Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.9.12

Só het Perskor sirkulasiestryd verloor

WILLIE BUYS skryf: Kollega Andries Botha se berig oor die sogenaamde sirkulasieskandaal en sy redes oor hoekom hy dink Nasionale Pers die noord/suid-stryd om oorheersing van die Afrikaanse mediamark gewen het, verwys.

Andries sê tereg hy het nie die feite voor hom nie en dus lug hy net ’n mening. Ek as destydse nuusredakteur van Die Transvaler, redakteur van
Perskor se nuusdienste en ander uitvoerende poste in die koerantbestuur, het saam met die Die Transvaler in die brandpunt van die stryd gestaan.

Ek is dit egter eens met Andries dat die feite wat aanleiding gegee het tot ’n ongekende smet op die aangesig van die Afrikaanse media, grootliks saam met die destydse Perskorbestuur ondergegaan het. Min mense weet presies wie, hoe, en waarom die sirkulasiesyfers van Die Transvaler beknoei is. Dit het gelei tot die sluiting van ’n paar Perskorkoerante en uiteindelik bygedra tot die totale ineenstorting van die maatskappy.

(Ek weet van iemand wat jare lank met dokumentêre bewyse in ’n boks in sy kantoor gesit het as bewyse van wie die pleger was en hoe en waar dit gedoen is. Om hom verleentheid te spaar, moet sy identiteit en geheim egter saam met hom (en my) graf toe gaan. Feit is egter dat selfs ek ook nie kan staatmaak op stawende getuienis nie en dus maar net my waarnemings kan deel).

Die Beeld, gewese Sondagkoerant
Hoe het dit gebeur dat die hart uit Perskor geruk is deur Naspers? Hulle het bloot ’n slim, toegespitste strategie gevolg. Eenvoudig gestel: Naspers het gekom met alles wat hulle het om die stryd op twee fronte aan te knoop, naamlik eers die Sondagmark met Dagbreek en Sondagnuus versus Die Beeld wat in amalgamasie geëindig het met Naspers wat redaksionele beheer verkry het. Gedeelde bestuursbeheer was die troos wat die oorwinnaar Naspers as ’n toegif na Perskor se kant toe gegooi het. Die geskiedenis bewys egter dat Naspers eintlik maar die stert was wat die hond geswaai het.

Toe het die volgende fase in Napers se veelvlakkige strategie in werking getree. Hulle het gekom met ’n uiters gefokusde aanslag op die oggend-mediamark. Gestroop van alle foefies wat beide mededingers uitgehaal om mekaar te troef, het Naspers ’n struktuur opgerig wat suiwer en alleen gefokus het op die lewering van ’n wenproduk. Anders as die wyd-gediversifiseerde Perskor waar koerante se lae winsgrense hulle agter in die tou laat staan het in die maatskappy-bedrywighede, was Beeld se produksie die enigste top-prioriteit. Daarvoor is die keur van Naspers se joernaliste (onder meer Schalk Pienaar en Willem Wepener) en van die vaardigste bestuurslede ingespan.

Klein voorbeeld: Ek as nuusredakteur het my hande party dae in die lug moes gooi as ek die boodskap van gedemoraliseerde verslaggewers wat dringende en/of kritieke nuusgebeurtenisse moes gaan bywoon, gekry het daar daar nie motors beskikbaar is nie omdat die poel leegetap was deur die ander afdelings. Soos die SAUK onlangs, moes ons toe maar met die tweede beste genoeë neem (ek vermy die woord “tevrede” doelbewus) om deur die omslagtigheid te gaan om motors te huur!

Of die verslaggewers moes hul eie voertuie gebruik en kon dan later weer per kilometer terugeis. Die tarief per kilometer wat egter toegelaat is, was onekonomies en het skaars die petrolonkoste gedek, laat staan nog waardevermindering weens slytasie en ’n hoër kilometertal op die afstandsmeter. Dit was boonop heelwat laer as die kilometertarief wat die AA aanbeveel het. 
Só het Perskor sy joernaliste op alle vlakke verneder: verouderde toerusting (prehistoriese tikmasjiene), stukkende lessenaars en allerhande “geldbesparende” truuks wat byvoorbeeld gelei het tot die hoon en spot waarmee die bevrore hoenders as bonusse aan die einde van die jaar deur veral die joernaliste begroet is.
Naspers haal uit
 en wys.
By Perskor in die
helfte gesny.
Mense lag nou nog as ek hulle vertel van een oorgeesdriftige bestuurder wat op die geldbesparende opdrag van bo gereageer het deur die rolle toiletpapier vir die personeel in die helfte te laat sny. Die daaropvolgende verset het so hard deur die gange gedawer – veral van die vroulike werknemers wat uit die aard van hul fisiologiese samestelling meer toiletpapier as hul manlike kollegas gebruik – dat daar skielik op ‘n dag weer normale toiletrolle in die ablusiegeriewe was! Vergelyk dit met die “rojale” behandeling wat Naspers aan veral sy joernaliste toegedeel het: goeie salarisse, dubbeltjeks as bonusse aan die einde van die jaar en allerhande toelaes soos motor-, huis- en gebiedsubsidies. Laasgenoemde is betaal as vergoeding om van Naspers se mees senior personeel te oorreed om hul bekende Kaapse (lees Afrikaanse) omgewing te verlaat vir die meer kosmopolitiese en dus meer antagonistiese (lees ook Engels-georieënteerde destydse Transvaal wat uit die aard van die politiek van die dag meer weerstandig was teen Afrikaanssprekende onderhoudvoerders).


Glo my, hierdie aspekte was ernstig en kritiek vir die meestal jong joernaliste wat besig was om vir hulle ’n loopbaan met genoeg toekomsvooruitsigte uit te kerf. Dit het onder meer daartoe gelei dat daar, soos met ’n goeie rugbyspan, geen kontiniüteit was nie. Perskor het hom kerkmuis-arm verskraal aan goeie joernaliste (ook sleutelmanne soos Perskor se personeelbestuurder) wat deur onder meer Beeld as ’n plundering-strategie gekoop is.

Voorbeeld: wyle Johan van Loggerenberg was een van my mees belowende verslaggewers en het veral uitgeblink in motorjoernalistiek. Hy, ek, dr. Willem de Klerk en die hoofredaksie het vergeefs vertoë om verhogings vir hom gerig in ’n wanhopige poging om hom te behou. Uiteindelik moes ek hom aanraai om ’n pos as assistant-motorredakteur by The Star met aansienlik groter vergoeding te aaanvaar met dié belofte: doen oor ’n jaar weer aansoek en ek waarborg jou ’n aanstelling met ’n groter salaris. So gesê, so gedaan. En dit het presies net so uitgewerk!

Wat was Perskor se antwoord op al hierde faktore? Ondersoek na ondersoek oor wat verkeerd is by Die Transvaler se nuusredaksie dat die sirkulasie nie styg nie! Een span kundiges het bestaan uit tydskrifuitgewers soos die Hyman-broers van Durban. Nog ’n ’n tydskrif-ontwerper wat hom as ’n uitlegkunstenaar voorgehou het, het na maande se ondersoeke met groot gebaar ’n “dummy” aan die hoofredaksie voorgelê waarvan die uitstaande kenmerk was dat daar in elke dag se koerant ‘n paar grappies moes wees – wat natuurlik deur hom teen betalings verskaf is. Wat ’n futiele oefening was dit nie! En daarvoor het hy selfs op die maatskappy se koste oorsee gaan ondersoek instel. Hoekom hierdie ondersoeke? Suiwer blaamverplasing omdat die mens(e) wat dit gelas het stiksienig onkundig was oor al die komponente wat ’n suksesvolle joernalis aanmekaar sit!

Nog ’n verkeerde skuif op die media-skaakbord? Oorvloei die mark met publikasies sodat dat daar nie genoeg advertesies vir almal is om as lewensgewende suurstof te dien nie. En siedaar! Hoofstad en Oggendblad sien die (verkeerde?) lig. Die veronderstelde doelwit word toe nie bereik nie en ’n gestoei om nuus (ter oorlewing) ontstaan tussen die verskillende Perskorpublikasies. So het die maatskappy homself as’t ware help intern verteer.

Kollega Andries se opmerking oor Beeld as ’n Pretoriase koerant is in die kol. Dié Transvaler-sterkpunt word sy uiteindelik fatale achilleshiel. Beeld takel Pretoria met mag en mening – en wen. Ek het later by Beeld aangesluit en ’n hoofredaksielid het in my teenwoordigheid in een of ander konteks iets kwytgeraak soos: “ons het soveel Pretoriase advertensies, dit is eintlik ’n verleentheid!
Klink ek miskien bitter? Ja, ek is nogal, want as ’n mens jou hele lewe met hart en siel wy aan ’n projek en dit word deur hardkoppige tonnelvisie gebore uit onbegrip verydel, dan is dit geneig om jou lewensuitkyk te verdonker. Veral ook omdat Perskor my gebruik het om sy "vuilwerk" te doen deur onder meer die konflik-generende joernalistestruktuur af te breek én my tyd te mors met maandelange ondersoeke van nuttelose projekte.
Die uiteindelike nekslag (vir my) was toe ek klaar was met die "opruimingwerk", is ek summier aangesê om vir myself ’n pos in die maatskappy te soek! Exit Buys! Uit eie keuse omdat die doodsreuk in die gange galbitter geproe het. Maar nog was het einde niet! ’n Laaste skop in die reste van my verflenterde loopbaan het my eers later getref toe ek ’n skokkend klein bedraggie uitgekry het ná 20 jaar se lojale diens aan dié eens trotse maatskappy.

Dit blyk toe dat die maatskappy binne sy reg opgetree het om ingevolge die arbeidswet my net die deel wat ek maandeliks in my pensioenfonds gestort het, uit te betaal – wat eintlik maar "peanuts" was. Ek was bewus daarvan, maar het geweier om by enigiemand te gaan pleit om aalmoesies na die behandeling wat my te beurt geval het. O-ja, voor ek vergeet! Daar was darem so ’n sweem van menslikheid (skuldgevoel?) toe ’n uitvoerende amptenaar die grandiose gebaar gemaak het om ’n afskeidspartytjie vir my aan te bied, ten volle deur die maatskappy geborg, nogal! Wat ek geweier het, natuurlik. Sou die etiese ding om te doen nie liewer gewees het om my volle pensioen aan my te betaal nie? 

Gelukkig het rowe op die etterende seer gevorm oor die jarewat ek gesukkel het om geld- en loopbaangewys weer op my voete te kom. 

(Bogenoemde is die persoonlike mening van Willie Buys oor hoe hy die sogenaamde sirkulasiestryd ervaar het . Hy maak nie aanspraak dat dit die volle waarheid is nie, want die meeste wat oor die feite beskik is reeds oorlede of verkies om nie die spreekwoordelike blik wurms oop te maak nie. Die publikasie daarvan moenie gesien word as 'n uitnodiging om K'rant in 'n biegkolom oor ou vyandskappe te verander nie. Dit is gedoen ter wille van volledigheid in die debat rondom dié saak en ons laat dit dan nou aan die oordeel van die geskiedenis oor vir 'n finale uitspraak, indien enige. Red.)