Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.9.12

As Essie (ongemaklik) profeteer

Sandy MacDonald skryf: Met verwysing na Johan van Wyk se staaltjie "Goeiemôre, meneer" (klik hier) oor hom en Johan (Essie) Esterhuizen in K'rant van 29 Augustus, moet ek darem 'n ietsie oor Essie oorvertel.
Hy was 'n kollega met wie dit die grootste plesier was om saam te werk. Nie net vir sy droë humorsin nie, maar ook vir sy werkywer en sy liefde en kennis van sy vak. Essie was (is) 'n krieketkenner van formaat, soos wat die toekenning van Krieket Suid-Afrika aan hom ná sy vroeë aftrede getuig.


Johan Esterhuizen
 'n Paar jaar voor dié ontydige aftrede lewer Essie kopie vir 'n feature op een van Sport-Rapport se binneblaaie. Dit was die uwe se voorreg en plesier om dié blad op te maak en koppe te skryf. Allan Donald was toe lankal nie meer die Wit Blits van ouds nie en Essie stel sy lesers voor aan iemand van wie niemand nog gehoor het nie. So 'n skraal, seningrige seuntjie. 'Hier is hy, SA krieket se volgende groot wapen!' laat waai ek en Van Wyk met een van die opskrifte, terwyl Essie effe ongemaklik toekyk.

Met 'n "Nee, maar dan is dit reg, manne", het hy sy reputasie op die spel geplaas. Die res is geskiedenis. Die skraal seuntjie was ene Dale Steyn, wat later, met die bynaam Phalaborwa Express, die wêreld se top-bouler, geword het.