Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.9.12

Sans-base het nie net perslui se tjeks gewissel nie

JOE VAN BUUREN skryf: Die Sans Souci-hotel in Auckland Park was baie jare lank 'n gewilde bymekaaromplek vir Perskor se mense.

Daar was ook beroepslui en studente van die Randse Afrikaanse Universiteit, Wits, die Goudstadse Onderwyskollege en die Engelse onderwyskollege in Parktown, ‘n mengelmoes mense wat by die hotel gekuier het.

Peter en Parnos was die mede-eienaars van die Sans, soos dit in die wandel bekend was.

Soos ek by ’n vorige geleenthed geskryf het, het ek Peter onlangs by sy restourant, Mezé, in Bedfordview, oos van Johannesburg, raakgeloop.

Hy en Parnos, wat intussen op een van die Griekse eilande afgetree het, het die Sans 20 jaar lank saam besit – van 1969 tot 1989.

Die San Souci-hotel.
In daardie tyd het hulle die Perskor-mense natuurlik goed leer ken, en menige 'n platsak joernalis het hulle om hulp genader wanneer die geldsake geknyp het.

Dat hy en Parnos joernaliste se salaristjeks oor naweke gewissel het sodat hulle ‘n drankie of twee kon koop, is bekend, maar Peter vertel hy het dikwels ook geld voorgeskiet aan koerantmense wat skielik op ongeleë tye op ’n storie iewers heen moes uitgaan en daar niemand op kantoor was om ’n voorskot te reël nie.

Die geld is altyd stiptelik terugbetaal.

Peter het ook dikwels gesorg dat ’n beskonke joernalis in ’n hotelkamer oorslaap, eerder as om hom toe te laat om dit met sy motor huis toe te waag.

Peter het die hele 20 jaar lank self ook in die hotel tuisgegaan – die eerste 10 jaar as oujongkêrel en die laaste tien as 'n getroude man.

Dit was maar goed so, aangesien hy van vyfuur soggens tot twee-uur die volgende oggend gewerk het, met net ’n blaaskans hier en daar.

Diegene van ons wat daar gekuier het, het nie altyd besef die Sans het nie net uit die dameskroeg en die sitkamer met Peggy en die klavier bestaan nie.

Dit het ook al die gewone dienste gebied wat 'n mens van 'n hotel sou verwag, en Peter moes toesig hou.

Nadat die Sans verkoop is, het Peter onder meer Olivia’s Bakery and Confectionary in Northcliff besit, waar hy deur die jare heen baie van sy ou vriende weer gesien het.

Hy en ’n vennoot het die restourant in Bedfordview vier jaar gelede gekoop nadat hy 'n ruk lank probeer aftree het.

Hy het gou verveeld geraak en vandag is hy net so doenig soos destyds.

Vir diegene wat ’n draai by die restourant wil maak, die adres is Mezé, Chaucerlaan, Senderwood, Bedforview (Dis naby die Gillooly’s-wisselaar.)