Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.9.12

Meesterverteller met opregte hart en talent vir die lewe

JAPIE BOSCH het met wyle Douglas Jones se vrou, Elsa, gesels. Sy het een en ander oor hom vertel en berigte wat ná sy dood oor hom verskyn het asook 'n paar foto's uit sy jong dae aan K’rant gestuur. Douglas was onder meer verslaggewer by Brandwag, Sondagstem, Dagbreek, nuusredakteur van Die Vaderland en adjunk-nuusredakteur by The Citizen. Hy het ook ‘n draai by Die Republikein in Windhoek gemaak. Voorwaar een van die “karakters” in die Afrikaanse joernalistiek.

Douggie is in September 2006 op 71 jaar dood. Hy was toe redakteur van Die Gemsbok in Upington.

Joan Kruger
Douglas Jones
Joan Kruger het hom raak opgesom in haar reaksie oor sy afsterwe op Perskorhaan: “Vir baie van ons was Douglas mentor en meesterverteller en opregte vriend en so 'n bietjie van die judasbok ook wat die trop dikwels na die koeler waters van die Sans (Souci) gelei het. Soveel van die goed wat hy my doerie jare geleer het, leer ek nou nog vir die jonges.

“Hy was eerlik as hy nie van 'n storie gehou het nie, en jy was baie bly as 'n beriggie genade gevind het in sy oë. Miskien is die beste vir my, die gedagte dat hy juis daar naby aan my tuisdorp, op Upington, soveel gelukkige jare beleef het as redakteur van Die Gemsbok.

“Dit IS jammer dat ons nie om sy kis kon gaan sit met kerse en 'n paar bottels wyn en al die ou stories 'n slag kon afstof en lekker lag en 'n bietjie huil oor 'n mens met 'n groot en opregte hart en 'n talent vir die lewe nie.”

Douglas Jones jnr en
Elsa Jones
Elsa, sy derde vrou, vertel dat Douggie sy judasbok-streke laat vaar die dag toe hy hoor sy is verwagtend met sy enigste seun, ook Douglas. (Sy eerste twee vrouens is oorlede.) Hy het daardie dag onderneem dat sy seun hom nooit geïntoksikeerd sou sien nie. Hy het ook nie. Die laaste vyftien jaar voor sy dood het Douggie nooit weer ‘n glasie in die hand gehad nie.

Ná die dood van Douggie se tweede vrou het hy ‘n swerftog gehad. Elsa is nie sku nie om te vertel dat hy selfs ses maande lank in Joubertpark in Johannesburg gebly het. Maar Doug het opgestaan. Hy het uiteindelik in Windhoek by die Republikein opgeland. Daar is hy vir Die Gemsbok gewerf. ‘n Jaar of twee later, in 1983 was hy redakteur.

Elsa het, ná die voltooiing van ‘n graad in kommunikasiekunde, by Die Gemsbok as verslaggewer aansoek gedoen. In die onderhoud met Douggie het hy haar net een vraag gevra: “Kan jy tik?”. Sedertdien het Douggie haar geleer wat ware joernalistiek is. Hulle is in 1989 getroud. Ná sy dood het sy redaktrise geword.

Daag vir Douggie om diamante te delf.
In sy laaste jare het Douggie ‘n nuwe klerestyl gekry. Hy het altyd wit gedra. Soms met ‘n maroonbaadjie en ‘n strikdas.

Douggie het foto’s en knipsels uit sy koerantdae gebêre, maar dit is op ‘n dag vasgelê. Elsa het ‘n rukkie voor hierdie skade enkele foto’s laat raam wat uit die vroeë 1960’s dateer toe Douggie ‘n rubriek, Daag vir Douggie, in Dagbreek of Sondagstem geskryf het. Sy het 'n paar aangestuur.

Onderstaande berigte gee ‘n kykie van die lewe van Douglas by Die Gemsbok.

Retha Burger, ‘n voormalige verslaggeefster van Die Gemsbok skryf: Ná 23 jaar glimlag ek nog en het steeds staaltjies om vriende en familie mee te vermaak wanneer iets my aan Douglas laat dink. En glo my, soos ek hier sit op 47-jarige ouderdom, worstel ek met die knaende gedagte dat Douglas dalk vir my sit en kyk - en my op een of ander manier gaan laat weet ek het onsin hier geskryf!

Daag vir Douggie om Italiaanse kos te maak.
Maar dit was die charisma van Douglas Jones.

Dit was nie maklik om Douggie te beïndruk nie. Hy het Gemsbok geëet, geslaap, gedrink en gedink. Ek dink min mense besef dat Upington, daai klein dorpie, gesit het met een van die werklike ou-skoolse en landswyd-bekende joernaliste. Die tipe wat werklik nie veel omgegee het vir die wêreld buite sy koerant nie. As joernalis was hy ‘n absolute perfeksionis, verskans agter ‘n stadige, lui glimlag. ‘n Man van min woorde, maar woorde wat jou baie duideik vertel het presies waarheen jy kon gaan met daai simpel storie as dit nodig was.

As mens het Douglas my telke lewenslesse geleer. Binne my eerste week het ek ‘n foto op die voorblad gehad. Douggie het gesê: "Ja ou maatjie – voorblad. The star of the moment." (Ek sweer Heidi Klum het haar sêding van "One day you’re in; next day you’re out" by Douglas geleer!) Douglas het my laat besef dat sukses iets is wat verdamp as jy nie daaraan bly werk nie. Een van sy ander gewilde sêgoed was "Only a dog goes back to its own s…".

Daag vir Douggie om 'n renmotor te ry.
Ek moet ‘n storietjie vertel voor ek in trane uitbars. Die Gemsbok was my eerste joernalistiek-pos. Ek was 24 en ywerig om te leer. Douglas het gereeld “biblioteek toe gegaan vir ‘navorsing”. Ek was verstom dat hy so toegewyd was – maar ek kon ook nooit die navorsing in sy stories sien nie. Die biblioteek, sou ek later uitvind, was die een wat rye bottels op hul rakke gehad het. Maar – dit het gewerk!

Douglas se karakter was sodanig dat almal sy waarheid geken het. Hy het niks weggesteek nie. Sy koerant het eerste gekom in sy lewe, en niks het daaraan afbreuk gedoen nie. En ons moes bybly. Elke dag.

Die einde van ‘n era (‘n verkorte berig in Die Gemsbok): Douglas Jones sal onthou word as ‘n op-die-man-af verslaggewer wat kaalvuis ingeklim het as dit nodig was en hom nooit laat beïnvloed het deur die bekendheid of die status van die persoon oor wie die storie gegaan het nie.

Daag vir Douggie om sirkusnar te wees.
Hy het egter veel meer as net misdaad-verslaggewing gedoen en het verskeie toekennings ontvang vir sy positiewe beriggewing van veral diens- en liefdadigheidsorganisasies. In 2000 het hy die Clever-toekenning ontvang vir die mees kreatiewe opskrif: "Man warm toe huis afbrand", ‘n opskrif eie aan Douglas se unieke skryfstyl.

Sy personeel sal hom onthou as die beste redakteur wat Die Gemsbok ooit gehad het en sal hom altyd onthou as iemand met ‘n regverdigheidsin en ‘n logiese uitkyk op situasies.

‘n Man wat sonder skroom sy hand diep in sy eie sak sou steek vir enige mens met ‘n behoefte.

Hy was in die werklike sin a-polities en in alle sake onpartydig.

Hy het ‘n aansteeklike passie vir Afrikaans gehad. Hoewel sy moedertaal eintlik Engels was, het hy ‘n positiewe invloed op baie skrywers en potensiële skrywers gehad.

Douggie het van los loodlettertjies, setmasjiene en donkerkamers na moderne rekenaars gegroei en bygehou en tot op die laaste dag vanuit sy siekbed, daagliks duisende lesers se lewens geraak.

Direkteur Kolie Mathys, areakommissaris van die Gordonia-area skryf: Douglas Jones, sal deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Gordonia-area onthou word vir sy waarheidsgetroue, eerlike en onverskrokke beriggewing asook sy verantwoordelike kommentaar oor polisie aangeleenthede.

Synde ‘n oud-polisieman, het hy ‘n absolute passie vir polisiewerk gehad en het die spreekwoordelike ekstra myl gestap om nuusdekking te verskaf oor veral misdaad.

Met sy skerp intellek, sin vir humor en lewendige belangstelling in daaglikse polisie aangeleenthede, kon Douglas Jones gou leemtes en behoeftes raaksien waar sy persoonlike ingrype betekenisvolle veranderinge en verbeteringe tot gevolg kon hê.

As redakteur van Die Gemsbok, het Douglas Jones sy koerant aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens beskikbaar gestel om sy boodskap te verwoord.

Die nalatenskap van Douglas Jones roep die gepaste woorde van Albert Pike tot gedagte: "Wat ons net vir onsself gedoen het, sterf saam met ons, wat ons vir ander en die wêreld gedoen het is blywend en onsterflik".