was, maar nou besmeer is met ink en verfkolle en die meisie is kaalvoet.

Annette saam met wyle HS van Blerk met 
die bekendstelling van sy boek, Die Edelvalk 
van Donkerkruin, in die 80’s. Sy het die
bandontwerp gedoen. Dit was 'n Juventus-
uitgawe.
Sy vee, soos sy alles aanpak, met ywer. Skielik gewaar sy by die uitgang ‘n paar yslike, gestewelde voete. Sy kyk op en gewaar hierdie reus van ‘n man wat haar pad versper.

“Haai, wie is jy? Kan jy nie sien ons werk hier nie? Staan weg!”

Die Ou Grote het afgekyk na die flitsende sigeuneroë, omgedraai en weggeloop.

Agter haar was daar gedempte uitroepe.

“Wát?” wou sy weet.

“Hel, Annette,” het Dennis Havinga, grootogig laat hoor: “dit was Marius Jooste?”

“So, hy was in die pad en kon mos sien ons is besig. Gaan aan met julle werk!”

En die Dagbreekhaan het nie ‘n enkele kraai daaroor gegee nie.