Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.9.12

‘Help, help!’ toe help rower homself

PHILIP DEETLEFS stuur meegaande berig wat op Donderdag 13 September in Republikein verskyn het. Die amperse slagoffers is ’n gewese Windhoekse korrespondent van Perskor, Des Erasmus, en sy vrou, Anneli.

’n Verslagspan van Erongo, ’n streekpublikasie van Republikein, is in die middestad van Pretoria deur ’n rower oorval. Dit was die tweede poging tot roof binne twee dae op die koerantegpaar, Des en Anneli Erasmus van
Swakopmund.

Die helde in die drama Donderdagoggend in Andriesweg was drie insittendes van ’n vol voorstedelike taxi-bussie, vyf lede van die Pretoriase stadspolisie en drie gille deur Anneli. Vrydag was die Erasmusse terug op kantoor op Swakopmund en die straatboef in kettings nadat hy ten aanskoue van dosyne omstanders in hegtenis geneem en weggebring is.

In sy pogings om van die grypende hande en die gereg weg te kom, het die aanvaller sy buit in die middel van die besige straat neergesmyt. In die tas was kosbare besit van die nuusmanne, al hul reisgeld en reisdokumente, kameras en talle waardevolle stukke. Alles is op die toneel deur die polisie aan die Swakopmunders terugbesorg. Niks het ontbreek nie en niks was stukkend nie.

Die voorval het hom afgespeel terwyl die joernaliste in ’n gehuurde motor op pad na die lughawe OR Tambo was ná agt dae in Johannesburg en Pretoria. Verkeer het op ’n reënerige dag op ’n slakkepas in die straat beweeg weens ’n botsing tussen ’n motor en ’n ligte afleweringswa in ’n kruising. Net agter die Namibiërs se motor het die bussie aangekruie.

Volgens Des het die rooftog deur ’n geoefende skurk binne sekondes afgespeel. Hul huurmotor was in die middelbaan. Die aanvaller het van ’n sypaadjie deur die stadige verkeer geglip, ’n deur met geweld oopgeruk, dit in feitlik dieselfde beweging toegeklap en met die handtas op die vlug geslaan. Anneli het blitsig gereageer nadat sy die sluiper in die kantspieëltjie sien kom het.

Sy het drie keer gegil. “Help! Help! Help!” Die eerste “help” was van agter die stuurwiel, die tweede terwyl sy uitgespring het en die derde toe sy reeds langs die motor gestaan het. Die passasiers van die taxi het gesien wat voor hulle afspeel en drie mans het by ’n sydeur van die bussie uitgespring en die aanvaller gejaag. Hulle was vir die polisie ooggetuies van wat gebeur het. Bloot om weg te kom, het die man sy buit in die middel van die besige straat neergesmyt en in die rigting van ’n donker straathoek gehardloop waar ’n oop deur voor ’n hool gehang het. Dit was waar hy hom in die vyf hardhandige polisiemanne vasgehardloop het.

Terwyl die aanvaller vas in die greep van twee polisiemanne was, het die polisie aan die twee Swakopmunders gesê hulle het genoeg getuies oor wat gebeur het. In daardie stadium was die tas en die inhoud daarvan reeds in veilige besit van die egpaar. In die slottoneel het die egpaar vlak voor hul aanvaller gestaan. Volgens Des was dit ’n jeugdige met moord in sy oë.
  • Die vorige dag in Pretoria- Noord was die egpaar ook die skyf van ’n dief wat hom as ’n kelner in ’n koffiekroeg voorgedoen het. Die keer was sy buit R210. Dit het tot ’n hewige argument in ’n inkoopsentrum gelei met die skuldige wat oorgegee het toe besluit is om na ’n veiligheidskamera se beeldmateriaal oor die voorval te gaan kyk.