Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.9.12

Herinneringe aan my jaar (net een) by Die Transvaler

ANNELIZE SLABBERT skryf: My eerste Desember by Die Transvaler onthou ek met gemengde gevoelens. Pas getroud, pas afgestudeer en pas aangestel danksy ‘n vriendelike woord deur ’n familied in dr Carel Nöffke se oor. Rou en naïef idealisties.

Die eerste skok was Ina Smith (toe Botha) se ontnugterende waarskuwing dat verslaggewers Sondae werk. En tot donker wanneer dit die sub behaag. Terwyl ek die onbehaaglike vooruitsig van Sondae in die muwwe
kantore in Aucklandpark bedink het, was my eerste sending op hande: die ruimteman, Neil Armstrong, se aankoms op die Lughawe (toe nog) Jan Smuts vir sy SA besoek.

Langs my in die gehawende Perskor-Peugeot was niemand anders nie as die legendariese Rykie van Reenen. Die fotograaf was Wessel Oosthuizen, meen ek. Maar om saam met een van die voorste joernaliste van alle tye ’n geskiedkundige mens soos Neil Armstrong in een dag van naderby te beleef, sou vir my ’n dekades lange verslawing aan nuus en die oordra daarvan begin.

Rykie van Reenen
Met die terugry ná die neem van die geykte foto van die held se geskoeide voet op sy gesimuleerde “eerste tree vir die mensdom” het me Van Reenen my goedig verwyt: “Me Slabbert, ek het nie jou vrae aan die man gehoor nie?”

Synde Desember, met die feestyd op hande, het nuusredakteur Willie Buys, dit goed gedink om my een oggend te stuur om ’n briewebesteller in Parksig op sy roete te vergesel. Met hierdie eerste kennismaking van voetslaan vir ’n storie het die voorreg om mense uit alle vlakke van die samelewing te ontmoet en hul stories te vertel my oorweldig. Dis steeds ’n voorreg en een wat ek baie mis.

Ona Viljoen
 Philippa 
Breytenbach
Vir ’n beskermde kind uit Potch was die koerantwêreld met tye nogal rof. Ona Viljoen was ’n trooster, maar haar (eks)-man, Dave, ’n verskrikker. So ook die dame van die kunswêreld, me Philippa Breytenbach, wat al haar speelgoed uit haar kantoor gegooi het omdat die stomme Hermie Hendriks my op ’n Sondagmiddag gestuur het om daardie belangrike onderhoud met skrywer Chris Barnard te voer ná hy vir “Mahala” die Hertzog-prys ontvang het. Hierdie kennismaking met die geagte skrywer was ook die vonk vir my skuif na eertydse Nasionale Pers se Huisgenoot ná ’n enkele jaar by Perskor. (Dis nie wat jy weet nie, suster, dis wie jy ken!)


Maar nie voor ’n bevrore hoender my en Ina Smith in die paadjies laat rol het met ons grappies oor die gewer van al die goeie dinge, die Perskor-hoofbestuur, nie. Die koppe wat moes koes vir die hoenderkartetse het ons sterk herinner aan hoe koppe ewe vinnig kon wegdraai na ongeurige kartetse in die hysbak.

Die jare sewentig was bekend vir politici en kerklui wat breedsprakig oor die lyflike kon oordeel. Gert Beetge het gereken die droogte is aan vrouens se kort rokkies te wyte, en het biddae versoek (vir reën, nie vir nog korter rokkies nie.) En dr Colijn, rus sy siel, maar ek onthou nie sy voornaam nie, het gesorg vir my enigste plakkaat-storie. En ook net oor Willie Buys gereken het die volk sal dit geniet. Dr Colijn wou dit hê dat diesulkes wat voorbehoedmiddels sluk om die lyflike sonder kommer van ’n groter nageslag te geniet, hul inderdaad aan “hoerery” skuldig maak. Feitlik had ek geen idee gehad wat “hoerery” behels nie, net dat dit iets is wat meisies van Potch nie doen nie.

Van Die Transvaler het my pad deur Huisgenoot na Beeld en later Finansies & Tegniek geloop. Sou ek my lewe oor hê, sou ek geen ander beroep wou volg nie. My enigste berou is dat ek nie my kinders en my man aan konstruktiewe verwaarlosing oorgegee het nie en volstoom my energie aan die stimulasie van die joernalistiek gewy het. Op meer as sestig jaar oud is dit steeds deel van my hartklop.