Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.9.12

Die diamantsage van flamobjante Flash Fred Kamil

WILLIE BUYS skryf: Twee mans se kaping van ‘n groot Suid-Afrikaanse passasiersvliegtuig op 24 Mei 1972 het ‘n ongekende en geskiedkundige drama hier te lande ontketen wat maande lank hoofnuus was in die plaaslike media. Ek het daardie epiese sage ten nouste beleef omdat ek vir Die Vaderland daaroor verslag gedoen het.

Dit was inderwaarheid een van die grootste en lanklopende stories wat ek
in my veelbewoë loopbaan van sowat 40 jaar as joernalis gedek het. Die kapers was Faoud "Flash Fred” Kamil (van Lebanese afkoms) en sy taamlik onbeduidende handlanger wie se naam ek nie eens meer kan onthou nie (‘n Lebanese polisieman, Abou Yaghi – Red.). Flash Fred, die ene flambojantheid soos sy naam aandui (lees ook vertroueswendelaar), was die hoofrolspeler in sy hoedanigheid as ‘n informant/lokvink vir die diamantreus De Beers, wat die wêreldmark vir die handel in die blink klippies destyds namens die magtige Anglo American empaaier oorheers het.


Abou Yaghi
Fred Kamil
Dit het later geblyk dat Fred ‘n bitter byltjie te slyp gehad het metAnglo/De Beers, glo oor ‘n transaksie tussen hulle wat skeefgeloop het. Die hoofprotagonis in dié verhaal het aanspraak gemaak daarop dat hy nie betaling gekry het vir die ontspoorde transaksie nie en daarom het hy en sy makker die vliegtuig gekaap. Dit is uiteindelik gedwing om in Blantyre, Malawi, neer te stryk. Dit het gebeur na ure se rondvlieg, hul eise om geld en ‘n vliegtuig om mee wie-weet-waarheen te vlieg. Hulle het selfs gedreig om die Anglo-hoofkwartier die lug in te skiet en om die Oppenheimers se dogter, Mary, te ontvoer.


Ewentwel, my storie gaan eintlik oor een van die dramatiese dinge wat in daardie hofsaal gebeur het. Die kapers het dinamiet aan boord die vliegtuig gehad en gedreig om die vliegtuig aan stukke te skiet. Daarbenewens was ‘n lang jagmes een van die wapens waarmee die vliegtuigbemanning en insittendes aangehou en gedreig is.

'n Boeing 727 van die SAL.  Die gekaapte vliegtuig se naam was "Letaba".
Nou, hierdie hele gedoente was wêreldnuus met mediamense vanoor die hele aardbol wat die hofsaal volgepak het. Die Vaderland was destyds ‘n middagkoerant en teen die tyd dat dit op straat verskyn het, was die hofgebeure al ou nuus, so jy moes die tradisie van snuffelhond tot amper verby geloofwaardigheid strek om iets nuut op te dis.

Lang storie kort: ek het so ‘n "angle" raakgesien en daaroor berig. Tot konsternasie van die meeste ander nuusmanne wat my hoogs verontwaardig gepak het met woorde soos "watse ‘rubbish’ het jy gaan staan skryf”!?. Wat gebeur het, was heel eenvoudig. Terwyl die kapers in kruisverhoor was, het die aanklaer die mes wat as bewysstuk ingedien is, aan Flash Fred se handlanger oorhandig. Hy is gevra of dit mes is wat hulle gebruik het. Hy het die mes hanteer en dit met bevestiging teruggegee.

Ek onthou nog die rillings wat deur my getrek het waar ek vlakby die handlanger gesit het. Ek het twee en twee bymekaar gesit en ‘n berig geskryf met die strekking dat hier ‘n potensieël dodelike situasie kon ontstaan het. Ek meen, hier is twee uiters desperate manne wat hul lewens op die spel geplaas het om ‘n punt te probeer bewys. By skuldigbevinding sou hulle baie lang tronkstraf opgelê kon word.

Wat sou gebeur as daardie handlanger skielik opgevlieg en iemand (selfs ek) in die hofsaal gryp en opnuut sy eise met ‘n mes teen die keel van nog ‘n gyselaar stel? Dit was ‘n baie ware (en nare!) moontlikheid wat tot vandag toe nie ontken is nie. Natuurlik het van die ander nuusmense my met die "rubbish"-argument daaroor getakel omdat hul base wou weet hoekom hulle nie daaroor berig het nie.

Ek het maar net gelag en geweier om myself te verweer. Soos hulle in hofjargon sê: "I rested my case", wat dié saak betref. Die kapingsdrama, hofsaak en opvolgstories het egter nog maande daarna voorblaaie van koerante en hoofnuus op ander media gehaal. Ek is trots om te kan sê dat Die Vaderland aan die voorpunt was met die verslaggewing oor dié saak. Die rede was dat ek ‘n geheimsinnige informant in die tradisie van die Amerikaanse Watergate-skandaal – waar die sogenaamde “Deep Throat"-informant voortdurend inligting gelek het – uit die diamantwêreld gehad, wat my met binne-inligting gevoer het.

Diamante? Nou-ja, dis nou weer ‘n ander storie – soos nou die ander dag deur ‘n dagblad berig is. Diamante delf, diamanthandel en diamantsmokkel is ‘n baie omstrede en verslawende bedryf waarin die deelnemers verskillende standpunte handhaaf. Hoofsaak is dat die konglomerate soos Anglo se De Beers ouens soos Flash Fred huur om hul “regte” te beskerm en te verhoed dat diamante allemansbesit word.

Daarteenoor is die delwers en smokkelaars wat glo dat die blink klippies op die aarde geplaas is vir almal wat die ondermaanse bewoon en hulle dus nie steur aan mens-georïenteerde lisensiëringvoorwaardes nie. En aan die heel onderpunt van dié skemerwêreldketting maak die Flash Freds van die lewe ‘n bestaan as vertroueswendelaars wat inligting insamel en “verkoop”.

Terloops, Flash Fred was nie sommer ‘n gewone ou misdadigertjie nie. Hy was getroud met ‘n mediese dokter wat alles in haar vermoë gedoen het om hom en hul baba teen die “vyandige” buitewêreld te beskerm!

Andries Botha voeg by: Toe die drama in Blantyre aan die gang was, het PW Botha as minister van verdediging ons (Die Transvaler en Alf Ries van Die Burger met wie ons berigte uitgeruil het) verbied om enigiets daaroor te skryf. In die wandelgang het Herman Maartens (toe adjunkminister van vervoer, die hele storie uitgelap. Ek het dit toe geskryf, maar weens die PW-verbod het ek gevra dat dit onder die naam van ons “Korrespondent” in Malawi geplaas moet word. Ons het toe ‘'n “scoop” gehad en Die Burger kon eers ’n week of wat later dieselfde feite publiseer nadat PW sy “embargo” gelig het.