Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.9.12

Julle moet skryf soos julle praat

PHILIP DEETLEFS skryf: Toe Nic Kruger nou die dag vertel van die eerste les in joernalistiek wat Gerhard Burger hom geleer het, onthou ek myne ook.

Ons was so ‘n handvol wat in Januarie 1973 saam by Die Transvaler begin het. Die eerste week moes ek leer tik. Elke oggend het Willie Buys vir my die koerant se voorblad laat oortik tot ek omtrent so tien woorde per minuut kon tik. Toe moes ek die dag se Sapa-weerberig vertaal. Dit was ook die week wat my siel beswyk het.

Omdat ons ‘n handvol welpieverslaggewers was, het die hoofredaksie wat daar doer in die houtgang in Aucklandpark gesit het, dit goed gedink om elkeen ‘n beurt te kry om hulle joernalistieke ervaringe met ons te deel. Hermie Hendriks, Hennie Kotze, Gert Kotze, Carl Nöfke en so. Base se blitskursus in die joernalistiek!

So moes ons soggens met daardie snelskrif-notaboeke in die betrokke leermeester se kantoor aantree vir die dag se les.

Geen aanklag nie, maar die enigste les wat ek tot vandag nog onthou was Gert Kotzé se les. Toe ons met penne oorgehaal staan om notas te maak sê hy: “Dis eenvoudig. Julle moet skryf soos julle praat en na die tyd krap julle net al die f@kkens dood”.

Kort en klaar!