JOE VAN BUUREN skryf: Op ’n dag in die vroeë jare tagtig het ek, my eks en ons dogter, Tanya, na ’n besoek aan die Suid-Kaap by die destydse Lughawe Jan Smuts aangekom.
Tanya, wat toe maar ’n paar maande oud was, was behoorlik toegewikkel, met die arms styf teen die lyfie toegedraai.
Die enigste ooglopende verskil tussen haar en ’n rugbybal was dat die naam “Gilbert” nerens aan haar te siene was nie.
Tanya was in haar drabedjie en op ’n kol moes ek die bedjie op die vloer van die aankomssaal plaas.
Met die optelslag kry ek per abuis net een handvatsel beet, met die gevolg dat toe ek lig, kantel die bedjie en daar rol my dogter oor die vloer.
Dit was spitstyd by die lughawe en daar was “wall-to-wall” mense in die aankomssaal.
Toe ek opkyk, sien ek ’n horde mense op ons afpyl.
Toe ek in Perskor se kantoor in Londen gewerk het, het die SA Barbarians in Oktober 1979 deur Brittanje getoer – die eerste gemengde SA span wat oorsee getoer het. Die Transvaler se rugbyskrywer, John du Toit, het dit meegemaak en dit was my taak om Oom John se stories oor die telefoon af te neem en om hulle dan per teleks na Suid-Afrika te stuur.
As Oom John die mense daardie dag in die aankomssaal by Jan Smuts in aantog gesien het, sou hy geskryf het daai kookwater-ramkatte jag onder een kombers.
Hulle het ook ander rugbyvaardighede ten toon gestel.
Sommiges het, na gelang van of hulle in hul jeug op nommer 11 of 14 gespeel het, met die linker- of regtervoet afgetrap om my rollende dogter te vermy.
Ander het, soos Coenie Oosthuizen van die Cheetahs, met bewegings vorendag gekom wat nog nooit op 'n rugbyveld gesien is nie.
Trouens, so behendig was hulle dat daar nie 'n enkele skoenmerk aan Tanya te bespeur was nie.
Lank daarna, toe my vrou weer met my praat, was ons dit eens dat van daai mense in die aankomssaal die All Blacks se agterlyn die skrik op die lyf sou jaag, mits hul agttal natuurlik behoorlike besit kon kry en die losskakel nie sommer weer alles wegskop nie.
Ter afsluiting sal Oom John my dit veroorloof om 'n stukkie raad aan Heyneke Meyer te gee.
’n Mens torring nooit aan 'n wenspan nie, en, tensy die nood werklik erg druk, lol jy ook nie met een nie.