Dit is nou maar so dat byna elke storie as ’n soort van “geheuekatalisator” dien wat latente stories weer helder voor die gees roep. Sit dié belewenisse
tog op papier en stuur dit vir K’rant.
Drukwerk eerste
Andries Botha wyt die ondergang van koerante in eie kring daaraan dat die Nasionale Pers van destyds eers koerante uitgegee het en dan drukwerk gedoen het. By Perskor was dit andersom. Ek kan ‘n voorbeeld aanbied van die uitwerking wat dit soms had.
Koos Buitendag |
Vervolgens bel die redakteur, Gerhard Burger. Die direkteur van onderwys, dr. P. H. Bredenkamp het grootbaas Koos Buitendag gebel om hom daaraan te herinner dat Perskor reuse-drukkontrakte met die department gehad het en dat dit in die gedrang kan kom as Transvaler met die storie volhard. Oom Koos het vir Gerhard gebel en dit was die einde van die storie!
Van die skakelbeampte is niks gehoor nie.
President-hotel
President-hotel |
Die media was goed verteenwoordig en van die kant van die Engelse pers was daar nogal ‘n paar senior manne. Die skok kom toe die koerantlui naderstaan met die aanvang van die verrrigtinge. Waar is die perstafel? Nee, seg die skakelbeampte, julle kan sommer teen die muur staan en notas neem. Nee, daar is nie kos vir julle nie.
Sowat van opgeruk het jy koerantmanne selde gesien. Daar en dan is gekoukus en besluit almal stap soos een man uit die verrigtinge. Die skakelbeampte het geskarrel en gee die pers toe in ‘n restaurant kos. Maar daar is steeds net staanplek vir hulle om na die toesprake in die onthaalsaal te luister en hulle loop toe in elk geval.
Almal het by die sensuur-ooreenkoms gehou – behalwe The Citizen. Dié het die volgende dag ‘n prominente foto van die viering geplaas.
Toe die rol van staatsgeld in die stigting van TC later aan die dag kom, was ek oortuig dat dit nie vir almal in die redaksie so ‘n verrassing was soos wat hulle laat blyk het nie. Bogenoemde gedienstigheid het in die lig hiervan eenvoudig té verdag voorgekom.
Polisie red verdagte
Ona Viljoen skryf van die nagkantoor wat nie Willem de Klerk se herverwelkoming by DT saam kon vier nie. Daar was darem nog ‘n klompie bittereinders op die toeneel toe van ons nagkantoormense daar aangekom het om die partytjie tot sy logiese konklusie te voer. Dat ek vroeër die dag my motor met die sleutel binne-in toegesluit het, was ook nie ‘n struikelblok nie.
Daar was selfs ‘n paar vrywillige helpers toe ek uiteindelik hier teen drieuur die more se kant die geslote motor aangedurf het – sonder sukses.
Op die koop toe stop ‘n polisiepatrollie pure suspisie, geel vangwa en al, langs ons en wil streng weet wat ons aanvang. Ek verduidelik my penarie baie beleef. Staan opsy, beduie die senior konstabel, en voor jy kan sê “John Vorsterplein” is die motor oop.
In my oorstelpte dankbaarheid belowe ek die man hy kan die volgende dag vir hom ‘n bottel brandewyn kom haal. Gelukkig maak ek voorsiening, want hy stap jou wrintiewaar klokslag vieruur die volgende middag die nagkantoor binne op soek na my.
Dalk het ek my dit verbeel, maar ek kon sweer my kollegas se blikke van verbasing toe die diender op my toeslaan, het plek gemaak vir blikke van verwyt toe hy met die bottel die kantoor uitstap.
Benoude skeidsregters
Willie Buys verwys na ‘n debakel met ‘n anderkleurige skeidsregter en ek dink aan my dae by Perskor se Pretoriase weekblad, Metro. Anderkleurige skeidsregters was destyds nog ‘n nuutjie.
Ek moes verslag doen oor die Saterdag se Carltonrugby en dit was ‘n redelike vol program. Op die D-veld anderkant die bloekoms het Pietersburg teen die een of ander span gespeel en ek kon nie daar uitkom nie. Ek moes maar ná die eindfluitjie die telling en puntemakers by die skeidsregter kry.
Pietersburg het slae gekry en was in die proses sommer lekker die joos in vir die anderkleurige skeidsregter. Ek wou nog met hom gesels, toe roep hy in die verbygaan: “Oom, kom ons praat liewer in die kleedkamer.”
Ek was nooit juis om my vaart bekend nie, maar hy was lánk voor my by die kleedkamer.
Danie Dinamiet
Philip Deetlefs verwys na die krygshaftige kroegman Danie van Vegkop. Danie se jonger broer het ook soms as kroegman uitgehelp, en hul pa was een van die “regulars” soos ons hulle op Engels genoem het. Hulle name het my ontgaan, maar soos Philip gesê het, was Danie nie groot nie. Hy was wel die grootste van die drie.
Ek was nie by nie, en kan nie vir die waarheid instaan nie, maar dit is destyds vir ‘n feit vertel dat die drietal hulle op ‘n dag ná ‘n krieketwedstryd op die Wanderers die onmin van die munisipale verkeersmense op die hals gehaal het. Die berig wou dit hê dat dié moeilike musketiers daardie dag ‘n sewetal spietkops op hul herrie gegee het.
(Terloops, onthou julle nog dat as DT destyds na ‘n “padvalk” verwys het, al wat koerantverkoper die volgende dag uit weerwraak van die straat gehaal is? Deesdae sien ek die woord word gereeld gebruik – sonder nadelige gevolge. Seker oor die spietkops nie meer Afrikaans verstaan nie.)
‘n Grap op sy tyd
Baram-kibboets |
In my vertalerdae by DT vorder ek toe darem sover dat ek begin vullers sub en koppe daarvoor skryf. Die subs keur dit steeds finaal goed.
Op ‘n dag is daar toe ‘n vuller oor ’n mortieraanval op die Israelse dorpe Baram. Dis toe net waar ek ongevraag aan die jeuk gaan en grappenderwys – of so dink ek – dié kop neerpen: Bam-Bam Baram. Die subs sal dit mos uitgooi.
Wit om die kuwe het ek die volgende oggend die vuller, kop en al, in DT aangestaar. Die eersvolgende paar dae het langsaam verby gesleep, maar gelukkig het niemand ooit ‘n word daaroor gerep nie. Maar van my kant af was dit ‘n laaste gekskeer met kopie.