Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.9.12

Onse Kittie was ’n edelvrou van die joernalistiek


KITTIE VERMAAK, voormalige vroue-redaktrise van Die Vaderland, is onlangs oorlede.

Van haar oud-kollegas vertel hier hoe hulle haar onthou.

Catharina Hendrina (Kittie) Vermaak: 6 November 1925 --25 Augustus 2012

ELISE (BOTHA) VAN STADEN skryf: Dit was die einde van 1969, ek was pas deur my onderwysdiplomajaar wat ek so gehaat het en die wêreld van werk het voorgelê. Nie een van ons afstuderendes het eens die moontlikheid oorweeg dat ons nie werk sal kry nie. Werk was volop, jou geboortereg en die wêreld het oop gelê.

En so, ongevorm, totaal naïef, ’n uilskuiken van die platteland af, het Kittie Vermaak my kom kry. Letterlik in my koshuiskamer kom kry.

My destydse swaer, Tienie Fourie, in daardie stadium by Die Vaderland, het vir my ’n onderhoud gereël met die redaktrise van die vroueblad. En omdat ek sekerlik te verskimmeld was om die pad Johannesburg toe aan te durf en omdat Kittie en Sarie Valentine in elk geval ’n ding in Pretoria aan gehad het, het hulle met my in my koshuiskamer die werksonderhoud kom voer.

En nie so lank daarna nie, op 8 Desember 1969, was ek ’n lid van Die Vaderland se vroueredaksie. My trotse werkplek was ’n kantoor op die derde verdieping onder die wakende oog van Afrikaanse Pers se reënbooghoender in Auckland Park. My lessenaar was die een in die hoek, naaste aan die deur. Skuins oorkant die gang was Thijs Nel, die kunsredakteur, se kantoor en verder af in die gang het redaksielede van Rooi Rose gesit. Dit alles was oorweldigend, maar nie naastenby so allesomvattend oorweldigend soos my eerste baas nie.

Sy het die mooiste, dog skerpste, deurdringendste blou oë gehad. Sy het reguit, sonder omhaal, tot in daardie donkerste kol van jou siel gekyk. Wanneer jy terugkom van jou storie af het sy ’n oomblik haar tikwerk onderbreek, opgekyk en vir jou gevra: “En wat sê sy van die feit dat ...?” en dan was dit altyd die vraag wat jy nie gevra het nie.

Kittie het in my kop alles geweet en almal geken. Sy het vir jou gesê jy moet sorg dat jy ’n foto van so-en-so op die Maria van Riebeecks se vergadering kry, maar jy moet vir so-en-so afkeer van die foto af want sy probeer haar altyd daar inwurm. Sy het elke fotograaf se sterk punte geken. Sy het geweet wat die ander koerante se verslaggewers gaan skryf. Sy het geweet waar elke jong modeontwerper vandaan kom en waarheen hulle op pad is.

Kittie het my geleer wat ek van taal en koerant weet. Op daardie eerste dag by die werk het sy my onder die dierbare vlerk van Willie Havenga, die fotograaf, gestuur om ’n storietjie te gaan doen oor nuwe speelgoed vir die Kerstyd. En sy het inderdaad my onderskriffie by sy mooi foto gebruik.

Maar die leertyd was swaar en steil. Saam met die leer skryf het leer sub gegaan, want die vroueredaksie het sy eie blaaie opgemaak. (Ek kry nog nagmerries waar groot oop blaaie opdaag en ek hulle alleen moet volskryf en daarna opmaak.) Storie ná storie het die pad terug gevind na my toe met die woorde: “Dis te styf. Ons skryf nie so styf op die vroueblad nie.”

Een dag op pad huis toe in die hysbak het ek vir Harry Lombaard, van die sportkantoor, gevra hoe lank dit neem om te leer skryf. Drie maande, het hy met sekerheid geantwoord. Hy het sekerlik my been getrek, maar ek het nietemin my hele hoop op my driemaande-datum gevestig.

En of dit die drie maande was, en of ek tog darem begin “slap” skryf het, weet ek nie, maar mettertyd het dit makliker gegaan. Watter wonderlike tyd was dit nie. Af en toe het Marietjie van Rooyen en Joan (toe nog Crafford) Kruger, van die nuuskantoor, saam met die vroueredaksie Munchener Haus toe gegaan en Duitse wors en suurkool geët en tapbier gedrink. En ná die brand die nuuskantoor afgeskryf het, het ek en Joan maande lank weerskante van my lessenaar gesit en werk.

Vir my was dit vormende jare. Ek wonder wie sou ek gewees het as ek nie in daardie stadium onder die helderblou oë en skerp verstand van Kittie Vermaak deur beweeg het nie.

ANDRIES BOTHA skryf: “Once, twice, three times a lady...”

Toe Kenny Rogers dié liedjie tot bo-aan internasionale gewildheidslere gesing het, het hy eintlik oor Kittie Vermaak gesing,

Toe ek Kittie in 1958 as 18-jarige verskrikte welpie-verslaggewer by Die Transvaler, waar ek aan verskeie verskuilde ontgroeningstegnieke onderwerp is, ontmoet het, was sy, toe nog redaksie-sekretaresse, die een wat my op beleefde wyse touwys gemaak het oor hoe om die gevreesde hoof- en ander subs te hanteer.

In die loop van die jare was sy 'n konstante karakter in my lewensverhaal. Toe ons later in die jare negentig skuins oorkant haar in Putneyweg gewoon het en saam aan die Vergesig-gemeente behoort het, was sy steeds dieselfde Kittie. Maar kom ons laat die ode aan Kittie oor aan nog kollegas.

Vergun my nog net dit: dis maklik om 'n Lady te wees met 'n Oppenheimer-inkomste. Kittie was daardie Lady van wie jy nooi sou kon raai of sy miljoene of niks het nie. Soos een van die familielede dit op die begrafnis gestel het, was sy 'n “Lady op 'n shoestring budget.”

Dis ware Lady-skap. Die enigste.

BUKS PIETERSEN skryf: Kittie Vermaak, vir baie jare 'n staatmaker in die joernalistiek, is Donderdag in Johannesburg ter ruste gele nadat sy verlede naweek in ‘n versorgingsoord in Sasolburg gesterf het. Sy was 86 jaar oud.

Iemand het die afgelope week op Facebook gese Kittie was ‘n "grand dame van joernalistiek".

Vir my en meeste mense wat deur die jare met haar te doen gekry het, was sy meer as dit. Kittie was lief vir mense, lief vir diere en lief vir tuinmaak. So vaardig soos sy agter ‘n tikmasjien of voor die toetsbord van ‘n rekenaar was, so tuis was sy met haar vingers in die grond, besig om plantjies te plant of uit te plant.

Ook in die kombuis was daar geen perke aan haar bekwaamhede nie. Die wêreldbekende opera-tenoor Johan Botha, kon lieries raak oor haar gebraaide skaapboud en regter Edwin Cameron het Donderdag nog in ‘n brief wat tydens die begrafnisdiens in die kerk voorgelees is met smaak vertel van Kittie se bo-baas Karoo-lamtjops.

En om van haar beroemde aspersietert nie eens te praat nie! Daarvan kan ek getuig, want wanneer Kittie ook al kom kuier het, het sy of ‘n blomplantjie, of een van haar heerlike aspersieterte saamgebring.

Kittie het in 1980 haar huis in Putneyweg, Brixton, betrek saam met haar gewaardeerde huishulp en vriendin, Martha Mzisa. Nadat sy in Oktober 2010 ‘n beroerte gehad het, het sy verhuis na die versorgingsoord in Sasolburg, waar sy naby haar familie kon wees. Dit was vir haar bitter swaar om haar huis en geliefde Martha agter te laat.

Kittie het die grootste deel van haar lewe in die koerantwese gewerk. Haar loopbaan het in 1947 by die ou Transvaler begin, waar sy private sekretaresse was vir dr Hendrik Verwoerd, wat toe die hoofredakteur was.

Na dr Verwoerd het sy gewerk vir sy opvolger, Jannie Kruger, wat later voorsitter van die Publikasieraad geword het.

Daarna het sy haar joernalistieke tande onder Gus Cluver, destyds hoof van Die Transvaler se kantoor in Pretoria, gaan slyp. In die jare sewentig het sy by Die Vaderland in Johannesburg aangesluit, waar sy in 1990 afgetree het as vroue-redakteur.

Maar Kittie kon nooit ledig wees nie. Die afgelope jare was sy nog doenig by die Sondagkoerant Rapport, waar sy in die biblioteek en by die streeksbylaag Gauteng-Rapport haar kant gebring het.

GERHARD BURGER skryf: Die blou oë. Die blouste blou oë. En die laggie; so ʼn waterval-laggie. Dit is bo-aan my lys van herinneringe aan Kittie Vermaak. En die storie van die donkiekar.

Kittie en haar broer het op 'n hoewe naby Gary Player se plek in Honeydew gewoon toe ons een Sondag daar gaan kuier het. Daar was donkies agter die huis en 'n karretjie langs die waenhuis.

Toe span ek en Kittie se broer twee donkies in en ek en Sandra en ons eersteling, kwalik 'n jaar oud, gaan ry 'n ent in die stofpad.

Kittie het haar byna breek gelag, soos die Namakwalanders sê, toe ons haar vertel hoe die mense in die blink motors hulle aan die wit gesinnetjie op die donkiekar vergaap het.

Kittie het sekerlik in haar jong dae ook donkiekar gery; lank voordat sy 'n edelvrou in die joernalistiek geword het. Dat sy daardie aardsheid behou het, het baie te doen gehad die agting en bewondering en liefde waarmee sy oral bejeën is.

Iemand soos PG du Plessis sou ʼn wonderlike boek oor dié Hooglied-vrou kon skryf.

JAPIE BOSCH skryf: Twee maande voor Kittie se dood het ek die voorreg gehad om ‘n paar minute met haar oor die telefoon by haar tuiste in Sasolburg te praat.

Ons het 33 jaar gelede by Die Vaderland saamgewerk. Toe ek vra of sy my nog onthou, was haar antwoord: “Natuurlik”. Ek het gehoop dit is so.

Uit die gesprek was duidelik dat Kittie se gemoed elders was. Sy het vertel dat sy nog elke dag werk en in “dieselfde huis in Brixton” bly. Sy moes ook al haar motor verkoop om kop bo water te hou, het sy gesê. Ook dat sy in ‘n erge stryd met die Here is, want in haar lewe het sy meer goed as sleg gedoen. “Hoekom het Hy my nou met beroerte gestraf?”

Dit het my seergemaak.

Die gesprek het my die geleentheid gegee om Kittie te vertel hoe ek haar onthou: waardig en geloofwaardig. Reguit en eerlik. Altyd ‘n dame. Sy het dankie gesê, maar in hoe ‘n mate sy dit ingeneem het, sal ek nie kan sê nie, want feilik dadelik daarna het sy gesê dat sy nie verder kan praat nie. Haar rede was dat die motor wat sy bestel het om haar van die werk af huis toe te neem, opgedaag het.

Dit was weer seer.

Die een kenmerk van Kittie wat vir my sterk uitstaan, is dat sy nooit op iemand neergesien het nie. ‘n Junior of ‘n groot baas het sy dieselfde behandel. Dis die les wat ek by haar geleer het.

PIET EBERSÓHN skryf: “Kittie was seer seker die liefdevolste van al die koerantmense wat ek in my lang loopbaan raakgeloop het,” sê Koos Botha Donderdag by Kittie Vermaak se begrafnisdiens in Putneyweg, Brixton, ‘n hanetreetjie van waar sy ‘n groot deel van haar lewe gewoon het.

Omdat dit die allesoorheersende nagedagtenis is wat almal van Kittie oorhou, is dit dalk nodig om ook hierdie merkwaardige vrou se stille daadkrag in herinnering te roep. Die feit dat sy soveel jare lank onselfsugtig na haar bejaarde moeder omgesien het, onderstreep nie net haar liefde in onuitputlike maat nie, maar getuig ook van die innerlike staal waarmee sy ryklik toebedeel is.

In haar werkkring sal sy veral onthou word vir die fut en ywer waarmee onder meer sy en wyle Hermiena Oberholzer die Perskor-grootkoppe aangedurf het om ‘n beter bedeling vir vroue binne hierdie manlike-chauvinistiese milieu te beding. Jonger geslagte sal hul kwalik kan indink dat daar ‘n tyd was – en ook nie so lank gelede nie – dat vroue van pensioenefondse uitgesluit was “omdat hul mans eendag vir hulle sal sorg”. Kittie het dit eenvoudig nie aanvaar nie.

Nog ‘n plek waar haar dryfkrag uiting gevind het, was in die verbruikersjoernalistiek. Toe Gerhard Burger in die jare negenting daarna gestreef het dat Die Transvaler ‘n sterker rol in die verbruikerswese moet speel, was Kittie een van die staatmakers wat gehelp het dat DT deur die destydse Verbruikersraad vir sy bydrae hiertoe vereer is. Knoeiers het tevergeefs probeer om haar met ‘n kluitjie in die riet te stuur in haar stryd om ‘n beter transaksie vir die verbruiker te help skep.

Op ‘n ander noot herinner ek my ook die opgewonde geesdrif waarmee sy jaarliks na die Perskor-reünie uitgesien het. Behalwe die laaste twee, na haar beroerte, het sy dit nooit misgeloop nie. En waar ander gekla het oor die afstand na Zoetendal by Pelindaba, was dit vir haar “ons stedelinge se alte skaars uitstappie veld toe”.

WILLIE BUYS skryf: So word daar steeds in ons woud gekap, met verwysing na die afsterwe van Kittie Vermaak. Volgens my beperkte ondervinding van haar was sy 'n baie hoflike, knap mens en joernalis. Ons was op goeie voet, veral nadat ek haar ook Kit Kat begin noem het na aanleiding van my oorlede broer Tom, toentertyd nuusredakteur van Die Vaderland, se troetelnaampie vir haar.

Ek het Kittie eintlik net kollegiaal geken, maar ek kan darem spog dat ek 'n dansie, soos in voeteskuifel/skoffel, met haar ingekry het. Uit die mottegif op die rakke van my stowwerige geheue kom die herinnering dat ons eens saam was op 'n geleentheid na die destydse Rhodesië, sy en 'n kollega namens Die Vaderland en ek en kollega Joe van Buuren namens Die Transvaler.

Na afloop van 'n vol dag se afsprake wat ons gasheer vir ons gereël het, was daar die aand 'n swierige ete en gedansery. Omdat ons van die min Afrikaanses teenwoordig was, het ons saamgekoek, waaruit die dansery voortgespruit het. Moes nogal koddig gelyk het: Kittie was 'n langerige, slanke vrou en ek (én Napoleon Boneparte) maar aan die korterige kant wat strompel/struikel die voete probeer ritme gee het. Soos oorlede Douglas Jones altyd gesê het: 'To absent friends!'

MARLENE KROMBERG het geskryf Kittie se dood “was vir my 'n groot skok en baie hartseer. Ons het 'n.l.-a-a-a-ng pad saam geloop, van die laat 50's af en so 'n vriendskap met so 'n besondere mens is iets baie kosbaar.”

PEET SIMONIS: Kitta was ‘n dierbare mens en kind van die Here.

EMERENTIA HUTTEN-BURGER (regs):  “Sy was so goed vir my toe ek as jong teater-resensent begin werk het by Die Vaderland - onthou haar met deernis. Rus in Vrede!”  

JUDY KERN, (vroeër Naudé) eks-Transvaler het geskryf Kittie was vir haar 'n rolmodel.  


JOE VAN BUUREN skryf: Ek het met leedwese van Kittie Vermaak se dood verneem. Kittie en my ma het as tienderarige meisies saam gewerk op die skakelbord van een van die groot afdelingswinkels in Johannesburg se middestad – Anstey’s of Stuttaford’s, of een van daai plekke.
Daarna het my ma in die huwelik getree en kinders grootgemaak, onderwyl Kittie haar in die koerantwese begewe het.

Sover my kennis strek, was hulle nooit weer daarna in verbinding met mekaar nie .Hoe Kittie geweet het die meisie wat sy as Joan Henning geken het, later Joan van Buuren geword het en dat ek haar seun was, begryp ek nie.

Maar sy het tog geweet, en ofskoon ons nooit by dieselfde koerant gewerk het nie, het sy met die jaarlikse Perskor-reunies altyd kom verneem hoe dit met my gaan.

Ons neig maar om in die daaglikse oorlewingstryd verstrengel te raak, en ek is nou bitter spyt dat ek nooit Kittie en my ma breedvoerig oor daai tyd uitgevra het nie.

Die Vaderland-hoofredaksie van 1968
Voor: Hermie Hendriks (assistant-hoofredakteur), Len Cilliers (assistant-hoofredakteur), Kittie Vermaak (vroueredaktrise); A. M. van Schoor (hoofredakteur), Joan Snyman (redaksie-sekretaresse), Sarel van der Walt (nuusredakteur). 
Agter: Gert Kotzé (gewese sportredakteur), Thys Human (hoofverslaggewer), André Verster (assistant-nuusredakteur), Frans du Toit (assistant-nuusredakteur), Stoffel Mynhardt (hoof-subredakteur) en Johan Snyman (buitelandse nuusredakteur).